Watts se skildery van die ryk jongman. (Tate galery).
Al drie evangelies vertel die verhaal van iemand wat na Jesus kom en vra hoe om die ewige lewe te beërwe (Lukas 18; Matteus 19 en Markus 10):
Net Markus vertel hoe Jesus gereageer het toe die man vir hom sê dat hy van kindsbeen af ‘n wetsgehoorsame lewe gehad het. Hy lei'n lewe van getrouheid aan God se wil van sy vroegste lewensjare
Markus skryf dan dat Jesus hom aangekyk het en hom liefgekry het. (Ὁ δὲ Ἰησοῦς ἐμβλέψας αὐτῷ ἠγάπησεν αὐτὸν). Jesus, sê Markus, bewonder ook die rykes wat tog God se wil gehoorsaam.
Die ontmoeting met die jongman begin op ‘n opvallende manier: die jongman "hardloop" na Jesus toe. Hy is gretig en haastig om by Jesus uit te kom. Hierdie eenvoudige opmerking wys op die man se dringende verlange om so gou as moontlik by Jesus uit te kom en om sy raad te kry oor hoe om 'n sinvolle lewe te kan vind. Hy het 'n openheid vir Jesus: hy vra die vraag wat alle mense een of ander tyd besig hou: hoe vind 'n mens 'n lewe van volkome rus. Hoe kan die ewigheid in 'n mens se hart inwoon?
Die jongman se positiewe houding word heel koekreet verder onderstreep as hy voor Jesus "kniel" (vers 17). Die gekniel is 'n besondere gelaaide gebaar: In Markus evangelie is kniel ‘n simbool vir verwondering en ontsag. Die ryk man weet hy is in die teenwoordigheid van Wysheid, van 'n mens wat die geheim van die lewe uitleef.
Sy vraag oor die vind van die “ewige lewe” word in vers 21 verduidelik: as ‘n mens Jesus volg deur selfs ook jou aardse skatte in sy diens te stel, het jy “’n skat in die hemel.” Want as jy ook jou skatte kan prysgee, “volg” jy Jesus en ontvang jy 'n skat groter as alle aardse dinge.
In vers 30 word die hemelse skat verder verduidelik: dit is nie 'n vreemde, onaardse belofte nie. Trouens, die hemels skat is merkwaardig "aards": dit is 'n skat van baie huise, broers en susters, ma’s en kinders, en grond.
Die diepste geheim van die lewe in om in die kring van mense opgeneem te word. - wat tot in ewigheid strek. :Volg My, sê Jesus: dit is 'n gemeenskap wat in Hom gewortel is. Wie leef soos Hy en met Hom, word deel van wat nooit vergaan nie.
Mens word deel van en opgeneem in ‘n familie, die huisgesin van God wat saamgebind is deur 'n band van omgee. As mens in jou aardse bestaan rus, vrede in die volmaakte veiligheid "in hierdie tyd" (vers 30) in die liefdeskring van jou geliefdes vind - hoeveel te meer, honderdvoudig meer, in die kring van geliefdes wat in God altyd bly "leef" (30).
As die lewe hier nog "vervolging" insluit, maar reeds 'n mens se lewe met goedheid vul, des te meer wanneer 'n mens verby vervolging kan kyk na die lewe wat net in liefdevolle self-prysgawe te vinde is.
Om by Jesus te wees, skryf Markus dus, is lewensvervullend - dit oortref enige iets wat jy mag weet of het. "Volg my", op die weg van "weg-gee", van om-gee.
Dit is genoeg. Dit is waarom die lewe gaan.
Daarsonder, as 'n mens kies vir wat "joune" is, vasgevang is in jou diepste vasklou aan verganklikheid, aan koue muntstukke en stomme aardse besittings, aan jouself en jou eie dinge, neem jy jouself op in droefheid. Jy word arm aan vreugde, 'n gevangene van dit wat nie liefde gee nie.
Die verhaal vertel tog die droewe verwerping van Jesus se liefdes-aanbod. Terwyl Jesus vir die jongman liefkry, is sy reaksie om bedroefd en treurig “weg” te gaan van Jesus. Hy sien nie kans om te volg nie.
Hy het met sy indrukwekkende verlede van uiterste wetgetrouheid nog steeds soekend na Jesus aangehardloop gekom. Sy lang lewe van getrouheid het aan die wet hom onvervuld gelaat het.
Iets, het hy besef, kort en iets skort.
Vol afwagting, selfs verwonderd en opgewonde - in die hoop dat die hongerte in sy hart uiteindelik gestil sal word.
Die droewige verhaal van die soekende man is ‘n verhaal van deformasie: die droewige uiteinde van ‘n vlak verhouding met God wat self-gerig is. Terwyl Jesus hom stip aankyk, draai hy weg.
Watts se skildery hierbo van die man, uitgedos in sy blink, indrukwekkende gewaad, vat die hart van die verhaal vas: Kop onderstebo, treurig, nog altyd in die donker, eenkant, op sy eie, met sy gesig weggedraai van die "Goeie Meester." Hy, die getroue wetsgehoorsame, die nuuskierige luisteraar na Jesus, is uiteindelik nog alleen, eensaam, eenkant, sonder die kring van liefde om hom.
Hier staan die Soeker, rug gekeer op die Een wat liefdevol verlang dat hy by Hom moet wees.
Maar daar is meer aan die verhaal.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.