Wednesday, April 30, 2008

Spiritualiteit en Ontnugtering: Oor die verhouding van goed en kwaad

Ontnugtering

Dit is ‘n byeenkoms van groot geeste by ‘n internasionale konferensie. Die persoon wat vereer word is een van die grotes onder die grotes. Dit word aangebied ter viering van die nuwe, hersiene uitgawe van een van sy boeke. Die atmosfeer is gemoedelik. Die lofuitinge is uitbundig.

‘n Jonger kollega uit ‘n ander kontinent moet ook ‘n reaksie lewer. Hy is ook vriendelik in sy kommentaar, maar noem dan pligsgetrou omdat ‘n mens darem nie net kan lof besing nie, dat die boek dalk miskien tog maar ook kennis kon geneem het van ‘n belangrike wetenskaplike gesprek wat in die wetenskap plaasgevind het.

Die skrywer kry kans om op die opmerkings te reageer. Hy vertel dat hy nie eintlik gedink het daar steek veel in die gesprek nie – vandaar dat hy dit geïgnoreer het.

Ek sit en wonder hoe verslae moet ek nou word omdat ek soveel tyd aan daardie “oppervlakkige” debat spandeer het....

Die grootste deel van sy aanbieding en respons gaan egter oor die geskiedenis van die ontstaan van hierdie lang verwagte tweede uitgawe van sy boek: die duur tantieme wat iemand gevra het vir aanhalings wat in die boek gebruik sou word. Hy en sy ko-skrywer het toe uiteindelik goedkoper opsies ontgin. Verkoopsyfers, haalbare prys, bemarking en kapitaal-praatjies vul die lug.

Ek herinner my hoe ek as ‘n navorser diep beïndruk was deur sy skerp, kreatiewe en unieke wetenskaplike werk. Ek onthou spesifiek sy vriendelike woorde toe ons by hulle aan huis geëet het, die hoogs interessante sitkamer-gesprekke oor al die groot name by daardie wêreld-universiteit – alles steeds gevorm en gedryf deur sy passie vir ‘n behoorlike wetenskapsbeoefening, vir ‘n beter wêreld, vir ‘n sinvoller lewe. Ek onthou sy besoeke aan ons land en al die spesiale ervarings van hom as wetenskaplike, sosiale figuur en plein mens.

Ek begin al hoe meer verstaan waarom ‘n apokaliptiese wêreldbeeld beperkte waarde het. Daar is ook ‘n ander manier om ‘n verstaansgreep op die wêreld te kry: goed staan nie altyd teenoor kwaad nie. Goed is dikwels inniglik verweefd met die kwaad. Wat dit sleg maak, is dat die kwaad dan so weggesteek word.

Dit, hierdie skrywe, help my om myself beter te verstaan.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive