Sunday, June 03, 2018

Ek mis jou

So heet 'n program op die Nederlandse Kanaal wat 'n mens op DSTV 431 kan sien. Vanoggend is daar 'n onderhoud met 'n pa en 'n ma wat hul dogter verloor het. 

Die twee is middeljarig. Hulle is welsprekend, formuleer hul gedagtes aantreklik. Hulle is ook die toonbeeld van twee mense wat woon in 'n welvarende land met 'n goeie lewe, 'n gesofistikeerde lewensstyl en 'n gemaklike bestaan.

Ek het pas ingeskakel toe die vrou vertel van 'n spesiale ervaring wat sy gehad het. Sy lees die Bybel al vir 'n lang tyd. Die inhoud is vir haar bekend en sy is gelukkig daarmee. 

Daar is niks pretensieus in haar woorde nie. Geen groot aansprake op heiligheid nie. Of vroom gedoen oor haar geestelike toewyding nie. 

Egte Hollandse nugterheid. Doe maar gewoon, sê hulle mos altyd. Wees realisties oor wie jy is. Wees hondeerlik oor jouself. Besef maar jy is een van vele. Onthou die wêreld is groot, anderkant jou eie bestaan. 

Laat mens dink aan die oumense se sardoniese kommentaar op mense wat graag aandag trek: Jakkals prys sy eie stert. 

Jakkalssterte. 

Dit is 'n spreukwoord wat 'n mens graag dieper wil bedink: die afkeer wat na vore kom in die woord "jakkals" en in die draakstekerige "eie stert." 

Maar die vrou op die program is nie naasteby met sulke besinninge besig nie. Dit is 'n program wat fokus op intieme, hartverskeurende ervaringe wat mense op hul lewenspad beleef. En wat dit op 'n eenvoudige manier wil deel met die kyker. 

Dit is amper intrusief, dink 'n mens soms. Jy kom so naby aan iemand. 

En tog lyk dit asof die vrou 'n behoefte het om net te kan praat oor iets wat nie materiaal vir gewone omgangspraatjies is en wat ons lewe volmaak. 

Sy wil vertel. Sy praat oor hoe sy op 'n keer besig was met Bybel lees. Skielik, op 'n oomblik, sonder voorbereiding en onverklaarbaar, het sy begryp waaroor die Bybel gaan. 

Ek is geboei, want, sonder om die woord te gebruik, praat sy van die mistieke oomblik: daardie moment wat jy geraak word deur dit wat buite jouself leef, maar op so 'n manier dat dit jou lewe eensklaps omkeer. Iets groters en anders, sodat die gewone buitengewoon raak. 

Maar dit is geen sensasionele saak nie. Dit is, vertel sy, net 'n besef wat in haar ingesak het. 

Skielik, na al die jare, het die Bybel vir haar sin gemaak. 

Sy vertel dit bedaard, saaklik en in 'n sagte, rustige toon. 

En skaars klaargemaak met die vertelling, praat sy verder: sy praat oor haar dogter wat vir hulle as man en vrou spesiaal was. Hulle het soveel aan haar: soggens, veral, by ontbyt, die gesprekke. As die dag begin, pa, ma, kind in 'n doodgewone familietyd oor 'n bord pap, saam, naby en lief vir mekaar. 

Die pa praat ook oor die dogter. Sy gesig word sag as hy woorde skep om haar te beskryf. En te vertel oor hoe vol sy hulle lewe maak. 

Maar dit is die ma wat die gesprek oopbreek tot die hardheid: vyf dae nadat sy beleef het hoe die bybel skielik diep in haar lewe insak en alles vol maak, is haar dogter dood. 

Die manier waarop sy dit vertel is so gelaai: dit lyk asof sy antisipeer hoe mense vol argwaan oor haar mistieke ervaring sou reageer.  As God so naby aan jou kom en die woorde Woord word, verwag 'n mens nie so 'n wrede hou nie. Die besoek van God, die aanraking van die Skoonheid, die verinnerliking van die Liefde, is nie te rym met so 'n vernietigende slag nie. Hoe kan 'n God van liefde... 

Sy praat verder oor haar nuwe reis. Sy praat van die pieke en dale. En van die verborge besef wat aan haar geskenk is op die spesiale oomblik dat die reis nie alleen is nie. 

Altyd die besef: daar in iets groters. Ons praat van Iemand. Want ons verhouding met die grotere is nie asof ons slagoffers is. Uitgelewer aan willekeur en wreedheid nie. Dis nie 'n transaksionele verhouding nie: ek ontdek en daarom verdien ek nie. 

Dit is die wete dat, wat ook al oor die pad kom, hoe intiem stukkend mens gemaak word en innerlik vernietig word, die reis altyd weer nie alleen kan wees nie. Om die hoek, na die diep dal, is daar die nuwe, die verrassing, die skoonheid, die eenvoudige verheffende. 

Want oomblikke later is die pa aan die woord oor sy dogter wat gesterf het en oor hul tye as klein gesin bymekaar met, veral, die oggende as hulle met ontbyt vrolik en vreugdevol kon praat. Vir die eerste keer, in die ernstige, sobere en selfs gewyde gesprek kom daar 'n glimlag op sy gesig. 

Dit is eintlik wonderlike herinneringe, sê hy. Só asof hy vir die eerste keer die verlies kan besweer.  




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive