Showing posts with label Augustinus. Gebed.. Show all posts
Showing posts with label Augustinus. Gebed.. Show all posts

Sunday, November 13, 2011

Gebed, die Woord en transformasie

Augustinus vertel in sy Belydenisse die volgende verhaal van die groot omkering wat in sy lewe plaasgevind het:

Ek het onder ‘n vyeboom neergeval met ‘n hartseer gemoed. Uit my oë het trane gestroom – ‘n offerande aan U. En ek het met U gepraat met hierdie een doel voor oë: Hoe lank nog, o Here, hoe lank, sal U vir altyd toornig wees? Dink tog nie aan ons vroeëre onreinhede nie, want ek het gevoel asof hulle my vasketting.

Ek het hierdie treurige woorde bly sê: Hoe lank, hoe lank, môre, môre? Waarom nie nou nie? Waarom kom my onreinheid nie op hierdie oomblik tot ‘n einde nie?

Op die manier het ek bly praat en huil met ‘n bittere hartsberou.

Toe, sowaar, hoor ek uit die huis langsaan ‘n kinderstem wat singend herhaal: “Neem en lees; neem en lees.”

Dadelik het ek begin wonder of kinders ooit sulke dinge sou sê. Ek kon nie onthou dat ek ooit so iets gehoor het nie. Ek het ophou huil en opgestaan, want ek het besef dit is niks anders as ‘n opdrag van God om die boek oop te maak en die eerste gedeelte te lees waar ek oopgemaak het.

Ek het van Antonius gehoor hoe hy op ‘n keer by sy lees van die Evangelie ‘n boodskap gekry het: “Gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan en volg my.” En dit is deur so ‘n spreuk dat hy tot bekering gekom het. Ek is gretig terug na die plek waar Alupius gesit het; want daar het ek die tekste van die Apostel daar gelos toe ek opgestaan het.

Ek het dit gegryp, oopgemaak en die deel waarop my oog geval het, in stilte gelees: Daar moet geen dronkenskap en uitspattigheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.  

Ek het nie verder gelees nie; ek hoef ook nie verder te gelees het nie. Onmiddellik na ek gelees het, het, deur ‘n lig van ootmoed wat in my hart uitgestort is, al die donker twyfels in my verdwyn.
 

Tuesday, October 11, 2011

Gebed as verlange en hartsbegeerte



Woorde en gebede hoort bymekaar. Die Psalms is voorbeelde van gebede tot God. “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor U aangesig”, lees ‘n mens in Psalm 19:15. Dit is ‘n gebed dat ‘n mens se woorde tot God egte gebed sal wees. 

Gebed, het Jesus vir sy dissipels ook geleer, gaan om die aanroep van God of om dinge wat ons dink ons nodig het, van God te vra. God wil dat mense praat oor wat in hulle gemoed aangaan. God wil dat ‘n mens om geregtigheid sal bid. Jesus het selfs sy dissipels aangemoedig om gedurigdeur, aanhoudend daarom te smeek toe hy die gelykenis van die weduwee en die onregverdige regter vertel het (Luk.18:1-8).

Gebede en woorde hoort dus bymekaar.

Tog is daar ook hier weer iets diepers te sê. En as ‘n mens dit begryp, kry ‘n mens se gebede wat in woorde uitgedruk word ‘n unieke karakter en word dit iets anders as heidense gebabbel om iets van God af te smeek.

In Spiritualiteit word van aspiratiewe gebed gepraat.

Waarom, sou ‘n mens kon vra, prys mense God biddend en maak gelowiges hul behoeftes en versoeke met die “woorde van hul mond” bekend aan God?

Hulle doen dit omdat hulle opsien tot God. ‘n Mens praat met God vanuit ‘n verhouding en vanuit ‘n verlange. En alle woorde tot God kom op uit hierdie verlange.

Al die woorde wat ‘n mens tot God bid, kom omdat gelowiges se hart op God gerig is. En dit is hierdie hartsbegeerte na God wat die egte betekenis van gebed is.

Om dit te begryp moet ‘n mens dieper nadink oor geloof. Geloof is om aandag aan God te gee, om te reageer op God en op die goddelike aanraking van die mens. Die gelowige mens kom tot rus in God, vind vrede in wat God doen. Geloof vertel van die mens se liefde tot God. Om te glo is om die innerlike rustigheid te hê dat ‘n mens veilig is in God. Geloof vertel van ‘n intieme verhouding met God.

Gebed is die gelowige ingesteldheid op God. Deur gebed wil ‘n mens meer aandag aan God gee, wil ‘n mens steeds weer uitreik na God wat ‘n mens aangeraak het. Deur gebed wil ‘n mens tot groter rus kom in God, dieper wortelskiet in die vrede wat ‘n mens alleen by God vind. Deur gebed wil ‘n mens die liefde tot God wys, wil ‘n mens sterker word daarin.

Gebed is dus die mens se verlangende ingesteldheid op God en ‘n lewe in intieme verbondenheid met God.

Meer as die opsê van woorde, is gebed dus die verlange na God. Die gelowige mens begeer ‘n lewe van vriendskap met God. Dit is ‘n verlange wat ‘n mens se hele lewe deurdring. Augustinus het met sy beroemde uitspraak oor rus juis hieroor gepraat: “My hart is onrustig in my totdat dit rus in U vind.” Daarmee praat hy van die mens se durende begeerte na God. Hy het ook geskryf: “Verlange is gedurig aan die bid selfs al is ‘n mens se tong stil. As ‘n mens gedurig na God verlang, dan is ‘n mens gedurig aan die bid. Wanneer hou ons op bid en raak ons gebed aan die slaap? Net wanneer ons verlange afkoel.”

Wanneer ‘n mens na God verlang, is ‘n mens aan die bid.

Daarmee word die woorde wat ‘n mens tot God bid, nie as onbelangrik afgemaak nie.

Augustinus skryf juis hieroor verder: “Wanneer ons glo, wanneer ons hoop en wanneer ons liefhet, is ons met ononderbroke gebed aan die bid. En tog is ons ook op sekere tye en ure besig om God met woorde aan te roep sodat deur hierdie woorde ons onsself meer kan inspan en onsself meer bewus kan maak hoe ons vorder in hierdie verlange en ons onsself kan aanspoor om met meer krag daarin te groei. In hierdie tye van woordelikse gebed, roep ons ons gees terug van al die ander sorge en aktiwiteite wat ons verlange na God laat afneem.”

Gebed in woorde is dus bedoel om die mens se verlange na God te laat ontvlam en steeds sterker te laat brand.

Wie mooi nadink hieroor ontdek ‘n steeds groter insig: As ons na God verlang, is dit omdat God in die mens se lewe ingekom het. Wie eenmaal in God se geselskap was, wat die sagte sprong beleef het, wat die vonk van die liefde beleef het, word deel van die reis na die goddelike vasvat, na die rus, die kalmte, die vrede wat in die goddelike teenwoordigheid alleen gevind kan word en wat alle verstand te bowe gaan. Om dus na God te verlang is, mistiek, ‘n teken van God se werking in ‘n mens se lewe. Dit is die mistieke antifrase.

Dan is alle gebede ingestel daarop dat ‘n mens hierdie verlange na God nie sal kwytraak nie. Selfs die woorde wat ‘n mens bid, wil die verlange na God lewendig hou.  Die woordgebed wil die verlange as gebed lewendig hou.

Dink ‘n mens hieroor na, begin die Onse Vader nog meer sin inhou. Dit is ‘n gebed vol verlange dat God se Naam geheilig sal word, dat die goddelike koninkryk sal kom en dat God se wil sal geskied. Dit is ‘n gebed om ontferming – dat God brood sal skenk, maar met die brood ook sondevergifnis sal meedeel. En, in die langer weergawe, eindig die gebed met die rustige, kalm, vertrouensvolle en vredige wete: want aan U behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid. En dit tot in ewigheid.

Ons harte, leer die gebed, verlang na God en vind rus alleen in God. 



Foto: http://www.flickr.com/photos/judybaxter/14966630/

Wednesday, November 03, 2010

'n Gebed van Augustinus: oorgeluk


N.a.v. Augustinus se gebed in sy Belydenisse (boek 5):

O Here van die waarheid, sê vir my: is ‘n mens vir U mooi en aanvaarbaar omdat hy of sy so vol kennis is?

Nee, God, iemand wat alle dinge weet, maar oor U onkundig is, is ‘n ongelukkige mens.

En gelukkig is iemand wat U ken, terwyl hy ook alle ander dinge ken.

Maar selfs iemand wat vir U en ook alle dinge ken, is nie noodwendig gelukkig nie. Iemand is eerder gelukkig as hy of sy U ken en verheerlik, teenoor U dankbaar is en nie ydel word in sy eie gedagtes nie.

Iemand wat ‘n boom het en nie weet hoe hoog of hoe breed dit is nie, maar nogtans vir U dankbaar is omdat hy of sy die boom kan geniet en gebruik, is beter af as iemand wat elke tak van die boom ken, maar nie die boom geniet nie en nie omgee vir die Een wat die boom geskape het nie.

Iemand wat gelowig is, aan wie die hele wêreld onderdanig is, wat niks het nie maar tog alle dinge besit en geniet is veel beter af as iemand wat al die elemente kan bereken, al die sterre kan tel en die hemele kan meet maar wat U verwaarloos, o Here – U wat alle dinge in getal, gewig en in maat bepaal.

Blog Archive