Wednesday, December 16, 2015

Uitgenooi

Kom! Sê Jesus in Matteus 11:28 in een van die mees geliefde tekste in die Nuwe Testament.

Dit is 'n uitnodiging, wat terselfdertyd ook 'n aanmoediging en aansporing is. Dit het amper 'n bevelskarakter. Daar is byna 'n dringendheid in Jesus se woorde.

Jesus se woorde vertel van sy intense kommer oor en afkeer van wat rondom hom in die naam van godsdiens aan die gebeur is. 

Dit is 'n woord wat deurdring is van ontferming, want Jesus praat met mense wat vermoeid en belas is. En nie sommer net so in die algemeen asof dit bloot net om depressiewe toestande gaan nie.

Dit is 'n groot oomblik wat aanbreek: die woorde van Jesus nooi uit om te breek met 'n godsdiens wat 'n mens uitput, leegtap en as 'n las 'n lang skaduwee oor jou lewe laat val.

Die uitnodiging vertel van 'n pad wat in twee verdeel. 'n Mens het 'n keuse: jy kan aangaan in dieselfde rigting, die ou pad. Of jy kan afdraai, in 'n nuwe rigting.

Maar die nuwe rigting, moedig Jesus aan, eindig in rus. Dit is die pad wat uitkom by die waters waar rus is, by die groen, pastorale weivelde - daar waar die skape wei, onversteurd, gevoed, tevrede, versadig.  Daar waar 'n mens in God se onvoorwaardelike, nie-veroordelende liefde leef.

Dit is om te waag. Want deur die eeue heen was dit nog altyd so dat mense wat afgeknou word, 'n patologiese verbintenis met en afhanklikheid het van hulle afknouers.

Die ou pad is die pad van verslawing. Dit vertel juis hoe gevaarlik godsdiens kan weer. Om dit te besef, moet 'n mens Jesus se woorde in konteks lees. Net nadat Jesus hierdie uitnodiging rig, vertel Matteus hoedat sy dissipels op 'n Sondag deur die velde loop en van die koring pluk om hulle honger te stil. Vir die Fariseërs wat, opgeruk, hulle vingers swaai en vir Jesus beskuldig dat sy volgelinge die wet oortree, antwoord hy: dit kan nog erger, né? Dawid was op 'n keer so honger dat hy gewaag het om in die tempel te gaan brood vat (Mt.12:4).

Dan volg Jesus te "toepassing" : Dawid se verhaal wys dat God van mense ontferming verwag (Mt.12:7). 

Maar daar is meer: 'n Ander teks soos Lukas 11:46 kruip diep in die hart in, wanneer 'n mens dit (intertekstueel) met Matteus 11:28 verbind. Kwaai praat Jesus met die wetgeleerdes: hulle "laai ondraaglike laste op mense af." Maar dit hou nie daar op nie. Hulle "verroer geen vinger om die laste te dra nie."

Godsdiensleiers wat mense in die Naam van God belas, staan direk teenoor Jesus wat die laste afhaal.

Godsdiens sonder ontferming, godsdiens wat las in plaas van rus bring, is die teiken van die evangelies en die vyand van 'n verhouding met God.

Dit alles word nog konkreter wanneer ons opgewonde in die motor klim om te gaan uitspan na die lang jaar. Rusplek toe, vredestyd in, naby aan almal vir wie ons lief is. Só wil  godsdiens ook lyk: dit moet vermoeidheid verdryf. Die las wegneem. Opgewonde moet 'n mens daaroor wees. Met nuwe lewe en toewyding moet dit aanspoor.

As 'n mens na die lang jaar kyk, hierdie jaar van 2015, waarin ons die lelikste gesig van godsdiens gesien het, het ons die boodskap van vrede meer as ooit nodig.

Teenoor die terroriste, hulle wat dink hulle gaan die paradys binne as hulle bomme plant, maar ook teenoor die onverdraagsames, die wat veroordeel en verwerp, hulle wat 'n ondraaglike las op ander lê, hulle wat dink God staan goedgunstiglik en knik van tevredenheid wanneer hulle ander verstoot en belas, staan daar die wettelose, vriendelike, bevrydende uitnooi deur die "My" van Matteus 11:28.

Hierdie byna dringende, amper smekende "Kom" is 'n oop uitnodiging van Hom met sy ontfermende, oop hart aan almal wat deur die kerk en deur godsdiens verneder, uitgewerk en van hul menslikheid ontneem word om eerder te gaan soek na waar die rus gevind kan word. 

Δεῦτε, sê die Grieks: hierheen! Neem afskeid, waag om dapper weg te loop van die Vroom Vernietigers, van hulle in die kerk wat in die Naam van God geestelik en liggaamlik doodmaak en bloed vergiet (Lukas 11:49-50). Moenie 'n slagoffer wees van hulle wat jou verniel nie. Breek met hulle. Ook hulle wat in 2015 vroom in die kerk die liefde van God verontagsaam en die Bybel gebruik om ander se menslikheid te ontken (Lukas 11:42).

In die kerstyd herinner die woorde aan dade: want vir Jesus om só te kon uitnooi, moes hy self 'n lang reis aflê: weg van die Vaderhuis. Hy het as te ware die verlore Seun geword, so solidêr met die kwaad, om te kan wys 'n mens kan daarvan wegbreek, vry word, rus vind. Deur maar in God se ontfermende liefde in te woon. 



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive