Thursday, September 09, 2010

Wanneer ‘n godsdienstige mens God nie kan vind nie. Oor die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan.


Vanoggend tydens ons bespreking van die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan (Lukas 10:25-37) het ons onder andere bewus geraak daarvan dat die gelykenis self versigtig in ‘n breë raamwerk ingebed is. Jesus vertel naamlik die gelykenis aan ‘n wetgeleerde wat vir hom vra wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry.

Dit is opvallend hoe hierdie wetgeleerde in die Nuwe Vertaling dadelik in ‘n negatiewe lig gestel word: Hy het, volgens Lukas 10:25 vir Jesus ‘n strikvraag wou stel. In die Ou Vertaling word gesê dat hy Jesus wou “versoek.”

Ons praat by die werkswinkel daaroor dat die woord vir “versoek” en vir “strikvraag” eintlik nie so ‘n negatiewe betekenis het soos wat hierdie vertalings wil suggereer nie. Dit kan doodgewoon “toets” beteken. Baie van die vertalings bied dit deesdae aan as “op die proef stel.”

Die man is nie daarop uit om Jesus te “kry” nie. Die punt is dat die man vir Jesus nader met ‘n gewigtige vraag: Want as hy vir Jesus vra na die “ewige lewe” vra hy eintlik vir Hom wat ‘n mens moet doen om in die teenwoordigheid van God te kom. Dit is ‘n boeiende vraag wat gaan om die ervaring van die goddelike.

Eintlik is die wetgeleerde gevul met verlange na God. Sy vraag is ‘n vraag na die diepste betekenis van ‘n mens se bestaan. Hoe ontdek ‘n mens die Verborgene, die Ewige dinge, die Onverganklike?

Jesus neem die man ernstig op. In die gedeelte volg dan ‘n interessante gesprek tussen Jesus en die man. Jesus is heel geduldig met hom: Hy wil hom aan die dink sit en vra hom ‘n teenvraag: “Wat sê die wet dan? Hoe lees jy?”

Die man gee dan self ‘n antwoord op sy eie vraag. En hy som die sin van die wet perfek op. Hy verstaan dat die wet om die liefde gaan. Jesus prys hom daarvoor: “Jy het reg geantwoord.” Wie die liefdeswet gehoorsaam, sal God se teenwoordigheid ervaar – “sal lewe.”

Op die manier neem die gesprek tussen Jesus en die Wetgeleerde ‘n diepsinnige wending. Hulle beide hoor dat liefde is wat werklik saak maak. Om by God te kan wees, moet 'n mens in die liefde leef.

En tog is die man nie tevrede met Jesus se antwoord nie. In vers 28 is daar ‘n sterk wending in die teks. Aan die begin van die vertelling wil die wetgeleerde Jesus toets. Jesus slaag die toets met vlieënde vaandels. Maar in vers 28 staan daar: “die man wou homself regverdig.” Nou is hy nie meer daarop uit om Jesus in te vra nie. Hierdie keer wil hy sy punt maak, sy saak stel.

Daarmee kry ‘n mens ‘n goeie insig in die man se karakter. Hy ken die wet. Hy weet van die liefde. Maar iewers haak dinge net daar vas. Hy soek om God te ervaar, maar dit gebeur nie. Vers 28 verklaar dit: die man is op homself ingestel. Sy toets van Jesus is ‘n poging van hom om beheer oor sy eie lewe te behou. Hy wou sy eie wil handhaaf.

Dus kry ons hier vraag met teenvraag en ‘n antwoord. Tydens ons werkswinkel vanoggend praat Huub Welzen van ‘n Sokratiese gesprek met die wetgeleerde. Jesus wil hom bring tot wysheid. Dit is nie ‘n harde woordewisseling nie. Jesus is eintlik die mistagoog wat die man in sy geestelike reis begelei. Maar dinge werk nie uit nie. Die man is meer in homself as in God geïnteresseerd. Hy is ingesluit in ‘n kokon van self-beskikking.

In die tweede helfte van die Lukas-gedeelte oor die Samaritaan volg daar ‘n herhaling van die patroon in die eerste gedeelte. Die man vra vir Jesus hoe moet ‘n mens “naaste”verstaan. Jesus vertel die gelykenis en vra hom dan ‘n teenvraag: Wie was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?

Albei hierdie groot dele eindig met Jesus se finale uitspraak: Doen dit en jy sal lewe (vers 28 en 37). Twee keer wil Jesus die man bring om die Verborgenheid van die Ewige Lewe te begryp.

Dit inhoud is boeiend eenvoudig: In die eerste afdeling vra Jesus hom om die liefdeswet te gehoorsaam. In die tweede afdeling vra Jesus hom om ontferming uit te leef.

Wees lief vir die Ander: vir God en vir die naaste. Ontferm jou oor jou naaste – oor hulle “wat onder die rowers verval het.” Die boodskap is helder: Kyk weg van jouself, moenie in jou veilige kokon van self-regverdiging verval nie.

Hierdie wetgeleerde is op soek na God. Hy verlang na God en Jesus sien sy verlange raak. Geduldig, “Sokraties,” wil Jesus hom bring tot die punt dat hy God in sy lewe ervaar. Terwyl hy worstel met homself, ingespin is in sy teologiese argumente, homself vasdraai in sy eie gedagtes, is Jesus presies die teenoorgestelde. Geduldig, liefdevol, aanprysend is Hy die mistagoog wat die wetgeleerde wil bring tot die oomblik van herkenning. Hy vertel selfs vir hom ‘n aangrypende verhaal wat miljoene ander mense vandag nog raak en boei. Jesus klop as te ware van alle kante aan die deur van die man se hart. En die man is horende doof vir hierdie goue stem. Uiteindelik breek sy verlange na God af teen sy eiesinnigheid.

Hy is, miskien nog tragieser as enige iets anders in hierdie verhaal, ‘n “wetgeleerde.” Hy is selfs imponerend as iemand wat die groot liefdesgeheim van die wet onmiddellik kan uitwys. Maar al sy vroomheid, selfs sy verlange na God bring hom nie uit by God nie. Hy bly soek na die Verborgenheid, na die ewige lewe.

Maar wat bring ‘n mens dan by God? Jesus gee vir die man die antwoord in die gelykenis. Die priester en Leviet, het soos die wetgeleerde (!), vroom hul geestelike weg geloop. Hulle “sien” met oop oë die slagoffer, maar vind genoeg verskonings om verby te stap. Hulle kon hulleself sekerlik regverdig in hul gebrek aan ontferming – weer eens soos die wetgeleerde.

Die Samaritaan, daarenteen, “sien” ook. Maar hy bedink nie verskonings nie. Hy het baie naby aan die slagoffer gaan kniel. En gedurigdeur bedink hy wat die Ander een nodig het en stel hy hom op die Ander een in. Nie sy eie saak nie, maar die saak van die ander is wat saak maak.

Liefde vir God is groot en mooi en pragtig. Maar liefde vir God op ‘n mens se eie voorwaardes is soos lou water wat ‘n mens laat opgooi. Dit lei tot die dood. Wat tel is of ‘n mens van jouself kan vergeet en jouself op die spel kan plaas.

Eintlik dus, gaan die gedeelte in Lukas 10:25-37 nie oor die Barmhartige Samaritaan nie. Dit gaan om ‘n godsdienstige mens wat God nie kon vind nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive