Thursday, December 31, 2015

Terug in God se huis en binne-hart.

Ek loop die afgelope paar dae en kou aan die oujaar wat aan die verbyloop is en wat die nuwe jaar sal inhou. 

Vanaand, hier in ons soel, nou byna subtropiese laatmiddag in ons geliefde strandplekkie, stap ek verby 'n ou bekende inwoner se huis. 

Ons is op pad see toe, vir 'n lafenis in die louwarm water. 

Ons staan stil vir die groetslag. Ook omdat ek gesien het sy huis is op die mark. 

Toe ek die Te Koop bordjie sien, voel ek die tentakels van tydelikheid, van eindigheid en verganklikheid om my hart vasklou. Ons stap al soveer jare met ons uitspantyd elke keer verby die huis. Dit is 'n vastigheid, 'n bekendheid en die vriendelikheid wat ons altyd daar kry is ook al 'n lafenis op sy eie manier. 
  
Die kennisgewing laat my dink aan Cussons se onvergeetlike en vergeefse gebed om die huis wat tog moet vasstaan, wat wind en weer moet oorleef en 'n vastigheid moet gee teen die ru afbreek van die tyd.

Hulle dink hulle sal maar moet trek, want die ouderdom slaan toe en 'n mens weet nie wat wag nie, sê hy. Daarom verkoop hulle.

Hy is op sy hoë jare die epitomie van gesond-wees. Hy klim nog selfs op die dak om regmaak-werkies te doen. En tog, die toekoms is glibberig. Ons sal mos nie weet wat die môre inhou - dit wat ons nie verwag nie. 

Ons moet wys wees. Reg besluit, Betyds. Tien maagde: vyf vertel ons wat ons behoort te doen.

Geleen, besef ek, is ons jare. Soos sand glip dit deur ons vingers. Dit hou nie stand nie. 

Voor ons weet is die groot Nuwe Tyd daar. Die onverganklike. Terug in God se huis en binne-hart. Uiteindelik.

Maar al die vinnige, dieper gedagtes skuil in ons gemoed. Ons bedink dit, maar praat ander dinge, soos ons daar voor die huis staan en praatjies maak. 

Terwyl ons so gesels, vertel hy, onbesorgd en, soos altyd, 'n kostelike verhaal: Hier in die gemeente was 'n legendariese oom. Hy het nie geleerdheid gehad nie. Maar almal het hom onthou en geniet. 

Soos om te onthou hoe hy op 'n keer in die konsistorie sy eenvoudig, kort gebed gebid het: "Here, gee tog dat die slim mense verstand sal kry." 

Mens kan alles weet en niks begryp nie. 'n Mens kan vinnig leef en innerlik leeg wees. 'n Mens kan orals jaag en nêrens uitkom nie.

Ek weet, op daardie oomblik, ineens wat my gebed vir die nuwe jaar is: verlange na wysheid.

Om in die vrees, die ontsag voor God te mag wees. 

Want daar begin wysheid: naby aan God, in die binne-hart van God, altyd bewus van hoe nodig 'n mens dit het om weg van jouself, by die diepste en eerste bron van alles te mag wees. 

Daar ontdek 'n mens eers werklik wie jy is - 'n bevoorregte: 
  • Iemand wat in die skepping tot die lewe gevorm is.
  • Iemand wat in die Seun tot die lewe hervorm is.
  • Iemand wat ewiglik vir die lewe bedoel is. 
  • Iemand wat daarom, dankbaar, weet - die lewende God wat op die manier so oorvloediglik lewe gee en vra dat mens voluit moet leef, is 'n God van ryk liefde. 

Om elke dag wysheid vir en tot die lewe te mag kry - dit is die verlange vir 2016. 
 


Wednesday, December 16, 2015

Uitgenooi

Kom! Sê Jesus in Matteus 11:28 in een van die mees geliefde tekste in die Nuwe Testament.

Dit is 'n uitnodiging, wat terselfdertyd ook 'n aanmoediging en aansporing is. Dit het amper 'n bevelskarakter. Daar is byna 'n dringendheid in Jesus se woorde.

Jesus se woorde vertel van sy intense kommer oor en afkeer van wat rondom hom in die naam van godsdiens aan die gebeur is. 

Dit is 'n woord wat deurdring is van ontferming, want Jesus praat met mense wat vermoeid en belas is. En nie sommer net so in die algemeen asof dit bloot net om depressiewe toestande gaan nie.

Dit is 'n groot oomblik wat aanbreek: die woorde van Jesus nooi uit om te breek met 'n godsdiens wat 'n mens uitput, leegtap en as 'n las 'n lang skaduwee oor jou lewe laat val.

Die uitnodiging vertel van 'n pad wat in twee verdeel. 'n Mens het 'n keuse: jy kan aangaan in dieselfde rigting, die ou pad. Of jy kan afdraai, in 'n nuwe rigting.

Maar die nuwe rigting, moedig Jesus aan, eindig in rus. Dit is die pad wat uitkom by die waters waar rus is, by die groen, pastorale weivelde - daar waar die skape wei, onversteurd, gevoed, tevrede, versadig.  Daar waar 'n mens in God se onvoorwaardelike, nie-veroordelende liefde leef.

Dit is om te waag. Want deur die eeue heen was dit nog altyd so dat mense wat afgeknou word, 'n patologiese verbintenis met en afhanklikheid het van hulle afknouers.

Die ou pad is die pad van verslawing. Dit vertel juis hoe gevaarlik godsdiens kan weer. Om dit te besef, moet 'n mens Jesus se woorde in konteks lees. Net nadat Jesus hierdie uitnodiging rig, vertel Matteus hoedat sy dissipels op 'n Sondag deur die velde loop en van die koring pluk om hulle honger te stil. Vir die Fariseërs wat, opgeruk, hulle vingers swaai en vir Jesus beskuldig dat sy volgelinge die wet oortree, antwoord hy: dit kan nog erger, né? Dawid was op 'n keer so honger dat hy gewaag het om in die tempel te gaan brood vat (Mt.12:4).

Dan volg Jesus te "toepassing" : Dawid se verhaal wys dat God van mense ontferming verwag (Mt.12:7). 

Maar daar is meer: 'n Ander teks soos Lukas 11:46 kruip diep in die hart in, wanneer 'n mens dit (intertekstueel) met Matteus 11:28 verbind. Kwaai praat Jesus met die wetgeleerdes: hulle "laai ondraaglike laste op mense af." Maar dit hou nie daar op nie. Hulle "verroer geen vinger om die laste te dra nie."

Godsdiensleiers wat mense in die Naam van God belas, staan direk teenoor Jesus wat die laste afhaal.

Godsdiens sonder ontferming, godsdiens wat las in plaas van rus bring, is die teiken van die evangelies en die vyand van 'n verhouding met God.

Dit alles word nog konkreter wanneer ons opgewonde in die motor klim om te gaan uitspan na die lang jaar. Rusplek toe, vredestyd in, naby aan almal vir wie ons lief is. Só wil  godsdiens ook lyk: dit moet vermoeidheid verdryf. Die las wegneem. Opgewonde moet 'n mens daaroor wees. Met nuwe lewe en toewyding moet dit aanspoor.

As 'n mens na die lang jaar kyk, hierdie jaar van 2015, waarin ons die lelikste gesig van godsdiens gesien het, het ons die boodskap van vrede meer as ooit nodig.

Teenoor die terroriste, hulle wat dink hulle gaan die paradys binne as hulle bomme plant, maar ook teenoor die onverdraagsames, die wat veroordeel en verwerp, hulle wat 'n ondraaglike las op ander lê, hulle wat dink God staan goedgunstiglik en knik van tevredenheid wanneer hulle ander verstoot en belas, staan daar die wettelose, vriendelike, bevrydende uitnooi deur die "My" van Matteus 11:28.

Hierdie byna dringende, amper smekende "Kom" is 'n oop uitnodiging van Hom met sy ontfermende, oop hart aan almal wat deur die kerk en deur godsdiens verneder, uitgewerk en van hul menslikheid ontneem word om eerder te gaan soek na waar die rus gevind kan word. 

Δεῦτε, sê die Grieks: hierheen! Neem afskeid, waag om dapper weg te loop van die Vroom Vernietigers, van hulle in die kerk wat in die Naam van God geestelik en liggaamlik doodmaak en bloed vergiet (Lukas 11:49-50). Moenie 'n slagoffer wees van hulle wat jou verniel nie. Breek met hulle. Ook hulle wat in 2015 vroom in die kerk die liefde van God verontagsaam en die Bybel gebruik om ander se menslikheid te ontken (Lukas 11:42).

In die kerstyd herinner die woorde aan dade: want vir Jesus om só te kon uitnooi, moes hy self 'n lang reis aflê: weg van die Vaderhuis. Hy het as te ware die verlore Seun geword, so solidêr met die kwaad, om te kan wys 'n mens kan daarvan wegbreek, vry word, rus vind. Deur maar in God se ontfermende liefde in te woon. 



Blog Archive