Karl Barth het ‘n merkwaardige klem op die Sabbat geplaas. Hy
was in elk geval sterk krities oor die flou hantering van die sabbatsgebod in
moderne navorsing. Die gebod om te rus op die Sabbat verduidelik al die ander
gebooie en is dus uitsonderlik belangrik.
Die sabbat handel oor rus – maar nie rus in die sin van ophou
werk of vakansie-hou nie. Dit gaan nie om te herstel van ‘n tyd waarin ‘n mens
jou flou gewerk het nie.
‘n Mens word deur God uitgenooi om in die rus in te gaan en
om God se rus te deel. Dit is ‘n heilige dag van vreugde, rus en vrede. Dit is
dus ‘n geheiligde ruimte wat ‘n mens binnetree en waar ‘n mens waarlik in vrede
kan rus.
Dit is vir Barth boeiend dat die eerste ses dae van die
skepping volgens syfers benoem word, maar die sabbat kry ‘n spesiale naam.
Daarmee word die besondere waarde daarvan verder beklemtoon.
Dit alles beteken dat die Sabbatsrus ‘n geskenk van God is
wat die mens nie verdien nie, maar ontvang.
Vir Barth, skryf Cocksworth (sien gister se blog), is die
gawe van die sabbatsrus die ontmagtiging van die self. Die mens wat die res van
die week onrustig besig is met allerhande haastige dinge, is dus totaal
afhanklik van God. Die mens “wag op God.”
Die mens, voeg Barth by, wat wag op God, is die biddende
mens. Vir hom is daar ‘n wesenlike band tussen die sabbatsrus en gebed.
Dit is dan ook wat kontemplatiewe gebed is: dit beteken
stil-wees, aandagtige stilte, ontmagtiging, oorgawe van die self en oopheid vir
wie God is en doen.
Barth skryf, heel opvallend, oor hierdie stil afwagting: as
dit mistiek is, is mistiek ‘n onmisbare deel van die Christelike geloof.
Barth beklemtoon dus dat ‘n mens in die kontemplatiewe gebed
nie oor God dink of met God besig is nie. ‘n Mens is in die mistieke gebeure
nie angstig oor die vraag of ‘n mens die besondere ervaring van God sal deel
word nie.
Rus, vrede, word aan die mens gegee – wat ons ook al ervaar.
Die mens se rus is in God. God self is die mens se rus. Net God kan ‘n mens rus
gee. ‘n Mens bereik nie die rus na intense inspanning nie.
In kontemplatiewe gebed is die mens dus nie die handelende
een nie. Dit is God wat handel en vir die mens gee om te ontvang. ‘n Mens word
ingenooi om die rus van God te deel. Hierdie rus is, soos die Sabbat, die begin
van alle dinge. Alles wat ‘n mens doen en alle menslike pogings, word
voorafgegaan deur die Sabbatsrus as die eerste dag van die week.
Alle mense kan dus deel kry aan die rus – nie net daardie
paar uitgesoekte mense wat sekere asketiese praktyke navolg nie.
Barth wat die mistiek so fel gekritiseer het met opmerkings
wat die mistieke skrywers verdraai of verkeerd verstaan het, is uiteindelik in
sy nadenke oor die sabbatsrus niks anders as self ‘n mistikus nie.
Dit is maar net ‘n paar van die interessante gedagtes in
Cocksworth se boeiende boek oor Barth en die mistiek.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.