Tuesday, August 20, 2024

Doringkroon

 

Op 'n keer, net na haar derde groot operasie, en nie lank voor haar dood, was ek by Susan in die siekeboeg. 
Sy was baie siek. Haar liggaam was verteer, haar lyf was gedaan.

Tog het sy nog hard probeer om na my te kyk toe ek met haar praat. 

So asof sy my wou gerusstel. Asof sy wou laat weet sy is tog daar vir my, selfs as sy eintlik nie meer kon nie. 

Sy kon eintlik regtig nie.  

Ek was besig, het dit dieper en wreder in my binnenste ingedring, om haar te verloor.  

Juis, toe nog, is daar haar sagte, weerlose uitreik na my,...

Ek loop in die gang af,  oorweldig deur hierdie donker oomblik. Ek kan byna nie sien waar ek is of gaan nie. 

Voor my kom iemand aan wat my een kyk gee en stil gaan staan. Sy het besef, dadelik. 

Want sy het kort tevore self haar man na 'n lang lyding verloor. "Ek praat nog elke aand met hom", het sy my een kaar vertel toe ons oor haar verlies gesels het. 

En boonop dra sy die las van haar kind se lewe wat heeltemal uitmekaar val. Dit moet erger as haar man se dood wees, het ek soms gedink, want sy staan hulpeloos voor die las wat sy moet dra oor wat met die kind gebeur. 

Dis 'n doringkroon wat sy dra. Elke dag se rou wonde. 

Sy trek my woordeloos nader en slaan haar arms om my. Sy hou my vas. Niks getroos nie. Nie maklike woorde nie. 

Sy sê niks nie. Sy weet. En sy wil net probeer troos. 

Sy help ander om orent te bly onder die aanslag. Want sy weet. 

In die gang in daardie helder, sonnige winteroggend omhels sy my. 'n Eenvoudige daad van ontferming. 

Dit was, besef ek vandag, 'n aanraking wat eintlik gekom het van die Een wat ook so 'n kroon gedra het. En Hy het dit uit pure liefde gedoen. Met min woorde, die allerminste gepraat, het Hy die mens in hul lydingstog omhels, en saamgeneem paradys toe. 

Daar in die gang het sy my vertel van die Groter Liefde wat by ons bly - selfs op die mees onverwagte oomblik. 

Daar is soveel ontsagwekkendheid aan die belangrikste boodskap van die evangelie - dat God liefde is. En dat ons in die liefde inwoon. En dat ons vertrou word om instrumente van daardie liefde in ander se lewens te word. 




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive