Die vertelling van die ryk jongman wat na Jesus kom met sy vraag oor die ewige lewe (Markus 10) is nogal lank.
Die gesprek tussen die man en Jesus (17-22) word gevolg deur Jesus se gesprek met die dissipels oor hoe rykdom 'n mens blind kan maak vir wat werklik saak maak (23-31). Mens sluk waar aan 'n lewe van diensbaarheid, van omgee.
Die gesprek oor die kosbare prysgawe volg nadat die ryk man intussen van die toneel verdwyn, bedroefd omdat Jesus se antwoord aan hom nie vir hom werk nie.
Dit is te veel gevra.
Die dissipels verstaan nie veel daarvan nie. Hulle is ook maar uit die veld geslaan. Die antwoord van Jesus aan die ryk man lyk vir hulle ook maar erg. Hulle staan verbysterd (vers 24).
Jesus onderstreep met hierdie lang antwoord dat wie in God se wil leef, om 'n lewe van omgee te jaag, 'n lewe van vervulling sal vind. Dit bring onvoorstelbare vervulling.
Mens sien dit dikwels: daar is niks wat 'n mens so inspireer as om te sien hoe mense mekaar in hul armoede en swaarkry bystaan nie. Dit is die opofferende liefde van 'n ouer, kind, vriend, vreemdeling wat mens telkens verwonderd laat.
Dis nie mooipraatjies nie. Die lewe kan veeleisend wees: by die omgee en in die liefdesgemeenskap met ander is daar ook vervolgings (vers 30).
Die lewe van omgee is duś nie sonder teleurstellings nie.
Die verhaal van die ryk man eindig met sy vertrek - hy verdwyn van die toeneel.
Die verborgene van die verhaal is die opmerking dat Jesus die man aangekyk en lief gekry het. Hy wil hom deel maak van sy volgelinge. Dit maak sy vertrek soveel treuriger.
Die verhaal eindig sonder dat daar iets oor die ryk man verder geskryf word.
Die vreemde is nou: Jesus laat hom gaan. Sonder verwyte of dwang.
Die liefde kan soms ook net laat gaan. Soos die pa van die verlore seun wat nie in die pad van sy kind staan nie.
En, die verbysterde dissipels wat trots vertel hoe hulle alles vir Hom opgeoffer het (vers 28), sonder begrip vir Jesus se liefdesaanbod en nog steeds self-gerigd, het Hy in sy binnekring gehou.
Ten minste het hulle nie van hom weggedraai nie. Hy het geweet hulle moet nog 'n lang, steil pad saam stap.
Liefdevol het hy in hierdie reis (sien die volgende gedeelte, (32-34), hulle vrese besweer deur met hulle te praat oor sy self-prysgawe. Nie patologies as 'n self-vernietigende opoffering nie. Maar wel in liefde as 'n gawe van diensbaarheid (vers 45). Hy loop 'n pad waarin hy homself gee as 'n omgee vir hulle, al is dit 'n lydenspad.
Om te dien, met al jou besittings, maar ook met jou lewe: dit bring 'n lewe van verwondering. Dit is die kenmerkend van die lewe tot in ewigheid.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.