Elke keer weer sê ons vir mekaar wanneer ons trek: Ek is verstom as ek kyk hoeveel ek oor die jare opgegaar het. Dit lê in ‘n kas rond, ongebruik en nutteloos. Die beste wat ons met die meeste daarvan kan doen is om dit weg te smyt. Niemand anders sal dit wil gebruik nie.
‘n Mens sal hieroor allerhande filosofiese dinge kan skryf – wat vir die een nutteloos is, is vir die ander een rasend interessant. Die vrou wat haar hele lewe in Stellenbosch geslyt het, sê vir my sy het haar album vol foto’s van allerhande ou Stellenbosse plekke weggegooi. Ek voel hoe ‘n desperaatheid oor my kom: hoeveel ander mense sou die plekke wou sien. Dit moes aan die Heemkring geskenk gewees het, waar hulle ou Stellenbosse dokumente bewaar.
Maar hier is ‘n ander punt te maak: Ons lewens is vol onnodighede. Ons vergaar dinge waarsonder ons heeltemal goed kan klaar kom.
Ons is nie heeltemal onbewus hiervan nie: ons “stoor” soms dinge. In die garage, in die boonste kas, in die stoepkamer. Ons maak nuwe spasie oop. Maar eintlik verskuif ons net die probleem. Ons het, dankbaar, darem weer ‘n oop plekkie om iets anders in te sit. Ander weer, wat nie gaarders is nie, is smyters. Hulle gooi teen ‘n goeie en vinnig pas weg. Maar hulle is soms ook die mense wat die vinnigste versamel. Hulle verbruikersdrif dryf hulle. Gou-gou is die nuwe spasie deur ‘n nuwe aankoopsel volgemaak.
Ek het dikwels gewonder wat sou gebeur as my huis in die brand slaan en ek moet vinnig ‘n paar dinge gryp. Dit sal sekerlik nie my tandeborsel, hemde, broeke, draftekkies of muurbalraket wees nie. Hulle is nodig of miskien selfs duur, maar vervangbaar. Maar ek sal ophardloop na my studeerkamer en my rekenaar gryp. Nie oor al my skryfsels nie. Maar daar is kosbare persoonlike eposse en foto’s op. En dan sal ek hardloop om my Buchner, Scully en Louis Janse van Vuuren skilderye te gryp. Ek sal so in die hardloop baie seker maak dat ek my ma se geraamde borduurwerkie wat sy in ‘n koue winter in Hanover op my oom se plaas uit totale verveling en wat sy sentimenteel agterop in potlood met haar sterk handskrif bemaak het aan al die geslagte van haar naamgenote, gryp. Al het die potlood al begin vergaan, die papier begin skeur en die wit raam vlekke begin wys. Miskien, as ek sien ek gaan deur die vlamme heen nie die voordeur haal as ek die skilderye ook nog moet afhaal nie, sal ek net haar handewerk gryp. Ek sal darem nog, so in ‘n laaste oomblik van wik en mik, darem die Van Vuuren oorweeg.
So werk sentimente. Dinge waaraan ons tot op die laaste oomblik vashou omdat dit vir ons kosbaar is en ryk gedagtes by ons losmaak.
Eintlik het ek selfs die paar dinge wat ek sou wou red nie regtig nodig om te oorleef nie.
Ek lees hierdie week oor ‘n oefening in opruiming. Ons lewe is gelaai met afsprake, met aktiwiteite. Ons huise is vol besittings. Ons wil inlaai en volmaak. Ons is so besig om te verbruik, dat ons selfs soms tyd in ruim vir onbeplande gebeure. Ons beplan vir die onbeplanbare. Sulke mens is wys, word gesê, want hulle beplanning om dan by die familie te wees, om ‘n boek te lees, om tyd aan hulleself te spandeer, word nie in gedrang gebring nie.
En dan die ondenkbare: gereeld sit ons af om te gaan stap. Om darem “uit die huis” te kom. Om in die “oop natuur” te wees. Om net weer tot onsself te kom. Ons vol gepakte plekke en ons besige skedule’s word iewers verstikkend en beroof ons van geestelike suurstof.
In groot wêreldgodsdienste skep mense oop ruimtes. Op die sabbat breek Joodse gelowiges met die week se aktiwiteite. In die Christendom is die Sondag die “ander,” “sewende” dag, die “rusdag.” Vrydae is vir Islam die dag van Moskee-besoek. Dis die lekker om op hierdie dag net te kan rus en niks te doen nie. Tog, dit is die “heilige” dae, waar mense die “onheilighede” afskud, die “gewone” ontglip en in die sakrale plekke en geleenthede weer inspirasie en motivering vind. En daardie inspirasie kom van buite, van anderkant die normale, die gewone, die alledaagse. Ons het 'n diep ingesetelde behoefte na die stilte, die ruimte, die eenvoudige, na die Heilige.
Waar egte ontmoeting met God plaasvind, leer ‘n mens om die gewone te “heilig.” Dan word die drif om te besit minder, die behoefte om te deel en te gee groter. Die afsonderingstye in eerbied en in harmonie voor die Ander Een, loop saam terug huis en werk toe.
Waarom, sou ‘n mens dan verder kan vra, kan hierdie ervaring nie oral geld en werk nie? Waarom kan ek die stilte, die frisheid nie saam in my gewone tye en plekke neem nie?
Natuurlik kan ons. Ons moet maar net 'n slag begin skoonmaak. Ons moet "trek" na 'n beter plek.
Daarom skep ons geestelike “ruimtes.” In die skoonmaak kies ons versigtig om te hou wat werklik saak maak, wat vir ons geluk laat ervaar en wat ons vreugde gee. Die borduurwerkie, hoe lelik en verganklik, laat ons in ruimtes van herinneringe reis. En al die ander aankoopsels, lee verbruikersmiddele, hoef nie meer nie. En, as ons regtig stil gaan sit en dink, kan die borduurwerkie, reeds aan die vergaan, ook maar brand.
Eintlik vind ons die volkome rus net by God. Die enigste rus is net by die Een wat alles in almal is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.