Monday, October 15, 2007

Daardie briljante oomblik. Oorwinning

Ek kyk die wêreldbeker rugbywedstryd in die halfeindronde tussen Suid-Afrika en Argentinië. Die manne is vurig. Hulle gee alles. Die Argentyne huil bitterlik na die wedstryd. Die Springbokke lyk tevrede, maar daar is geen uitbundige gevoelens as die eindfluitjie blaas nie.

Die drieë was pragtig met Habana se ellelange lopies oor die hele veld. Maar een beeld bly my by – die vinnige aangee van Shalk Pienaar wat die drieë moontlik gemaak het. Blitssnel. Hard. ‘n Vat en gee-aan gebaar, laat ons dinge doen. Dit was die sterk ketting van spelers wat die bal hanteer en hanteer, met daardie een oomblik van briljante spel wat net ‘n bietjie spoed bysit, die gaping laat oopgaan, die deurbraak moontlik maak.

Doelgerigtheid, toegewydheid kom na vore in afgerondheid. Goed om te sien as iemand in beheer is.

Wat my laat dink aan die ander televisie uitsending, hierdie keer van ‘n prediker wat vertel hoedat God mense oornag kan motiveer om van hul verslawing los te breek. Hy vertel: dit gebeur soms met mense wat jare lank aan verslawing ly. Dan kom daar net ‘n dag dat hulle totaal bevry word daarvan.Hoe sal ons verstaan hoe God werk om mense werklik vry te maak van hul slawerny aan eie vernietiging? Die punt is net: iewers moet ‘n mens daardie oomblik van helderheid beleef. Jy moet besluit nou hardloop jy. Of iemand trek jou saam en in in ‘n wen-wen wedstryd. En dan, daardie momentum wat jy optel en wat jou met die bal laat hardloop, dit bring jou by die doellyn uit. Dit val nie uit die lug uit nie. Jy moet op die veld wees, opgestel teen hierdie vyand wat jou lewe skelm skelm inpalm en tot niet maak. En jy moet tot die aanval oorgaan. Met passie, blitssnel, met spoed en toewyding. En as jy oor die doellyn duik, uitasem, moeë lyf, dan weet jy die stryd was op die ou end amper mooier as die doel self. Want as jy die oorwinning behaal, is dit nie jou mooi lopie wat tel nie. Dit is jou lewensmaats en die lewende God wie se genade en Genade jy in die lewensstryd ontdek.

Dit is waarom ons altyd so helder die oomblik onthou dat ons besluit het: tot hiertoe en nie verder nie: ek het nou genoeg gesukkel. Nou vat ek die gaping.

Monday, October 08, 2007

Godsdiens, rugby, Fiji en die Here

Vloek en bid uit een mond?
Ek kyk die wêreldbeker rugbywedstryd tussen Fiji en Suid-Afrika en die spanning loop hoog. Partykeer moet ek diep asemhaal om kalm te bly. Dit is taai manne. Hulle weet van fisieke spel. Hulle kou met oorgawe harde bene. Hier is nie die plek of die tyd vir kinderspeletjies nie. Die groot manne kry kans: oor die aardbol in miljoene huise sit families vasgevang. Hier word lewenswaarhede ook deur sport uitgespel en uitgespeel.
Des te meer is ek by die rugby betrokke, want voor die tyd lees ek hoe godsdienstig hulle is. Hulle vertrou na Bo. Tydens die wedstryd kyk hulle Boontoe as hulle drieë druk en wys erkentlik die vinger daarby. Mooi, dink ek, ‘n getuienis wat hulle lewer.
Maar hulle vat ook lelik hoog. Gevaarlike vatte wat hul teenstanders groot skade kan aandoen. Gelukkig vir hulle sien die skeidsregter nie hul oortredings raak nie (of wil dit nie raaksien nie) (dink hulle Iemand daarbo sien dit nie raak nie?). Teen die einde van die wedstryd as dit taai raak en die Bokke op hulle lyn boer, trek hulle los en slaan wild vuis. Dit vloek links en regs dat my satelliet-sein amper oppak. Dit is sulke taai skote wat wêreldwyd gehoor word. My kinders vertel daarna dat hulle oor die radio die gekruide taal duidelik kon hoor.
En toe? Na die wedstryd sak hulle in ‘n kringetjie en bid lank saam met mekaar. Miskien het hulle gebid dat die Here hulle hul vloekery en gevaarlike spel vergewe. Hopelik. Want anders kom Jesus se woord helder na my oor: mens kan nie God loof en vloek uit een mond nie. Dinge werk nie so daar waar iemand die Here lief het nie. Jou lof aan God kan nie, kan nie met gekruide taal meng nie. Efesiërs 4:29 maak dit tog baie duidelik: daar staan dat vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie – en daardie nooit sluit sekerlik ook die rugbyveld in.
Ag, dis sport en moenie so preuts wees nie. Hoor ek. Dus deur ons sport skep ons ‘n nuwe werklikheid van vloek en geweld? As ons dan dink die Here sal sulke woordjies en sulke speletjies oorsien, gaan ons seker tog nie wegkom van ons kinders wat dit hoor en sien nie. En dan kla ons oor geweld in ons skole en in ons land? Ons moet meer die Bergrede lees: ‘n mens sê mos nie eers Raka vir ander nie, los maar om iemand anders te moor.
Taai rugby, harde rugby, slim rugby, ja seker. Maar altyd skoon rugby. Na die wedstryd wil ons tog met ‘n rein gemoed voor die Here neerkniel en die Here dank vir ‘n wonderlike, wêreldwye geleentheid om nie net deur ons vroom gebede nie, maar deur ons skoon spel en ons mond ook ons geloof te kon uitlewe. Per slot van rekening word ons aan ons dade geken. 1 Johannes 2:4 kry nuwe betekenis in die lig van hierdie kwarteindrondte in die wêreldbeker.

Sunday, October 07, 2007

Vergifnis in letterlike navolging van Jesus

In Oktober 2006 het ‘n man vyf Amish leerlinge in die West Nickel Skool in Pennsylvanië in die V.S.A. doodgeskiet. Direk na die moord het die ouers van die dogters ‘n boodskap na die familie van die moordenaar gestuur dat hulle hom vergewe. Helfte van die 75 mense wat die begrafnis bygewoon het, was lidmate van die Amish. Die Amish gemeenskap het daarna ook ‘n fonds gestig om die moordenaar se familie by te staan.
Die Amish neem Jesus se oproep tot vergifnis en tot liefde van die vyand letterlik op.
Net om dit te hoor, raak my. Ek was aan die begin van 2007, op ‘n koue wintersdag, by ‘n byeenkoms van die Mennoniete oor geweldlose versoening. Tydens die konferensie loseer ek by ‘n gemeentelid wat my ook die aand in bitter koue by die konferensiesaal kom afhaal. Op pad na die motor vertel sy my dat een van die fundamentele trekke van die Mennoniete ‘n besondere hegte gemeenskapsgevoel is. Terwyl ons inklim, kom ‘n negentigjarige vriend verby – op pad na sy motor. Nee, sê sy, hy moet inklim dan laai sy hom sommer by sy motor af. Letterlik 20 treë verder hou sy stil om hom af te laai. Hy klim met moeite uit die motor. Sy deur staan oop en die koue verswelg ons. Uiteindelik na ‘n gekreun en ‘n gesteun is hy uit. Maar sy bly staan terwyl ek sit en bibber. Sê sy sy wil net vir hom dophou totdat hy by sy motor is en aan die ry kom. Wat sy vertel oor die Mennoniete en wat sy as Mennoniet uitleef, sien ek in daardie winterkoue, klop presies.
Ek, uit verre Afrika, nie op enige manier ‘n Mennoniet nie, deel in haar gasvryheid en wil met my vertrek vir haar vergoed met ‘n bydrae. Sy raak opgewerk en wys my aanbod byna ongeskik van die hand. Sy word nie betaal vir haar gasvryheid nie, sê sy. Die Mennonitiese gasvryheid omhels ver buite eie kring.
Die Mennoniete, soos die Amish, is vredeskerke. Dit is ‘n tradisie wat my boei. Nie net omdat dit geweld so vreesloos uitdaag nie, maar omdat dit gedryf word deur ‘n gemeenskapsgevoel. Dit is hoe Christus dink.

Thursday, October 04, 2007

Tee, wit wolke en nabyheid aan God

Ek het vanoggend die pakkie tee wat ek in die somer in Cambridge gekoop het, oopgemaak en die eerste treksel gemaak: Chinese wit wolke tee. Die teekenner skryf vir my hoe dit gemaak is:

Yes, White Clouds is indeed a silver tea (just the buds) from Fujian province in China. After plucking and hand-selection, the buds, still damp, are placed layer on layer with jasmine flowers, separated by muslin sheets. These are then pressed together overnight, which causes the jasmine flavour to pass into the leaves. The jasmine flowers are removed, and some may be left in for aesthetic effect, and the tea processing continues on its way to the final dried product.


Elke teeblaartjie word met die hand uitgesoek! En dan op jasmynbloeisels gepak om oornag deurdrenk te word met die jasmyngeur.

Ek sit en drink my tee op my stoep hier langs Dorpstraat se woeligheid terwyl ek myself baai in die son. Teedrink is mos meer as net water insluk, vertel ek my die laaste jare. Ek proe en die subtiele, sagte smaak vul my mond en word deel van my lyf. Op pad rekenaar toe, werk toe, 'n tyd daarna, proe ek nog die smaak. Die smaak bly fris, lentegeure om my en in my, hier op die Oktober lente-oggend in Stellenbosch.

Ek moet verder met hierdie lyflike ervaring. Byna benediktyns wil ek dieper met my ervaring. En ek dink aan my kinderdae, die seisoen van pronkertjies, die geliefde wat die pronkertjies geplant het, versorg het, gepluk het en gerangskik het. En ek dink oor God, wat elkeen van ons uitgesoek het om 'n lieflike geur te versprei. En wat ons in die hand hou.

Tee laat my wegdryf op wit wolke van herinneringe en bring my naby aan God.

Blog Archive