Wednesday, January 16, 2019

Eenvoudig




In 'n klein, eintlik obskure visdammetjie by ons stilhouplek op pad na ons stranddorpie, lê hierdie waterlelie. Die dammetjie sukkel gewoonlik om aandag te kry van die reisigers in hul ywerige haas vir die uitspanplek se befaamde eetgoed. 
Maar nou, in die volsomer, is die lelie in volle bloei - genoeg om mens in jou spore te stuit. Rede vir stil gaan staan voor 'n klein kleurspel van groen, blou-pers en songeel. En ook om 'n foto te neem om te kan bly herinner. 
Dit sou net nog 'n soet, sentimentele foto van 'n mooi blom wees - behalwe as 'n mens, meditatief, van nader kyk: Die blou van die lelie se blare op die rand, trek 'n ring om die binneste hart van geel. Maar, nog fyner bekyk, heel binne, in sy middelste middel,op die fynste punt, is die kroon van die lelie, blou-getint, 'n magiese eenheid van blou en geel. Blou om geel om blou. En alles, lig, drywend, omring deur die groen van die natuur en die voedende waters. Dit alles vorm 'n ring-komposisie wat vertel van harmonie, afronding, van volheid. Dit vertel van skoonheid, die sleutel van die estetiese. 
Ek dink onwillekeuring aan Hooglied, die lieflingteks van die liefdesmistici, met sy viering van die lelie as simbool van intieme, vurige liefde gelaai met hartstog. 
Die mistieke skrywers het oor eeue heen telkens met Hooglied se passievolle, gloeiende lelie-taal ook oor hul liefdesband met die Beminde gepraat. Taal wat wys op die sin van lewe, van bestaan, van wat sorge transendeer, wat vervulling gee en wat lewe bring. 
Later sou ander, die slawe op die plantasies, verlangend, maar met vaste vertroue op 'n alternatiewe bestaan, ook met die Hooglied-taal resoneer en hul vashou aan die liefde in hul tyd van trauma en ontbering uitspel in die klassieke spiritual: "He's the lily in the valley." Liefde dra 'n mens - ten spyte van.... 
En dan is daar, heel anders, die enigmatiese, maar tog ook weer meesleurende, liriese "Lily of the Valley" van Queen. (Rede om Bohemian Rhapsody te gaan kyk...). Vreemd anders. Met so bietjie van alles, van Shakespeare en veral Balzac, maar onmiskenbaar die Hoogliedtaal oor die liefde. (Te luister en te kyk by: https://www.youtube.com/watch?v=o7K1_g31H0s). Intuïtef wéét 'n mens wat eg is, en wat nie liefde is nie. 
En mens sou nog vele ander sulke hoogs verskillende resepsies van die lelie as liefde kon lys. 
Te maklik dan sou 'n mens daardie weggesteekte opmerking oorslaan van die Prediker op die berg toe hy in sy intree-spreke die gewone volk oor die gewone, aardse, alledaagse lelie herinner het: "Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie." (Matteus 6:29). Hulle prag, sê hy toe, lê in hulle onthulling van wat die Lewe is (25!) - nie in angstighede oor wat van mens sal word nie. Wie die koninkryk, die liefde najaag, sal niks ontbeer of begeer nie. Om in die liefde te wees, bring harmonie, volheid en vervulling. Die liefde is eenvoudig genoeg.

Blog Archive