Showing posts with label Eenvoud. Show all posts
Showing posts with label Eenvoud. Show all posts

Sunday, August 28, 2011

Sommer langs die pad, in die oop veld: die klein wit spatsel


 











Op pad van Lanseria na Pretoria, vlak langs die snelweg, op ‘n Sondagoggend, ry ons verby die groep in die veld. 

Hulle is ‘n klein, wit spatsel in die winterbruin grasveld.

Dit is ver van die stad, maar tog ook weer net direk langs die groot pad.  ‘n Bakkie en drie motors staan naby hulle geparkeer. Sommige is dus die lang pad na die byeenkoms aangery. Maar ons sien ook hoe nog ‘n paar van hul lidmate langs die pad aangestap kom.

Motors jaag dol verby die groep van ongeveer 50 mense. 

Die geraas van die gejaag beklemtoon die stilte en afgesonderdheid van die groep.

Die vroue dra meestal wit rokke en wit hoofdoeke. Die meeste mans, duidelik in die minderheid, het gewone klere aan en sit netjies in hul eie ry, eenkant. As hulle wel wit klere aan het, het hulle nie kopdoeke op nie.

In die middel staan iemand met hulle en praat. Op ‘n stadium lyk dit asof hy sy hande in ‘n gebedshouding voor hom gevou hou. Hy is verlore in die groep. Maar die groep is ook 'n krans om hom.

Daar is geen kerkgebou nie. Niks van leë kerkbanke met mense wat die rye van agter vol sit nie. In ‘n klein, intieme sirkel sit hulle op hul eie, weg van die lawaai.

Ek bedink vele dinge sommer tegelykertyd: die ritueel en simboliek van wit klere. Die eenvoud van die oop veld. Die communitas van die groep wat ‘n sirkel gevorm het. Die evangelie wat suid, suid versprei het, tot aan die suide van Afrika. Die twee groot houers water wat een kant weg van die groep staan. Die liggaamshoudinge van die mense wat elkeen op sy of haar eie manier vertel van hul reaksie op wat daar by hulle gebeur.  

Ek sou graag by die groep wou gaan inluister het. 

'n Klein wit spatsel. Maar opvallend genoeg om 'n mens tot stilstand te bring...

Tuesday, November 17, 2009

Die volmaakte mistiek: Oor die Franse mistikus, Broer Lawrence en eenvoud

Evelyn Underhill se boek oor “The mystics of the church” het ‘n werklik verruklike gedeelte oor die 17e eeuse Franse mistikus, Broeder Lawrence.

Ek bly nadink oor haar beskrywing van hierdie man wat sy die bekendste en geliefste Franse mistikus noem.

Hy het, skryf sy, die “eenvoudige” boek “Practice of the Presence of God” geskryf.

En hoe eenvoudig was sy mistiek nie. Hy het in sy lewe niks ervaar en laat blyk van al die fases en mistieke oefeninge van die groot mistici nie. En sy lewe is nie vreeslik dramaties nie. Toe hy 18 was, het hy tot bekering gekom en van daardie tyd af alle belangstelling in wêreldse dinge en self-verryking verloor.

So, dink ek toe ek dit lees, sommer net so - hy vind God en verloor alle belangstelling in wat nie met God te doen het nie.... So asof dit die mees natuurlike ding is wat jy kan doen (wat dit natuurlik is...)

Sy bekering bring God se oorvloedige liefde in sy lewe en het hom met liefde vir God laat oorloop. Hoewel hy vir vier jaar daarna deur ‘n moeilike tyd is, het hy uiteindelik ‘n volmaakte vryheid en durende vreugde begin ervaar. En hy doen niks opsienbarends nie. Hy het by ‘n klooster aangesluit en handewerk gedoen - al het hy nie baie daarvan gehou nie. Hy het boonop in die klooster se kombuis gaan werk.

Ook hieroor verwonder ek my: dat 'n mens jouself so volkome in God se liefde kan verloor. En waarom nie? Is dit dan nie die grootste gawe wat 'n mens vir jouself kan toe-eien nie? Hoe is dit dan dat ons so sukkel om die goddelike liefde ons eie te maak?

Sy paar moeilike jare en sy hande-arbeid het hom egter nooit verhinder om God se teenwoordigheid in kontemplasie te ervaar nie. Niks kan hom bind, weg van God se liefde af nie.

Maar toe ek hierdie geskiedenis van Broer Lawrence die eerste keer gelees het, het die volgende sin my diep verwonder: “Sulke vryheid en buigsaamheid, wat Francoise de Sales ook beklemtoon het, beteken prakties ‘n vlak van spiritualiteit wat minder sensasioneel is, maar baie meer afgerond en volmaak is as al die verhewe ervaringe van die ekstatiese mistici,” skryf Underhill dan.

Die mees volmaakte mistiek - hierdie eenvoud? Wat 'n wonderbare stelling en watter unieke voorbeeld.

En dan kom die liefde uit in humor: Lawrence vertel byvoorbeeld hoe hy op 'n dag weer die lastige inkopies moes aanpak en wyn moes gaan koop het vir die klooster. (Ek kan dink aan so baie mans wat hierdie gevoel van inkopies-doen sal herken wat hulle kry as hul vrou vir hulle vertel dat hulle nou winkel toe moet vir inkopies). Broer Lawrence vat sy lot met grasie (! met genade). Hy sê toe vir God: dit is U werk wat ek nou gaan doen. Inkopie-tyd word die Here we werktyd. En toe hy die wyn klaar gekoop het, het hy trots vertel hoe goed het hy dit gedoen.

Dit, skryf Underhill, getuig van hoe ‘n mens se persoonlikheid ‘n ware transfigurasie en omvorming ondergaan soos wat dit totaal deur God se mag en liefde deurdring word.

Ek bly dink aan hierdie deurdringing van die menslike persoonlikheid deur God en hoe totaal God se mag en liefde in mense kan woon. Ek ken ‘n paar mense wat so is, wat so natuurlik God se liefde hulle eie gemaak het.

Net so mooi is Underhill se aanhaling uit briewe wat Broer Lawrence oor homself skryf. Hy vertel dat hy so gewoond is aan God se teenwoordigheid dat dit hom te alle tye onderskraag en ondersteun.

Hier lewe iemand eenvoudig net God se teenwoordigheid.

Hy is so vol vreugde wat so gedurig en oorweldigend by hom bly dat hy soms hierdie ervaring in toom moet hou en moet keer dat dit nie uiterlik word nie.

En, vertel hy, as hy soms te besig raak en van God wil vergeet, dan roep God tot hom en antwoord hy onmiddelik op hierdie innerlike aantrekking. Dan sê hy sulke woorde en frases soos : "Here, kyk na my, ek is Uwe, volkome uwe. Maak my volgens U hart.” En dan lyk dit vir hom of God tevrede daarmee is en weer in die diepte en sentrum van sy lewe kom woon en rus.

Mooi. Die mistiek kan so spontaan, natuurlik en nugter wees. Dit hoef nie uitstallerig te wees nie. Dit hoef ook nie sensasioneel te wees nie. Maar altyd, altyd sal dit diep in die liefde ingebed wees.

Blog Archive