Sunday, July 05, 2020

Elsa Joubert — gedenkgeleentheid







Die afgelope week het ek my verdiep in Elsa Joubert vir my bydrae tot haar gedenkdiens. Wat 'n merkwaardige vrou en skrywer. Haar Spertyd vertel van haar laaste jare: sy was dikwels siek en boonop al hoe meer afhanklik van ander om haar te ondersteun. Maar die lydensjare is lig: wanneer sy daaroor praat is dit steeds weer om te vertel van die goeie, die boeiende, van haar naaste mense se sorg.



En dan, as slot skryf sy 'n merkwaardige verhaal oor die krag wat haar aan die gang hou en wat vir jare al in haar lewe soos 'n vuur gebrand het. Stilte - daar het sy die sin van die bestaan ontdek.



As 'n mens só gewortel word in die Onsienbare, en dit met soveel vreugde, is die noodwendige gevolg dat jy beleef hoe jy geborge is in 'n wye wêreld wat steeds weer mooi en goed is en sal bly. Wat saak maak is hierdie Skoonheid: en wat dit nog meer oorrompelend maak is dat daar soveel daarvan is. Oneindig is die mooi, die goeie. Jy is maar net 'n baie, baie klein deel daarvan. Jy is maar net 'n stofdeeltjie. Die bewussyn dat jy so klein is anker jou in 'n verrukking oor wat so eindeloos groot is. Vandaar die vreugde: uiteindelik die oorgang, die afgooi van alles wat die skoonheid steeds verduister het en nou - die total deel word van hierdie ewige krag.

Blog Archive