Wednesday, November 19, 2008

Spiritualiteit van Respek

Dikwels dink ons respek het te doen met ons agting vir mense wat in die nuus is, wyd aangehaal word, heldedade doen en hulle self vir ander opoffer. Tog is respek iets wat eintlik baie wyer loop en nog altyd belangrik was. Ons respekteer dominees, onderwysers, doktors, prokureurs en parlementslede. Ons respekteer die privaatheid van ons bure, die gesag van die howe, die opvoeding van ons skole en tersiêre inrigtings.

Deesdae dink ons meer krities: Ons glo respek moet verdien word. Nie jou amp nie, maar of jy jou amp eer aandoen, bepaal respek. Die regter wat met mededoë en met geduld in die hof voorsit, die dokter wat met belangstelling en begrip na pasiënte luister, die dominee wat getrou lidmate besoek en met ywer sy preke voorberei, die skoolhoof wat moeite vir leerders doen is nie net gewild nie, maar word deur ons graag met respek bejeën – en uiteindelik ook liefgekry. Respek is inderdaad in hierdie gevalle verdiend en dit word ‘n belangrike stap tot die liefde, daardie hegte gom wat ons wêreld vashou en ons aanmekaar bind. Respek is ‘n onmisbare bestanddeel van ‘n liefdesgemeenskap.

Vir sommige is respek nie meer so ‘n goeie woord nie en hulle verval in ‘n siniese houding waarvolgens hulle respek as kruiperigheid of minderwaardigheid beskou. Hierteenoor sou baie reageer met die opmerking dat respek niks te doen het met onderdanigheid nie, maar eerder ‘n waarderende houding is teenoor iemand wat bekwaam is om oor die belangrikste aspekte van die lewe leiding te gee. Dit het ook met agting en met eerbied te doen: ons gee aan bewame mense die nodige erkenning vir wat hulle doen.

Maar respek loop ook wyer as 'n waardering vir bekendes of vir toegewyde mense. Ons wys dit ook teenoor ons lewensmaat, ons ouers, ons kinders, vriende en mense wat naby aan ons is. Juis hierdie soort respek wys dat dit ‘n fout is om te dink dat respek verdien moet word of te doen het met mense wat in die nuus is. Ons wys respek in sommige gevalle teenoor mense bloot eenvoudig omdat ons naby aan hulle leef.

Om respek vir mense te hê, vertel nie net iets van hulle nie, maar ook iets van wie 'n mens self is. Dit beteken jy verstaan wat belangrik is, wat jou lewe anders maak. 'n Mens het agting en waardering vir alles wat jou lewe transformeer, makliker en mooier maak.

Ons jaag ook respek omdat ons besef dat respek self ‘n groot verskil aan ons lewe en ons wêreld kan maak. ‘n Mens wil ‘n respekvolle lewensstyl ontwikkel omdat daar soveel op die spel is in die toon van respek. Respek hou ons samelewing aan die gang. Elke keer as ek op ‘n eenvoudige vlak ‘n verkeersreël respekteer, word ons omgewing veiliger, word ek ‘n sensitiewe persoon wat ‘n sisteem van orde en van veiligheid hoog ag. Ek hou my nie net by ‘n verkeersreël as norm nie, maar ek respekteer dit as deel van ‘n sisteem wat ‘n samelewing en baie mense se lewens veilig maak. Ek waardeer die verkeersreëls en beskou hulle nie as ‘n lastige strafmaatreël nie. Respek kring dus wyd uit en raak nie net my persoonlike welsyn nie, maar die welsyn van ‘n hele gemeenskap en ons wêreld.

Soms kan respek merkwaardige gevolge hê. Die knorrige klerk agter die toonbank, die nors pa, die ontevrede werker, die onbeskofte petroljoggie kan deur ‘n klein vorm van respek in hul mens-wees bevestig word. Respek kan hulle verander en kan ook vir hulle hul ervaring van hul werk anders maak. Deur hulle te respekteer, kan ‘n mens hul daaglikse werk vir hulle draagbaarder, selfs goed maak. Respek kan ‘n situasie omkeer en transformeer.

Tog is daar iets diepers aan respek wat niks te doen het met wat jy uit die proses kan kry nie. ‘n Mens gee gewoon net respek, sonder dat jy of die gemeenskap noodwendig daaruit enige voordeel trek. Jy doen dit omdat jy besef dit is die regte ding om te doen. Jy weet die een met wie jy te doen het, is ‘n mens – doodgewoon iemand anders wat verdien om menslik behandel te word. En dít werk uiteindelik ook transformerend om so onselfsugtige teenoor ander mense en teenoor instellings op ‘n eerbiedige manier om te gaan. Elke keer as jy ander se menslikheid agter hulle foute kan raaksien, ook vir hulle feilbaarheid begrip – selfs waardering (!) kan hê, wen jy in jouself. Dan is jou lewe nie vernietigend in sy verwerping en disrespek teenoor ander nie. Dan leef jy jou in in ander mense se situasie, besef jy dat hulle redes het vir hulle optrede – goed of sleg – en dat hulle gerespekteer moet word vir wie hulle is, selfs al kan jy nie met hulle saamgaan of hulle optrede goedkeur nie.

Dit het niks te doen met onverskilligheid teenoor ander nie asof jy hulle maar toelaat om te glo wat hulle wil nie. Jy gee respek juis omdat jy wil hê ander mense moet ook vir jou respekteer in jou mens-wees, of hulle jou lewensstyl nou goedkeur of nie. Daarom sal respek dikwels pynlik wees: vir jou sal die keuses van mense onverstandig en verkeerd lyk. Die mens wat nie kans sien om behandeling teen kanker te ontvang nie en daarom gouer sterf, maak dit vir jou pynlik moeilik. Jou kind wat emigreer omdat hy of , anders as jy, nie meer ‘n lewensruimte in die land sien nie. Jou dogter of suster wat trou met iemand wat jy nie goedkeur nie. Miskien is die mees egte vorm van respek daardie respek wat met pyn gepaard gaan, met die aanvaarding van dít wat ander doen wat volgens jou nie reg of goed is nie.

Respek beteken dat jy mense wat jou liefhet, hoog ag vir wat hulle vir jou is. Maar dit beteken veral ook dat jy mense wat van jou verskil, respekteer vir wie hulle is – selfs al wil hulle nie jou voorskrifte volg nie en selfs al val hulle jou heftig aan.

Respek is nie ‘n vae ding wat jy voel of iets waaraan jy voel jy moet voldoen nie. Dit is ‘n konkrete manier van lewe waardeur jy jou lewe mooi maak. Dit is ‘n deug – wat beteken dat jy streef daarna om al hoe meer respekvol te word. Dit is nogal ‘n hele proses om respekvol te leef. Paulus maan ons dat ons mekaar moet hoog ag – dit is iets waarna ons moet streef. Respek val nie uit die lug nie. Dit is soms bitter moeilik om respekvol te wees. En soms vat dit intense inspanning om jou respek vir ander te behou.

En miskien is die grootste uitdaging van respek om nederig daaroor te bly. 'n Mens kan maklik hoogmoediglik respek toon: ek wil eintlik as jou meerdere, as die een wat so graag respekvol optree, tot jou vlak daal en jou aanvaar. Dalk is die belangrikste kenmerk van egte respek dat dit alleen maar in nederigheid bestaan. Respek het immers te doen met die insig dat 'n mens nie alle wysheid in pag het nie, dat 'n mens nie, soos God, in die harte van ander kan sien nie, en, dalk nog belangriker, dat my mens-wees alleen maar moontlik is as ek respekvol die mens-wees van die ander aanvaar.

Dit vra van jou ‘n volwassenheid om te aanvaar wat jy nie kan verander nie, om nie onverskillig te raak teenoor die onveranderlike nie, om ook nie mense te dwing wat nie wil verander nie. Meer nog, respek vra dat jy jou moet kan verplaas in die harte en brein van ander mense. Deur empatie en deur bewustelike meelewing moet jy kan groei om ander dieper te verstaan. Om hulle te respekteer, is om hulle lewensruimte te gun – en om dus lewe te skenk. Dit beteken dat jy selfs dan nog die volgende stap sal neem: deur respek, deur jou bewustelik in te leef in ander se lot, sal jy dan, selfs teen jou beterwete in, vir hulle bly omgee. Dan skryf jy nie onverskillig af nie, of probeer hulle na jou kan oorhaal nie. Dan bly jy in hulle lewens ‘n teenwoordigheid sodat hul in hul menswees die gevoel sal kry dat hulle in jou ‘n reisgenoot, iemand wat omgee het.

As jy dit kan doen, is jy eintlik soos God, ‘n skepper en ‘n gewer van lewe.

N.a.v. Trouw (http://meer.trouw.nl/filosofie/respect-gaat-met-pijn-gepaard) van 14 November.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive