Monday, June 18, 2018

Roem

In die geselskap is daar 'n praterige, gesellige en baie verligte mens. Sy daag almal om haar uit om gedurig hulle vooroordele en uitgediende oortuigings te toets. 

Gister sê sy, 'n duiwelsadvokaat wat anargisties die besige gejaag na roem by mense te toets, "ek het geen ambisie nie. Ek wil net gelukkig wees." 

'n Mens sou in hierdie opmerking 'n oereie wysheid kon raaksien: roem is leeg. Die sokkerspeler wat huilend van teleurstelling op die grond sit met hande oor sy gesig om die stromende trane weg te steek, sal oor 'n maand weer gesellig by die huis gras sny, met sy kinders speel, sy mense se geselskap geniet en agterkom die lewe gaan aan. 

Die kaptein wat die wêreldbeker in die lug optel, vol  uitbundigheid te midde van die wêreldwye histerie oor die groot eer, sal altyd weer oral die glimlag sien, die klop op die skouer en steeds weer herinner word oor die goeie prestasie. En die berigte in die koerant sal nog vir tydjies gedagtes daaroor wakker maak. 

Maar die jare sal aanstap, die pas stadiger word, die kritiek nie uitbly nie, die druk steeds swaarder. Die anderkant van roem is die eise van hulle wat net nog meer roem soek. Soos rykaards wat nie genoeg geld kan versamel nie. 

In derduisende huise oor die wêreld, sal familie's na die groot wedstryd aan tafel gaan sit, genoeg om oor lekker te gesels of hartseer te wees. Hulle sal dan aanleef: pa wat tafel help afdek, ma wat nog strykwerk wil doen, boeta wat sy eksamen moet voorberei. Sussie wat nog haar wiskunde-taak moet afmaak. Soos hulle môre en oormôre sal doen en die dae daarna - lank na die herinneringe aan die wedstryd vervaag het. 

En dan, die aand laat, na die dag, bed toe. 'n Draai maak om te kyk of sussie goed is. 'n Geselsie vir oulaas by die bed. Die kombers bietjie optrek. 'n Drukkie. Die bedlampie afskakel. 

En dan rustig word na al die gewoel en besigheid van die drukke dae. Soos daarna elke dag, maand na maand. Lank na die gedagtes oor roemrykheid stil geraak het. 

Alles in die warm geborgenheid van nabyheid. In die sfeer van die liefde. En die liefde wat nie leeg is nie. Of nog beter: die liefde wat sal bly, lank na die skares stil huis toe is of die televisiestelle afgeskakel is en die vreugdefeeste uitgerafel het. Die liefde wat nie vergaan nie. 

Miskien sal die kaptein na vele maande nog iets onthou van die beker wat hy triomfantelik in die lug kon hou. En met genoegdoening terugdink aan die voldoening wat die oorwinning gebring het na al die harde oefeninge, die gedrewe ambisie. Hy sal sekerlik bly wees oor die goeie oomblikke. 

Of, innerlik vervuld, sal hy ook kan dink dat hy, ten spyte van die nederlaag, tog sy bes gedoen het. Dat sy spanmaats deur die nederlaag sterker gemaak is om verby die oomblik van roem te kyk na die gawe om die wedstryd te kon speel, te kon geniet en tot soveel opwinding te kon bydra. Hy sal dalk terugdink aan die geselsies met die opponente na die wedstryd, hulle gesprekke oor die spesiale oomblikke, oor die foute, oor die skeidsregter, oor die skare en sommer net oor die tyd wat hulle daar saam kon wees. Mense in die groot, ewigdurende spel van saamwees.  

Want wat tel is nie die roem nie, ook nie die oorwinning nie, maar of alles wat 'n mens doen, waar ook al, jou iemand maak wat ryker word in jou verhouding met jouself, en, veral, met ander. 

Dus: net so leeg soos roem, is die leegheid van 'n ambisielose lewe. Wat tel is nie of 'n mens die kruheid van ons ambisiegedrewe lewe afsweer nie. Wat tel is hoe ambisie help om 'n mens  liefdevoller te maak. Want steeds weer is die diepste begeerte van 'n mens om te groei, dieper in 'n vervulde lewe. 

(Alle vertellings in hierdie blog is aangepas om die privaatheid van individue te beskerm). 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive