Wednesday, May 28, 2008

Wat is spiritualiteit?

Spiritualiteit is ‘n woord wat tans baie gebruik word en wat eintlik baie dinge kan beteken. Dit word gebruik deur sommige mense om te praat van ‘n gevoel van godsdienstigheid. Dan het dit ‘n baie vae betekenis. Ander weer assossieer dit met wat normaalweg as “New Age” verstaan word. Omdat New Age ‘n slegte naam gekry het as iets wat tradisionele godsdiens verwerp en benadeel, maak dit mense agterdogtig. Nog ander dink dit het te doen met alles wat ‘n mens “goed” laat voel. Reiki, refleksologie, joga, aromaterapie en selfs akunpunktuur word dan as aspekte van spiritualiteit verstaan. Ander weer maak die fout om te dink dit het te doen met spiritisme waar kontak met die geeste gemaak word.

‘n Mens kan niemand verbied om woorde te kies nie. Maar spiritualiteit is ‘n belangrike godsdienstige en Christelike beweging wat teruggaan tot in Bybelse tye. Daar is vandag wêreldwyd ‘n groot belangstelling daarin. Baie Christene vind vreugde en lewenssin deur hulle te verdiep in spiritualiteit. As ek oor spiritualiteit (letterlik: dit wat te doen het met die Gees) praat, is dit in hierdie Christelike, Bybelse sin van die woord.

Maar wat is dit dan? Heelwat mense hou daarvan om spiritualiteit heel eenvoudig te verstaan as “geleefde geloof.” Dit is ‘n gewilde siening daarvan. Daarmee word bedoel dat dit te doen het met ‘n mens se verhouding tot God en hoe dit in die praktyk ervaar word. Dit is ‘n nuttige benadering. Maar hierdie siening bly nog ‘n bietjie algemeen en help ‘n mens nie altyd om helder daaroor te praat nie.

‘n Mens bietjie skerper onderskei. Spiritualiteit kan die beste as volg beskryf word.

1. Spiritualiteit het te doen met die verhouding tussen die goddelike en die menslike. Eintlik gaan dit om die verhouding tussen God en die mens of skepping. Prakties beteken dit dat spirtualiteit nie afgewater moet word as geloof wat te doen het met die aanvaarding van allerhande feite oor God of oor die mens nie. Spiritualiteit sal byvoorbeeld nie ‘n polemiek oor die evolusie-leer aan die gang sit en daaroor twis nie.

a. Spiritualiteit beklemtoon dat die goddelike in hierdie verhouding eerste kom. God neem die inisiatief in verhoudinge met die mens en skepping.

b. Spiritualiteit in ‘n Christelike konteks hou ook vas daaraan dat God met ons veral deur die Bybel praat.

c. Spiritualiteit beklemtoon dat die mens deur die eeue heen vir God leer verstaan het in wisselwerking met hul konteks en dat hierdie ervaringe vir ons help in ons eie geloofsreis.

2. Spiritualiteit gaan oor hoe God die mens omvorm. Die sleutelwoord hier is: transformasie. As God ‘n mens aanraak, word die mens radikaal verander. Die mens word omvorm om te word wat sy of hy nie was nie. Daar is ‘n onmiddellike en direkte nuwe lewe waaraan die mens deel kry. Die mens word dus verlos. Die mens word dus nou opgeneem in ‘n heeltemal nuwe sfeer: jy is nie meer deel van die ou lewensbedeling van geweld, vyandigheid, depressiwiteit, ongeërgdheid, besluiteloosheid en kragteloosheid nie.

3. Spiritualiteit beklemtoon dat hierdie transformasie ‘n proses is. Spiritualiteit het te doen met ‘n geloofsreis. In sekere tye en in sommige tekste staan dit ook as heiligmaking bekend. Die mens groei in die geloof en verander gedurig om meer na God se beeld gevorm te word. Die mens moet steeds meer en meer deel kry aan God se heil en vrede. Terwyl ‘n mens deel is van ‘n nuwe lewenssfeer (sien afdeling 2), het die ou lewe nog ‘n houvas op ‘n mens en moet jy dit al hoe meer afsterf om in die nuwe sterker in te groei. Spiritualiteit dink nie tromfantelik oor die lewe nie. Daar is nie maklike oplossings nie. Dikwels is geloof onder druk en moet ‘n mens hard stry om nie die stryd te verloor nie.

Hierdie beskrywing van spiritualiteit help ‘n mens om egte godsdiens te verstaan en om rigting te hou in jou geloofsreis. Hieroor gaan ons meer praat in die volgende dae.

pgdevilliers@mweb.co.za

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive