Vreemdelinge haat.
Die beelde van die sterwende man, omring deur sy jillende, laggende aanranders sou ‘n mens miskien nog seker iewers oor die lang termyn dalk nog kon verteer. Maar die beeld van ‘n polisielid wat koud, onbetrokke eenkant staan en hom totaal aan sy eie genade oorlaat, brand die prent dieper in ‘n mens se geheue in. En terwyl die man op die grond roggelend af en toe ‘n hulpelose gebaar maak, is die wete dat die kamera van ‘n fotograaf alles klinies vir die wêreldgehoor opneem, selfs nog bitterder. By my kom die verhaal op van moeder Teresa wat in haar kort vertellinkies in haar dun spiritualiteitsboekie skryf oor iemand wat hulle van die strate van Kalkutta uit die moddersloot gered het. Hy was al halfpad opgeëet deur wurms. Sy vertel hoedat hy met hulle gepraat het voordat hy gesterf het: “ek het soos ‘n dier in die straat geleef, maar ek sterf nou soos ‘n engel, omring deur liefde en versorg in liefde.”
Wáár, vra ‘n mens, was die persoon wat hierdie sterwende, verbryselde man kon bystaan? Waar is daardie enkele, laaste gebaar van menslikheid in ‘n oewerlose moeras van dierlikheid?
Ek onthou ‘n soortgelyke ervaring, jare gelede, in ‘n poskantoor op ‘n klein dorpie waar ‘n ywerige lid van die gemeente my bedien het en ons oor geweld begin praat het. Sy het so pas in die koerant gelees van ‘n vrou wat verkrag is en wat gesê het dat sy haar verkragters vergewe. Woedend spu sy die woorde uit: “Sy is mal in haar kop. Sy het dit seker geniet om verkrag te word.” Ek staan verbysterd voor die sissende haat wat in hierdie woorde, in haar lyftaal uitslaan.
Verbysterend dat ons ons menslikheid so deurgrondelik verloor. Nie die gewetenlose psigopate wat verby menslikheid geneties geprogrammeer is nie. Maar dat gewone mense, met ‘n seun of ‘n dogter, ‘n pa of ‘n ma, ‘n man of ‘n vrou, in monsters kan verander. En iewers ‘n hand optel om die Bybel oop te maak, om ‘n geldjie in die kollektebord te gooi, wat gretig aanmeld om in die kerkkoor te sing, wat die dominee vriendelik wil bedien. “Die een wat saam met my sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai” (Mt.26:23). Die man wat hierdie week in Gauteng doodgeslaan is en niemand naby hom gehad het om ‘n hand van liefde na hom uit te steek nie, was nie die eerste slagoffer van dierlikheid nie. Hoekom, na 2000 jaar, kan mense nie insien hoe hul ‘n doodsvonnis oor hulself voltrek wanneer hul hul menslikheid verloor nie? Daardie man wat doodgeslaan is, het nie alleen gesterf nie. Die omstanders is die eintlike slagoffers. Hulle het hul lewens verloor. Hulle het die duurder prys betaal. Want hulle is hul mens-wees kwyt.
Eintlik is die vraag dus: waar is die mens wat hierdie dierlike groep tot insig in hul eie verlorenheid kan bring? Hóé word ons in ons land opnuut bewus van die Mens wat lydloos in verset teen die kwaad, tot op die einde geroep het dat ons nie moet moor nie, dat ons nie kwaad met kwaad moet vergeld nie, dat ons mekaar moet liefhê en menslik teenoor mekaar moet wees?
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.