Sunday, September 27, 2015

Gevloek

Die bekende rocker praat in 'n onderhoud oor sy ouers en die gelowige huis waarin hy grootgeword het.

As hy in hulle omgewing is, vertel hy skalks, tel hy sy woorde. Hy gebruik darem nie die taal wat hy gewoonweg voor sy gehore kwytraak nie.

Ek bly geboei besig met gedagtes oor sy opmerking. Dit vertel tog meer van 'n dieper geestelike kant.

Dit wys op 'n deug waaroor 'n mens nogal lank kan nadink: dat 'n mens in die teenwoordigheid van mense vir wie jy lief is en vir wie jy omgee, taal gebruik wat hulle nie oneer sal aandoen nie. Taal wat hulle eer vir wie hulle is: jou ouers, mense wat in al hulle feilbaarheid, tog na jou omsien. 

Jy wil hulle nie seermaak deur iets te doen wat hulle nie van jou verwag nie. 

Dit is 'n sensitiwiteit vir wie hulle is. 

***

Jou gebruik van taal wys wat dink jy van die mense om jou.

Baie mense wat ongemaklik is oor 'n minister se kru taal oor wat die Springbokke met hul teenstanders moet doen, sal dink: is dit hoe hy oor ander mense dink en voel: 'n gemeenskap met die moer hulle-mentaliteit?

Ja, antwoord die vloekers: ons praat maar soos mense eintlik regtig praat. Dit wys maar net die werklikheid. 

Taalteorie vertel anders. Taal reflekteer nie werklikheid nie. Dit skep werklikhede. Taal vorm 'n gemeenskap. So kru as wat ons bly praat, so kru sal die samelewing bly.

Is dit werklik wat ons van ander dink: dat hulle onherroeplik oorgegee is aan 'n moer-hulle lot? 

Die rocker wat op die verhoog sy vloeke oor sy gehoor uitstort?





 


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive