Die bybel is deurtrek met die pynlike gesprek oor lyding.
In die Ou Testament is die slawerny in Egipte 'n sleutelmotief. Elke keer weer dink mense terug aan die lyding wat hulle in die vreemde onder die vyand se hiel ervaar het.
En herdenk dan op spektakulêre manier hoe God hulle uit die slawehuis gelei het, na die beloofde land.
In die nuwe bedeling was die kruis die sleutelmotief. Martin Kähler het die evangelies 'n lydensverhaal met 'n uitvoerige inleiding beskryf.
En na die opstanding, as die antwoord op lyding, was die gelowiges getroos met die gawe van die Gees: maar die troos kom te midde van lyding - die alleenheid, vervolging, donkerte, onsekerheid, marginaliteit.
Elke bybelskrywer het uit hierdie realiteit geskryf: die wêreld, soos dit bestaan, is ons woning nie. Dit is 'n plek van lyding.
En elke skrywer het op 'n unieke manier antwoorde gegee op die realiteit van lyding.
Ek lees vanaand vir die eerste keer van 'n hofsaak waarin 'n man vermoor is, sy vrou verkrag is en hul kind deur die rowers in 'n bad kookwater verbrand is.
En ek lees van die kinders wat in Amerika van hul ouers weggeneem word as hulle as onwettige immigrante die land ingaan. Van die kinders word in staalhokke opgesluit. Terwyl die kinders huil, sê een van die wagte: ons het weer 'n koor aan die sing vanaand.
So harteloos, kru en gewelddadig soos die rowers was, so erg is die mense wat in Amerika kinders van hul ma's wegskeur.
Hoe kan mense dit doen?
Dit is 'n siedende kookpot: mense se vermoë om boos te wees.
Die bybel bly, soos 'n refrein in elkeen van sy 66 boeke, beklemtoon: só is God nie. God vertel ons dat daar 'n alternatiewe wêreld is waar mense lyding kan ontkom. En gedurigdeur is daar die oproep, die dringend uitnodiging om deel te word van daardie wêreld. Die plek waar trane ophou, vrede aanbreek, mense saam sal woon in harmonie.
Hoe dieper mense wegsink in oewerlose wreedheid, hoe dringender word die oproep om te bly soek na die ander realiteit. Wie dit wel doen, wat wreedheid met liefdevolle welwillendheid antwoord, is beelddraer, lyk soos God. Is uiteindelik soos God.
Daarom kom die verborge woord al dringender in tye van grenslose boosheid: wéés anders, wys die alternatief, lééf anders.
Want dit is inderdaad wat nou gebeur: oor die wêreld heen klink daar in baie huise en plekke in helder stem op. Dit is nou genoeg. So kan dit nie aangaan nie.
Dit is die bybelse weg. Want, opvallend, die bybelboeke wat oor lyding nadink en so baie perspektiewe daarop bied, het almal een ding in gemeen: hulle praat, weier dat lyding die laaste woord spreek, soek steeds na die alternatiewe wêreld. Wil mense ompraat, bestraf, teregwys, maar wil veral wys: ons is nie so nie. God is nie so nie. Die boodskap sal tot in ewigheid weerklink dat lyding die teendeel is van alles wat God is en wil doen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.