Dit is eintlik te verwagte as mense sê dat God deel is van hulle lewe. Die binnekoms van God in 'n mens se lewe verander en vernuwe immers mense wanneer hulle tot geloof kom. En die lewe word dan 'n immer groeiende en selfs gloeiender verhouding met God wat in die diepste kern van ons bestaan inkom. Dis dus goed om te kan sê God is in ons.
Maar daar is 'n ander proses wat mettertyd op gang kom as mense so saam met God reis: Dit is 'n proses wat uitloop op 'n verdere diepgaande oomblik wanneer mense uiteindelik begin besef dat hulle deel in God se lewe.
Dit skryf jy op 20 April: op 'n dag in 'n kort opmerking: Daar verskuif iets in mens - dan groei die besef dat ons deel is van God se lewe. Dit is 'n volwassener begrip van 'n God wat genadiglik mense inlyf in oneindigheid.
'n Mens kyk dan met nuwe oë na die wêreld om jou en na die lewe buite jouself. Dit word in jou oë God se wêreld waarin God woon en wat God as lewensruimte geskep het. Wat voorheen skaars raakgesien is, skuif nou in die sentrum van 'n mens se geloofservaring.
Hoe lyk God se lewe? Alles wat altyd rondom ons was, kry skielik nuwe sin: God se lewe is om ons, veel groter as ons, maar dan (!) heel gewoon neem God ons op in die mees gewone van dinge.
Mens sien dit eers wanneer jy 'n oop gemoed het vir God se lewe wat oneindig groter as mens se eie lewe is.
Hierdie nuwe kyk na die wêreld, omtower die gewoonheid. Dis God s'n, besef 'n mens. En ek deel daarin. In al sy gewoonheid, maar ook in sy rykheid. Wat is die mens! wonder die Psalmdigter.
Dit dring 'n mens tot verrukking. En tot dankbaarheid - om te kan en te kon deel in die Lewe. Pure genade.
In die Psalms is daar ekstatiese lofprysinge op die wonder van die skepping as God se woning en lewe. In die woord van Psalm 139:14, bv. "Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering." (Ook bv. Psalm 19).
Dis taal waaraan 'n mens dalk te gewoond geraak het. Sheila Cussons se boeiende gedig met die titel "Orrel"(!) vul Psalm 139 aan en help 'n mens om nuut na God se lewe te kyk. Die gedig is 'n diepe mistieke teks wat die aarde vier in al sy skoonheid. Dit is mistiek omdat dit dieper kyk na dit wat ons in verrukking voor God bring. Dit vertel hoe dit kom dat 'n mens verwonderd oor God se lewe kan wees.
Orrel (uit die Woedende Brood).
My sintuie is verwisselbaar,
hoor kleure, beluister geure:
skarlaken trompetter, peper is
'n pizzicato en bruin roffel -
En somer, somer veral, trek
deur die neus: son is seepkook.
Wololie van warm lug verras my,
soos die sweet van krygers wanneer
uie stoom in 'n pot - En iemand
is daar, so fyn-sensueel-gesond
dat hy in slaap neute en lou melk is,
en wakker, gloeiende Augustus
in 'n sonbesie-dennebos. En elke
jaargety kies sy sintuie uit -
winter is pure oor - en meng hulle
weer tot elk in elk die ander herken,
en popelend van kreature,
verwikkeld kontrapuntaal, om
die ronde jaar die groot Te Deum
galm, met al die registers oop.
Wie hulle so in die aarde inleef, kom onwillekeurig tot luide lof. Maar op die diepste punt is dit nie lof van die aardse nie. Eerder van God. En dan is dit ook nie lof oor God nie. Dit is heel mistiek, 'n intieme toekeer tot God, eerder om "U" te loof - Te Deum. U, o God, wil ek loof met alles in ons, ook op 'n aardse manier deur al ons sintuie.