Saturday, September 21, 2024

Nagtelike vrede

https://www.afrikaans.us/afrikaans/culture/op-afrikaans/musiek/choirs/oos-kaapse-kinderkoor/somerkersfees/   Gesing deur die Oos-Kaapse kinderkoor. 

Die onlangse Kyknet program oor Koos du Plessis was boeiend, ryk aan insig en by tye diep ontroerend. 

Koos, het meer as een van die sprekers beklemtoon, se werk is tydloos in die manier waarop dit verby alle oppervlakkighede die diepere uitbeeld en vier. Hy dring deur tot wat werklik saak maak. om op die manier te skryf oor dit wat spreek tot die mens van alle tye. 

Ek onthou die verwondering in my toe ek vir die eerste keer die magiese "Kinders van die Wind" gehoor het. En telkens weer bly dit ‘n lied wat iets in mens raak en jou verwonderd laat. 

Reeds daarom het sy digkuns ‘n mistieke trek en krag.


Die besondere program het in detail ingegaan op sy besondere digterskap en musikaliteit. 


Maar dit is veral ook die inhoud van sy werk wat diepte het. 


Soos byvoorbeeld die boeiende eerste twee verse van sy Somerkersfees wat in die Liedboek opgeneem is. (Die derde vers is later bygevoeg en wyk af van die vorige twee verse met sy invoeging van 'n nuwe tema). 

 

Mens resoneer met die lied. Dit sing immers van ‘n Afrika kersfees. Dit is ‘n gebed vir die Suiderkruis-land, in die somertyd. Dit leef in ons tyd en onder ons. 

 

Dis nie net die Afrika-somer wat tref nie. Die lied is veral deurtrek met ‘n diep verlange na vrede. 


Kerstyd is die tyd van vrede. Só was dit in bybelse tye. So word dit in Koos se kerslied uitgebeeld. 


Die lied praat oor iets wat diep in ons leef, van ons smagtinge na 'n einde van die geweld van elke dag en alle tye. 

 

Veel word deur sommige mense gemaak van Koos se melankolie, selfs by tye beskryf as depressie. Miskien is dit wel daar. Maar sy “melankolie” het in hierdie lied 'n dieper betekenis. Dit is eerder 'n biddende verlange wat diep in ons menslike psige ingebed is en wat smag na dit wat ons tot rus kan bring.  

Dit is 'n vreugdevolle, blye lied. Tog gaan dit in die lied oor ‘n anderse vrede as bloot net die afwesigheid van geweld en geraas. Vrede gaan nie oor kerspresente, jolighede en partytjie-hou nie. 


Heel vooraan in die lied word die toon uitdruklik uitgewerk: dit is 'n "stille nag van vrede." Dit kom in die donkerste nag, as alles stil geword het. Dit is vrede in die "nagtelike swye." 


Mens kan maklik die eintlike diepte van die kerstyd verslaap... 


En nou kom die lied in die kerstyd terug, as 'n ou, ou verhaal. Lank verwag, vertroetel in menseharte oor eeue heen as die terugkeer van die verlore paradys, wanneer die skepping in volle harmonie en skoonheid weer sal sing van die goedheid van alles. 


Hemel op aarde en aarde verbind met die hemel. Vrede op aarde. Lof in die hoogste hemele.  

 

Dis die “ou verhaal”, die “stemme uit die ver verlede” wat die diepere betekenis onderstreep. Selfs in die afgeleë plekke, selfs in die sterrevelde, weg van woelige stede, word die verlore vrede weer sigbaar, weer hoorbaar. 


Nietemin is die toon ook ingehoue, sag, want byna geruisloos, stilweg is die boodskap te hore, "ruis" dit oor die aarde heen. Dit is aards, mens sien en hoor daarvan, maar terselfdertyd ook stil, broos, breekbaar.

 

Tog is dit  terselfdertyd ook bo-aards, ongewoon. Engele praat daaroor. Vanuit die hoogste perspektief gesien, is dit ‘n tyd van welbehae. Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy 'n welbehae het. (Lukas 2:14) 


Hierdie keer, op kersdag, is dinge anders as in die ou verlede. Die somerlied sing bly van 'n “welkom” tyd. Wat mens afbreek, word as 'n geskenk teruggegee, ‘n gawe wat die tye van geweld afbreek. Wat mense lank verwag het – in die ou, ou tye het uiteindelik begin deurbreek - die vrede, in verre tye aangekondig en verwag, is hier: dit is tyd vir die blye groet aan die goue, nuwe daeraad. Mens sien iets van die ánder aarde, die paradysplek wat in die Liefdestyd vir die mens terug gegee is. 


Maar nog het al hierdie gedagtes nie die laatste sê nie. Die lied soos Koos dit geskryf het, eindig op 'n hoogtepunt met die lofsang: gee aan God die eer. Van buite af, word mense herinner aan die mistieke gawe van ‘n vrede wat in die donkerste nag, in dorre onherbergsaamheid in harte verseël word. 


Die hart word dankbaar, bly omhoog opgetel om oop te wees vir die groot gawe van goedheid. En die raaiselagtige skoonheid van die gawe bring ontsag, maak mens tot verwondering voor die Gewer van die goeie, voor dit wat die mens sal wees - elke keer as die welkom gawe as 'n werklikheid ervaar en omhels word. Welkom, o vredestyd, hier by ons.

Dit is dáár, te sien en te hoor: in die stille nag. In die eenvoud van die sterrevelde. 

Daarom die fyn luister, die aandagtige oorgawe, na die ou ou tyding wat in die helder somertyd by ons kom woon het. 


Op dié manier gesien, word elke dag 'n kerstyd. In die onrustigheid van ons daaglikse bestaan, in die worsteling om sin in die donker nag van ons lydensweg, kom daar wel 'n oomblik wat ons vrede verwelkom: Wanneer ons verlang na 'n helder somertyd is dit immers omdat ons vashou daaraan dat God by ons in ons verlange is. 


In dié tyd van alleenheid, in die donker nag van die gees, word ons van alles gestroop, van alle oppervlakkighede bevry om alleen maar rus te vind in die onverwoesbare rus wat alleen Hy kan gee. 


Te midde van ons smagtinge, kom daar 'n stil, bros welkomsgroet. 


Dis 'n wankelrige vashou aan die ou, ou tyding uit die ou verlede. 

Hier is die woorde: 

Welkom, o stille nag van vrede onder die Suiderkruis

Wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis

Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer
Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer

Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal
Kyk, selfs die nagtelike swye, vertel die ou verhaal

Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer
Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer

Elders skryf Koos ‘n lied wat die mistieke, brose aanbreek van die vredestyd vier: 


Wanneer die wêreld stil en kalm is,
Wanneer die maan oor die heuwels wag,
En die sterre blink met ’n rustige glans,

In die stilte van die nag,
Wanneer die wind oor die veld gaan,
Wanneer die skaduwees lank en magtig raak,
En die aarde haar geheimenisse onthul,

In die stilte van die nag
Leker die maanlig oor die bos,
Wanneer die stilte sag en sag
Die rustige ritme van die donker omarm.

In die stilte van die nag
Voel jy die warmte van die aarde,
Die kalmte wat die siel verlig,
En die gevoel van vrede en rus.

In die stilte van die nag
Is daar geen angs, geen vrees,
Net die fluistering van die natuur,
En die belofte van die dag wat sal kom.

 

 

Blog Archive