Thursday, May 22, 2008

Spiritualiteit van vergifnis. Om dieper te verstaan, om eerliker te glo

Hier is 'n artikel uit die Nederlandse dagblad Trouw, waaroor ek aan die einde wil kommentaar lewer:

Zonder religieuze beleving geen religie – misschien is ze wel de kern ervan. Toch lees je er maar weinig over. In deze rubriek beantwoorden mensen vragen over wat ze op religieus gebied hebben beleefd. Vandaag: Herbert Wevers.

Ek is geraak deur hierdie artikel in Trouw wat deel is van 'n reeks oor godsdienstige ervarings. Eerstens omdat dit vir my wys dat om jou wreedste vervolger te vergewe, vir sommige mense wonderbaarlik moontlik is. Vir ander kan dit (ongelukkig) nie so maklik kom nie. Tweedens, weet ek hoe maklik ons preek. Ons hou vergifnis voor aan ons bepreekte gemeente terwyl ons die diepte van hul ervaringe nie altyd voor die tyd kan peil nie. Derdens, hoe ongelooflik dat ons interaksie, ons saamsit rondom 'n sterfbed vir ons diepte aan ons geloof gee. Spiritualiteit is geleefde geloof en dit beteken dat ons dieper leer verstaan terwyl ons met ons geloof op pad is. God neem ons aan die hand: "Laat Ek vir jou wys wat werklik hier gebeur." En dan word ons losgemaak van ons sekerhede wat ons tog so triomfantelik preek. En nie na nuwe sekerhede geneem nie. God neem ons na mense. En groot lig en donkerte. Donkerte omdat daar so baie kante is aan die lewe wat ons so graag makliker en anders en na ons sin sou wou kry. Maar lig, helder, stromende lig omdat ons hierdie mens voor ons inniglik leer lief kry. Dit is nie 'n "krag" vir my nie, soos in die artikel staan nie. Eerder, vir my, 'n teenwoordigheid. Ons menslikheid, Levinas se gelaat tot gelaat, ons deel van liefde en leed is wat ons ervaar. Dit is so diep, so fragiel, dat ons dit in ons beperkte woordeskat, al ook so bietjie afgerem in seggingskrag, as die teenwoordigheid van die Gees aanvoel en probeer benoem. Van gelaat tot gelaat: en dan val al ons vooroordele, al ons skanse weg. Ons vingers wat beterweterig die ander in die oog steek en voor sy of haar gesig swaai, sak af en neem die hand van die ander een vas.

Ek sukkel om nie die moordenaar voor die trein in te stoot nie. Alles in my kom in opstand teen wat onreg verteenwoodig. Ek wil graag die een wees wat nie die wreedaard vergeld nie, maar dit kom nie eintlik regtig maklik nie. Miskien is dit juis hierdie artikel wat my dan laat skuif, wat mistiek op my inwerk: waar mense sulke uiteenlopende lewenskeuses maak en daarmee saamleef, waar ek dit in my prediking moet in ag neem en nie goedkoop met die evangelie omgaan nie, daar begin 'n proses van oopmaak en soek. Ek moet eenvoudig altyd maar net weer besef: mense en menslikheid maak saak. En ek moet tog nie te maklik alleen maar aan ander as wreedaards dink nie. Ek skryf juis hier, ek sukkel deur hierdie gedagtes, presies omdat daar ook in my brokke wreedheid is waarvoor ek my oog so gerieflik toemaak.

Daarom het die opmerkings oor Ter Schegget aan die einde van die artikel uiteindelik vir my boeiend. Spiritualiteit vra in die eerste plek dat jy jou in die posisie van die ander moet indink. Bewussyn van die mens wat teenoor en anders as jy lewe. 'n Mens moet kan insak ook in die hart van die mens wat jy nie kan begryp of verdra nie. Dan besef jy dalk met 'n skok: ek sou dieselfde gedoen het. Dan eers kom die diepte: die verslae insig in hoe ons ons menslikheid prysgee en hoe nodig ons God het om weer ons bestemming as mense te leer ken en te soek.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive