Wanneer mense Openbaring oopslaan, wil hulle meestal nuuskierig meer weet oor die voorspellinge daarin.
Wie, is die mees algemene vraag, is die 666? Wie is die Antichris, wanneer gaan hy kom en wat gaan hy alles aanvang? Nuuskierig bedink hulle al die bose mense en dinge om hulle en in die wêreld wat dalk die Antichris kan wees. Ywerig soek lesers na tekens hoe om die Antichris te verstaan.
Openbaring mag nie as ‘n boek gelees word wat die sterre voorspel of wat fortuin vertel nie. Wanneer ‘n mens byvoorbeeld die sewe briewe lees, is daar niks te sien van enige voorspellings of berekeninge nie. Die eerste brief wat aan die gemeente in Efese gerig is, sê nie dat die gemeente hulle sommetjies oor die Antichris en die einde moet sit en maak nie.
Op die oog af, voorts, is dit ‘n pragtige brief. Kyk hoe mooi begin dit. Dit loop oor van lof vir die gemeente: “Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding… Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie.”
Watter beter beeld kan ‘n mens kry as hierdie aanprysing van harde werk en volharding? Die gemeentelede in Efese is voorbeelde van toegewyde, oortuigde Christene. ‘n Mens sou dink daar steek niks kwaads in hulle nie. Hulle is mense wat maklik nou kan sit en uitkyk vir die Bose wat daarbuite as ‘n brullende leeu rondloop.
Maar kyk nou wat gebeur sommer net daarna: “Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het.”
‘n Mens skrik terug voor die ommekeer wat daar skielik in die brief plaasvind. Skaars kon die skrywer die gemeente in die vorige vers genoeg lof toegeswaai het, of die toon van die brief word donker. Die gemeente het God nie meer lief soos hulle aan die begin vir God liefgehad het nie. Trouens, skryf Johannes, hulle het al ver agteruitgegaan. Liefdeloosheid en verval kenmerk die lewe van gelowiges in Efese.
Skielik kom die kwaad baie naby aan die kerk. Nie die 666 is die probleem nie. Julle en die kwaad in julle is die probleem, sê die brief.
Die gemeente het so verval dat hulle eintlik niks anders as heidene geword het nie. Daarom is dit nodig dat hulle tot bekering moet kom: “Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het.”
Johannes praat hier van die kerk in Efese – hulle wat so ‘n oulike geskiedenis van bekering en volharding gehad het. Hy skryf nie oor ‘n Antichris wat die gemeente sal bedreig nie. Hy skryf in die eerste van die sewe briewe oor hul heidense toestand.
Die kerk in Efese het sy identiteit as kerk verloor. Die kwaad is nie buite die kerk nie, maar in die hart van die kerk. Johannes begin sy brief dus deur oor kerklike verval te skryf. Die bose sit in die kerk self en bring dit tot liefdeloosheid en verval.
Kan ‘n mens nou, as jy hierdie vers lees, Openbaring nog reduseer tot ‘n boek wat allerhande voorspellings oor die Antichris, die 666, wil onthul? Wil die boek ons aandag nie baie eerder op die belangrikste van belangrike sake vestig nie – ons liefdelose agteruitgang in ons verhouding met God binne die kerk – van alle plekke!
Dit situasie is so ernstig dat die gemeente gedreig word: “Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!” Hulle het al so ver verval dat God op die punt is om hulle hul plek in die teenwoordigheid van die Here te ontneem.
Die ondenkbare gebeur: God hou nie altyd die kerk in stand nie. Soms kan die kerk die ruimte van boosheid word. En dan het dit geen plek meer by God nie. Dan vind uitwissing plaas. Nie die Antichris bedreig dan die kerk nie, maar God self gryp veroordelend in.
Openbaring is ‘n boek wat gelowiges uitnooi tot diepe self-ondersoek. Lank voordat ons meer hoor van die duiwelse boosheid, die draak, die twee diere, die prostituut in Openbaring 12-19, sê God aan die begin van die boek vir die kerk self: steek jou hand in eie boesem. Ondersoek jouself. Kyk na jou soos ek jou sien – ‘n gemeente wat liefdeloos geword het en agteruitgegaan n het.
Kyk maar goed – goed. Na jouself. Na jou liefdelose, vervalle gesig.
Openbaring is vir die kerk nie ‘n lekker boek om te lees nie. Dit ontnugter die kerk want dit vertel die kerk hoe boosheid uit sy eie hart opkom….
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.