Monday, September 27, 2010

Om in die aangesig van God te leef. Ervaringe in St Pietersburg.


Ek praat vandag met kollega’s en studente in ‘n poging om die situasie hier in St Petersburg beter te verstaan.  

Op die oog af lyk die stad vir my welvarender as wat ek voorheen gedink het. Die strate is skoon. Die treine is nog dieselfde as met my vorige besoek (nog geen Gautreine nie!), maar is beslis netjieser. Daar is heelwat nuwe geboue wat intussen opgerig is. Die omgewing langs die universiteit lyk nie meer so verlate en afgerem soos voorheen nie. Die pragtige en beroemde Nevski Straat, lyk my, word elke keer net moderner en ryker. Die mense lyk vir my netjieser, al stook hulle soos skoorstene en sien jy jong mense oral met drankbottels in die strate rondhang. Ek sien ook nie meer so baie bedelaars nie.

Miskien verbeel ek my. Die studente kla nie in my gesprekke met hulle nie, maar hulle dink ook nie welvaart het toegeneem nie en hulle raak nie opgewonde oor wat hier gebeur nie. Hulle dink almal ‘n bietjie na as ek vir hulle vra hoe hulle die ekonomie ervaar. Hulle sê wel dat sommige rykes het net nog ryker geword, terwyl daar nog baie armoede oorbly. Baie duidelik is dat hulle skepties is oor die politici en die self-bevoorregting wat onder hulle plaasvind. Maar al is hulle terughoudend, kry ek nie die indruk dat dit ‘n uitsiglose situasie is nie.  

Hulle het, opvallend genoeg, nie juis ‘n slegte woord oor die kommunisme te sê nie. Ek vra hulle pertinent uit. Die meeste van hulle het groot geword in die periode na die val van die kommunisme. Kyk, vertel een vir my, ‘n mens kan eers die bydrae van die kommunisme verstaan as jy begryp hoe die tyd van die tsaars gelyk het. Die tsaar se woord was wet. Hy het nie in die opheffing van die armes belanggestel nie. Die armes het geen beskerming onder die wet gehad nie en het in misrabele omstandighede geleef. Die kommuniste, daarenteen, het ten minste beloof om vir die armes te sorg – en dit is meer as wat ‘n mens van die tsaar kan sê! En al het die kommuniste nie hul beloftes gehou nie,  en al was daar iemand soos Stalin, het hulle ten minste darem op groot skaal behuising, skole en mediese sorg gegee vir mense wat dit nooit voorheen gehad het nie en het hulle die groot diverse land bymekaar gebring deur een taal, Russies, te bevorder.  

Terwyl hulle vir my die blik op die geskiedenis gee, flits meer as een keer voor my geestesoog die tonele uit Les Miserables van Saterdagmiddag. Jean Viljean wat 19 jaar tronkstraf moes uitdien omdat hy brood vir sy suster se kinders gesteel het. Fiksie, ja, maar iewers nie heeltemal uit lyn met die ou feodale Europa in die negentiende eeu nie. Ek kan my al uit daardie opvoering en ook uit die boek voorstel hoe die kommuniste ‘n aanklank gevind het by die armes toe die opstande georgansieer is.

Ek is egter verwonderd terwyl ek na hierdie gesprekke luister. Die jong mense het nie regtig ‘n idee van die kommunisme as repressiewe sisteem nie. Hulle weet niks van die koue oorlog, die gevaar van ‘n kern-oorlog, inperking van persoonlike vryheid en massa-reglementering nie. Selfs nie die geskiedenis van vervolging van hul ouers en voorgeslagte figureer in hul beoordeling van hul geskiedenis nie.

Die ander ding wat my opval uit my gesprekke van vandag is die gebrek aan enige verhouding van die Protestante met die Russiese Ortodokse kerk.  Vanaand praat ek reguit hieroor met ‘n predikant van ‘n messiaanse gemeente in Sint Pietersburg, want ek wil weet hoe voel hulle oor Ortodokse spiritualiteit. Ek vra vir hom om vir my te verduidelik waarom raak die studente so bot as ‘n mens oor die Ortodokse kerk praat. Hy, soos die ander, huiwer nie vir ‘n oomblik nie: die Ortodokse sal met Hindoes, Jode en Moslems praat, maar hulle weier om met die nie-Ortodokse kerke in Rusland enige iets te doen te hê. Hulle het ‘n “ekumeniese” gesprek met ander godsdienste, maar het geen kontak met hul  Christelike geloofsgenote nie. Hulle is afwysend en selfs vyandig teenoor mede-Christene uit die Prostestantse tradisie.

Die Protestane self word by die Universiteit volledig ekumenies opgelei: baptiste, Lutherane, Evangeliese en charismatiese studente sit saam in die klasse. Een van die studente vertel my hoe sy familie  oor die tyd van vervolging onder die kommuniste in die tronk was. Daar het hy as Baptis met al die ander Christene uit verskillende kerke saamgebid. Hulle het nie gehuiwer om mekaar te ondersteun nie. Waarmee hy wil sê dat die konfessionele verskille op kritieke tye soos mis voor die son verdwyn het. Maar ook in hierdie nuwe tye van vryheid lyk my is die verhouding onder Protestante ongekompliseerd.  

Nie dat die studente hul identiteit as kerke prysgee nie. Ek verstom my oor die plekke waarvan die studente kom: Ukraïene, Kazakstan, Uzbekistan, Kirgistan en selfs lande noord van Siberë.  En daar is kerke van alle soorte en gesigte. Hulle werk met groot ywer in hul gemeentes.

Die studente en dosente is duidelik leergierig. Hulle sit almal in ‘n meestersprogram. Hulle reis ver om vir twee of drie weke klasse hier te kom bywoon. Hulle werk hard om hulself akademies verder te bekwaam.

Hulle het verder nou jong dosente wat doktorsgrade aan bekende universiteite begin kry. Een van hulle, my tolk, praat agt verskillende tale (o.a. Duits, Nederlands, Engels, Frans, Spaans, Portugees, Italiaans en Sweeds!) En sy Engels is vlot en uitstekend. Hierdie nuwe jong dosente begin ook, soos ons, ‘n paar jaar terug, droom van akademiese strukture waarin hulle vir hul eie studente in Russies kan oplei, boeke in Russies kan publiseer en die geskiedenis van hul Protestantse tradisie kan begin skryf vanuit hul eie perspektief. Hulle het nog nie eintlik ‘n akademiese tradisie nie. Hulle bring nog dosente in, soos vir my, wat dan deur ‘n tolk lesings lewer. Maar hulle voorsien die tyd dat hulle dit self sal doen. Ek is beïndruk.

Dit is ‘n groep mense met ideale.  

Maar as ek terugsit en dink oor die diepste indrukke wat ek oorhou, is dit die geloof wat ek by hulle opmerk. Hulle kom uit die harde praktyk van die kerklike lewe waar die meeste van hulle in klein kerkies in ‘n baie, baie groot land. Dit is nie maklik om die werk te doen nie. Hulle het nie die status van predikante in die groot gemeentes en kerke nie. Lyk vir my nie of hul gemeentelede invloedryk en van hoë status is nie. Hulle is deur ‘n geskiedenis van vervolging en verwerping. Hulle word nog steeds nie deur die grootste kerk in die land geag nie.

Maar daar is iets deurwinterds aan hulle geloof. Byvoorbeeld: ek sê vir die tolk wat 8 tale praat dat hy seker ‘n reuse salaris in die private sektor kan verdien. Hy antwoord dat hy die werk doen terwyl hy uitdruklik enige loopbaan in ‘n ander omgewing afgewys het. Hy voel God roep hom om teen ‘n klein salaris as dosent te werk. En as God vir hom die werk uitgewys het, moet hy in gehoorsaamheid dit doen.

Praat van om in die aangesig van God te leef.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive