Ek begin vir haar nagsê na die tydjie van ons saamwees. Dit is aand, dit word tyd vir haar om te gaan slaap. Ek moet groet, die versorgers maak almal reg vir die nag.
Sy kan nie eintlik meer praat nie. Daarom het ek ook daardie aand die lang pad van ons saamwees in stories vir haar vertel.
Ek vertel al van lank af elke keer van ons saamwees van die begin af, van ons skooldae, van haar grootwordhuis, haar pa, ma en broers, en van ons lewe saam met ons kinders: die stories wat ek bly vertel, is ons gedeelde geheue. Sodat sy weet, sodat sy onthou, sodat sy ons lewe kan bly bedink. Sodat ons ons saamreis verder kan deel.
Wat sy nie meer kan onthou nie, onthou ek op die manier vir haar. Dit is ons saam-praat.
Dit is meer as net blote pratery. Ek hou haar hand vas in die saam-tyd, soos altyd maar as ek by haar is. En sy bly elke keer, soos vanaand weer, stip na my kyk terwyl ek gesels. Met onverdeelde, selfs gretige aandagtigheid wat vir my vra om met haar te bly praat, om weer ons lewe saam te onthou en te vier.
Ook in die skemeraand van ons saamwees, in die donker van ‘n afgebreekte geheue, is nie net ons lewensverhaal nie, maar ook ons handevat, haar konsentrasie, ‘n teken van ‘n band wat ons nog steeds bly bind aan mekaar.
As ek begin regmaak om te gaan, wil sy nie my hand los nie.
Ek wil daarom die swaar van afskeid besweer met my woorde: “Jy moet lekker slaap. Hulle is goed vir jou hier, die versorgers is dan so lief vir jou. Sorg nou dat jy rus. Môre kom ek jou weer haal, dan gaan ons ‘n bietjie rondry en kuier.”
Sy glimlag, en, vanaand, skielik en onverwags sê sy, skaars hoorbaar, vir my: “Ja pa.”
Sy was haar pa Koos se oogappel, dink ek verwonderd op pad huis toe. Die enigste meisie-dogter, die absolute teenpool van haar drie woelige broers. Die dogter was die oudste, die meisie in die huis, op ‘n troontjie gesit. ‘n Josef-figuur vir die familie.
Te meer, want sy was ‘n liefdevolle kind.
En sy, sy het daarvan geleef: sy was naby aan haar pa.
Ek onthou hoe stil sy vir dae en tye lank was nadat haar pa so onverwags en so onmiddelik, sonder ‘n groet, gesterf het. Sy kon nie daaroor praat nie, dit was te pynlik.
In en deur hierdie enkele, kort sinnetjie waarin sy vir haar “Pa” nagsê, besef ek: hier, selfs in haar wegwees van ons twee se huis met sy geborgenheid, hier, alleen in die kamer, gaan sy vanaand slaap met ‘n herinnering aan die veiligheid van ‘n ouerhuis.
Sy beleef, aan die einde, weer haar pa-liefde van soveel jare terug.
Sy is weer kleintyd-tevrede, gevul met die vrede soos wat net die nabyheid van ‘n omgee-pa mens kan gee. Sy is geborge, veilig, in die vaderhuis.
Ek talm ‘n oomblik. Traag om weg te gaan na die wonder van haar onverwagte nagsê.
Toe ek opstaan, oomblikke later, sien ek, opnuut verras, het sy eenvoudig net daar vas aan die slaap geraak.
Summier aan die slaap na die “Ja, pa”.
Woorde, weet ek, kan lewe skep, ver bo wat ‘n mens kan bedink. Maar die krag in woorde word bepaal deur waaroor die woorde gaan. En sulke eenvoudige stories oor ‘n pa kan lewenslank ‘n mens se lewe ryk maak.
Nog meer: lank na die aand, besef ek hoe spesiaal dit vir iemand moet wees wat so ‘n pa gehad het, om oor God as ‘n pa te dink.
Ook in die skemeraand van die lewe, te midde van die donker verwarring van ‘n verwelkende geheue, kan selfs ‘n mens se kleinste wete van ‘n Pa wat nagtyd kom groet, jou tot rus bring.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.