Jy skryf, op 20 April 2014, ‘n beroemde aanhaling neer uit Richard Foster se boek oor God en gebed.
"He invites us to home, to serenity and peace and joy, home to friendship and openness, intimacy and to acceptance and affirmation."
Die woorde vertel wat gebed is - om in nabyheid met God in te tree.
God nooi ons uit om huis toe te kom – na rus, vrede en vreugde. Om huis toe te kom na vriendskap, openheid, intimiteit, na aanvaarding en bevestiging / waardering.
Dit gebeur wanneer ons in stilte ons onttrek om oop te wees vir God.
Daardie dag het hierdie woorde jou so geraak dat jy dit spesiaal neergeskryf het in die paasnaweek van 2014: dat God ons nader wink na 'n plek waar ‘n mens geborge, veilig voel, geliefd en gewaardeerd.
Dit is hoe ‘n mens oor God dink: om net by volkome goedheid te wees. En dan na God kyk, verwonderd oor die kans om in die goedheid te kan wees.
Dis genoeg. Nie nodig om allerhande dinge te vra, af te smeek, daaroor te wil onderhandel, selfs nie om onderdanig of kruiperig te wees om aldus beloon te word nie. Nie nodig om te vrees nie, te twyfel nie. Net daar wees.
Want ‘n mens is in die Teenwoordigheid van die Een wat uitnooi, aanvaar, omhels. Waar jy Jouself kan wees. Dit is genoeg, die tyd sal stilstaan, die alledaagse dinge verwelk in die helder lig van hierdie Gawe.
Foster se woorde word dikwels aangehaal, want mens herken daarin die hart van spiritualiteit. Dit is die blye evangelie. Die goeie woord. Ons ontdek met 'n stuk ontnugtering hoe sy stil woorde ons bewus maak van ons gebedsgebrabbel, wanneer ons die diepste sin van ons lewe - die oorgawe aan ons eintlike bestemming mislees - en mispraat. En met gebed wil presteer.
Jy skryf dit in die tyd toe die eerste tekens van jou siekte jou verward en onseker begin maak het. En in jou skrywe is ingebed ons almal se verlange na die Huis wanneer ons lewe wankel, waar ons kan skuil. As koue winde om ons huis begin waai.
Die bladsy het jy met 'n potlood 'n lysie volgeskryf van wat jy vir 'n reis wat voorlê wou inpak: jou pajamas, vests, sokkies, toenek trui, blou toerits onderbaadje, jas (?), Gap trui met groot kraag, blommetjies hemp. En toe, aan die einde, weer "jas" herhaal, weer met 'n vraagteken daaragter - die klein teken van minder onthou, tóé al. Jou alledaagse dinge, beleef van naderby, beskryf in detail.
Maar dan, langs die kant, dwars, aan die sykant van die volgeskryfde bladsy het jy in swart pen hierdie aanhaling van Foster geskryf. So asof jy wou dat die lysie omraam word deur 'n woord oor God wat in ons lewe, in ons reise en in ons onsekerhede, vir ons nader wink en naby hou. Dit is wat die alledaagse invul.
En die mooiste: heel bo aan die bladsy skryf jy: "Appeltert bak" En jy trek 'n vierkant daarom. Tuis is met die opskrif ook daar waar die soetigheid eerste kom!
Jy het nooit jou sin in die lewe verloor nie. En jou op die dag, soos deur jou hele lewe, ook van jou huis 'n tuiste met klein heerlikhede gemaak.
Op die manier bring jy gebed in die lewe in en doen jy wat God ook so mildadig uitdeel. Byna sakramenteel - soos die grootste offer wat met eenvoudige brood en wyn versinnebeeld is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.