Monday, October 08, 2007

Godsdiens, rugby, Fiji en die Here

Vloek en bid uit een mond?
Ek kyk die wêreldbeker rugbywedstryd tussen Fiji en Suid-Afrika en die spanning loop hoog. Partykeer moet ek diep asemhaal om kalm te bly. Dit is taai manne. Hulle weet van fisieke spel. Hulle kou met oorgawe harde bene. Hier is nie die plek of die tyd vir kinderspeletjies nie. Die groot manne kry kans: oor die aardbol in miljoene huise sit families vasgevang. Hier word lewenswaarhede ook deur sport uitgespel en uitgespeel.
Des te meer is ek by die rugby betrokke, want voor die tyd lees ek hoe godsdienstig hulle is. Hulle vertrou na Bo. Tydens die wedstryd kyk hulle Boontoe as hulle drieë druk en wys erkentlik die vinger daarby. Mooi, dink ek, ‘n getuienis wat hulle lewer.
Maar hulle vat ook lelik hoog. Gevaarlike vatte wat hul teenstanders groot skade kan aandoen. Gelukkig vir hulle sien die skeidsregter nie hul oortredings raak nie (of wil dit nie raaksien nie) (dink hulle Iemand daarbo sien dit nie raak nie?). Teen die einde van die wedstryd as dit taai raak en die Bokke op hulle lyn boer, trek hulle los en slaan wild vuis. Dit vloek links en regs dat my satelliet-sein amper oppak. Dit is sulke taai skote wat wêreldwyd gehoor word. My kinders vertel daarna dat hulle oor die radio die gekruide taal duidelik kon hoor.
En toe? Na die wedstryd sak hulle in ‘n kringetjie en bid lank saam met mekaar. Miskien het hulle gebid dat die Here hulle hul vloekery en gevaarlike spel vergewe. Hopelik. Want anders kom Jesus se woord helder na my oor: mens kan nie God loof en vloek uit een mond nie. Dinge werk nie so daar waar iemand die Here lief het nie. Jou lof aan God kan nie, kan nie met gekruide taal meng nie. Efesiërs 4:29 maak dit tog baie duidelik: daar staan dat vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie – en daardie nooit sluit sekerlik ook die rugbyveld in.
Ag, dis sport en moenie so preuts wees nie. Hoor ek. Dus deur ons sport skep ons ‘n nuwe werklikheid van vloek en geweld? As ons dan dink die Here sal sulke woordjies en sulke speletjies oorsien, gaan ons seker tog nie wegkom van ons kinders wat dit hoor en sien nie. En dan kla ons oor geweld in ons skole en in ons land? Ons moet meer die Bergrede lees: ‘n mens sê mos nie eers Raka vir ander nie, los maar om iemand anders te moor.
Taai rugby, harde rugby, slim rugby, ja seker. Maar altyd skoon rugby. Na die wedstryd wil ons tog met ‘n rein gemoed voor die Here neerkniel en die Here dank vir ‘n wonderlike, wêreldwye geleentheid om nie net deur ons vroom gebede nie, maar deur ons skoon spel en ons mond ook ons geloof te kon uitlewe. Per slot van rekening word ons aan ons dade geken. 1 Johannes 2:4 kry nuwe betekenis in die lig van hierdie kwarteindrondte in die wêreldbeker.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive