Monday, May 21, 2018

Die swart hond en verlangende wag

Só benoem mense die donker tye wat oor hul pad kom: die swart hond wat dreigend bly grom. 

Dan kom die tye wat 'n mens nie meer 'n pad vorentoe raaksien nie. Net die leegte van niks-wil en niks-kan nie.  Tye van verlamming en wanhoop.

Dit is dikwels 'n kliniese toestand, miskien met 'n fisieke oorsaak, soms deur trauma aangebring. Dan help slegs 'n kliniese ingryping, met die nodige mediese hulpmiddels.

Heel anders, baie verskillend is die ander donkerte: Die kere  voel 'n mens die tamheid van woorde, die leegheid van geloofstwiste, die oppervlakkigheid van godsdienstige praktyke en gebruike. 

Maar 'n mens verloor selfs aan die goeie, die geestelike. 

Vroomheid kan irriteer. Heiligheid lyk meestal na spog. 

Taal verdwyn. Verlamming keer 'n mens om te kan skryf.

God gaan weg en bly skuil. 

'n Mens skakel op outomaties oor. Lewensdwang dryf 'n mens voort. 

Dit word die Prediker-tye: alles is sommer net onsin, selfs twak. 

Dit kan maande duur, selfs jare. 

Jan van die Kruis praat van die donker nag van die gees - iets anders as die donker nag van die siel.

Dit is die groot toets vir die mens se self-insig: Dan kom die nietiging: die wete van 'n mens se verganklikheid, van jou nietigheid. 

Wat niks slegs is nie. 

Dit is net pynlik, want dit bring self-prysgawe mee. 

Jou tydelikheid, jou voorlopigheid word die goeie gawe wat jou geestelike reis deurdring.

Soms, ligweg, kom in die tyd die woordelose wete dat die mens slegs bestaan in die egte sin van die woord waar God teenwoordig is. Maar ook maar net vlugtig, maar net as 'n vonkie wat vergeefs vir 'n breukdeel van 'n sekonde in die donker flits.

Om weer te kan leer:  God woon in die ontoeganklike wat nie uitgesê en verwoord kan word nie. En daar kom 'n mens nie deur die mooiste vroomheid nie.

Ons taal faal ons om dit selfs te probeer bedink.

Al wat 'n mens kan doen, is om stil te bly wag. En te verlang. 

Biddend dat die donker wag sal omslaan in afwagting.








No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive