Showing posts with label ontferming. Show all posts
Showing posts with label ontferming. Show all posts

Saturday, July 02, 2011

Ek roep om ontferming. Gebed van Hieronymus



Hieronymus 342-420 n.C.


Ontferm U oor my,
en vul my hart met blydskap,
barmhartige Here.

Ek is soos die man
op pad na Jerigo,
wat deur rowers oorval word,
stukkend geslaan
en vir dood agtergelaat is.
O, barmhartige Samaritaan,
kom my gou tot hulp.

Ek is soos die skaap
wat afgedwaal het:
O, goeie Herder
kom soek my op
en neem my huis toe
volgens U wil.

Laat my in U huis woon
tot in lengte van dae
om U vir altyd te prys.


Friday, July 01, 2011

Ontferming is wat saak maak

Meister Eckhart het 'n uitspraak oor ontferming gemaak wat baie dikwels aangehaal word:


Hy skryf:
'n Mens kan God "liefde" noem. 'n Mens kan God "goed" noem. Maar die belangrikste wat 'n mens God ooit kan noem is ontferming.

Bybelse gedeeltes herinner 'n mens daaraan hoe reg hy is. Kyk net na Jesaja 65:15 en hoe Israel oor God gedink het en vir God ervaar het:

"Kyk uit die hemel uit af, sien ons tog raak uit u heilige en verhewe woning. Waar is u brandende liefde, u magtige dade? Is U nie meer oor ons bewoe nie? Ontferm U U nie meer oor ons nie?"
 
(En dan praat ons van die "Ou Testament"?)

Thursday, June 30, 2011

Die belangrikste werk van God is ontferming. Oor 'n kernwoord van Spiritualiteit


Ek lees vandag hierdie uitspraak van Meister Eckhart oor ontferming – wat een van die vier sleutelwoorde is waarmee ‘n mens die inhoud van Spiritualiteit kan beskryf.

Hy sê: “Die belangrikste werk van God is ontferming. Dit beteken dat God die mens na die hoogste en suiwerste vlak neem wat sy of hy ooit kan bereik.  God neem aldus die mens na wye ruimtes, in die diepste van dieptes, in ongekarteerde plekke. Daar bewys God ontferming.”

Die opmerking bly nou al die hele dag by my.  Die belangrikste werk van God is ontferming! En dit van Meister Eckhart.

Geen wonder dat Waaijman ontferming as volg beskryf nie: 

“Ontferming is ‘n gesindheid en ‘n gedragspatroon wat in sy goedheid alle neergelegde grense oorskrei. Dit is uiterste vriendelikheid, uiterste behulpsaamheid, meelewing met alle mense en ‘n onbegrensde bereidwilligheid om te vergewe. Ontferming is iets wat direk uit die kern van die geestelike ervaring voortvloei: wie God ervaar, bewys ontferming. Spiritualiteit handel oor die ervaring van onvoorwaardelike Liefde en Een-wees. Hierdie Liefde en Een-wees moet toegelaat word om uit te mond in dade van ontferming. Goddelike ontferming moet oorgaan in menslike ontferming. Dit is noodsaaklik. God se ontferming wil  mense in hul houdings, dade, hul denke en in al die sfere van hul bestaan deurdring. Ontferming wil die hele menslike lewe in homself opneem.”

Só herken jy iemand wat die lewe na die Gees lei. Dit is waarom Spiritualiteit gaan.

Ek voel byna oorweldig deur wat hier staan: In Spiritualiteit gaan dit om “uiterste” ontferming. God neem ons na die wydste van ruimtes en die diepste van plekke om ontferming te gee.

Voorts: Wie met sulke ingespande, ekstreme ontferming leef, leef uit die ontmoeting met God. (Dit word ‘n toets!).

En wie God as die Liefde leer ken het, as God wat met ontferming Een word met die mens, kan nie anders as om hierdie liefde in dade van ontferming te laat deurvloei nie.

Dit is ‘n ontnugterende besef – hierdie wete dat ‘n mens die toets van Spiritualiteit gedop het. Nog meer so: die dieper geknaag, dat ‘n mens die lewe na die Gees eintlik nie gesnap het nie. En die gevoel van verraad: maar was daar dan nie soveel kere die liefdevolle aanraking nie? Hoe dan?

Dink nou: al ons strydgesprekke. Al ons teologie, strydgesprekke. Al daardie sinode’s. Bybelstudiegroepe. Preke. Boeke.

Onwillekeurig, so op die oomblik af, kom Matteus 23:23 by my op. Geen wonder dat Jesus gesê het: Salig is hulle wat barmhartigheid bewys, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Monday, June 27, 2011

Ontferming en barmhartigheid - oor die hart van die geestelike reis.


“Ontferming” was vir Joodse gelowiges ‘n sleutel tot die geestelike reis. In Afrikaans word die begrip op ‘n egte Bybelse manier as “barmhartigheid” vertaal – wat iets vertel van die hart wat tot die Ander uitgaan.

Die begeerte om ‘n mens te ontferm word aan ‘n mens geskenk. Wanneer ‘n mens ‘n verhouding met God het, streef ‘n mens om die beeld van God as die Barmhartige uit te dra. God is daarom in die Bybel steeds weer die Ontfermer en die Barmhartige. Wie deur God aangeraak is, word by uitstek iemand vol ontferming.

Hierdie motief berus op sleutel-gedeeltes in die Bybel. Dit kom voor in gedeeltes waarin God vir mense meer oor God vertel. In Exodus 34 word beskryf hoe God aan Moses verskyn het met ‘n Self-onthulling. Verse 6-7 is aangrypend.

“Ek, die Here is die barmhartige”. Só begin God in die gedeelte praat. Dít is hoe God heel eerstens bekend wil wees. Dit is die eerste ding wat mense van God moet weet.

Maar gekoppel aan hierdie eerste begrip in Exodus 34:5 is ander ewe ryk, liefdevolle beelde. Kyk hoe word hulle bygevoeg: “Ek is die genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte.” Dit is nie ‘n goedkoop liefde nie, want God voeg by: “Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag”.

In hierdie Bybelgedeelte sien ons dus onder al die ryk, goeie beelde van God, veral Ontferming raak. Só moet ‘n mens in die eerste plek oor God dink.

Ook elders in die Bybel word God se ontferming/barmhartigheid ten nouste aan die goddelike genade geknoop (Ps. 78:38; 86:15; 103:8 en 11:4). Later sou Jesus in sy Bergrede ook weer hierdie motief beklemtoon: “Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Mt.5:7). En Jesus vra van sy volgelinge om barmhartig te wees soos hulle Vader in die hemele barmhartig is (Lk.6:36). In Jakobus 5:11 word hierdie motief heel intens beskryf: “Die Here is ryk aan barmhartigheid en ontferming”.

Om ‘n mens te ontferm, is ‘n onmiskenbare teken van hoe geloof in die mens se lewe wortel skiet. Daarom is ‘n “vroom” mens iemand wat ‘n hart het wat oorloop van omgee.

Dit is nie net waar van Christene nie. Die geskiedenis van die Jodedom wys hoe daar steeds weer ook onder Jode groepe wat wat met groot ywer gesoek het om ontferming uit te leef.

In die tyd van die Nuwe Testament was veral die Joodse groep van die Esseners bekend as die “heiliges” – soos Josefus, die geskiedskrywer hulle beskryf het. Hulle het in eenvoud geleef en in nederigheid verlang om God met toewyding te dien. Vir hulle was gebed as werklike ontmoeting met God, hul hemelse Vader, so belangrik dat hulle ‘n uur lank voor hul begin bid het, hulle eers in stilte afgesonder en gemediteer het. Hulle sou vir niks hulle gebed onderbreek nie, selfs nie as hulle lewens in gevaar was nie. Nie eers, word vertel, as daar ‘n giftige slang in die omgewing is nie. Hulle het veral die Sabbatdag as God se rusdag noukeurig onderhou. Daarom sou hulle byvoorbeeld nie droom om op die dag oorlog te voer nie.  En hulle het ook versigtig gelet om niks te sê of te doen wat hulle sou verhinder om hul godsdienstige pligte na te kom nie. Mense wat by die Esseners wou aansluit, moes hul besittings verkoop, alles wat hulle het met hul groep deel en nie oor ander probeer baassspeel nie.

Hierdie groep Jode soek om met liefde en diep respek teenoor God en ander mense te leef. Van God ontvang hulle ontferming. En dit stroom deur hulle na buite om met ander te deel. Maar voordat dit kon gebeur, het hulle hul ingestel om nederig te wees. Daarom het hulle gedurig hulle self ondersoek sodat niks hul verhouding met God kon aantas nie.

Die Hasidim het dus ‘n toegewyde asketiese lewe gevoer. Hulle het vir hulleself hoë ideale gestel. Dit was nie genoeg om goed te wees nie. Die vroom mens moet totaal goed wees. Daarom wou hulle graag sterker as ooit na God soek, met groter inspanning as ooit hulle self in God se diens beskikbaar stel, met intenser aandag as ooit hul instel op die stem van God.

En teenoor ander het hulle veral liefde en respek getoon. En dit het heel prakties na vore gekom daarin dat hulle niks sou doen wat iemand anders pyn sou aandoen nie. 

Of, lees ek vandag met aandag, hulle sou met groot verdraagsaamheid mense se beledigings en uitskellery verduur het.

Om ‘n vroom mens te wees, het dus veral beteken om vir ander om te gee. Dit was nie ‘n wêreldvreemde vroomheid nie. Dit was ook nie ‘n misrabele vroomheid nie. Een van die groot verteenwoordigers van die Joodse vroomheidsbeweging het byvoorbeeld oor die vas geskryf: “As hongerte jou geïrriteerd maak, eet liewer kos sodat jy weer beter kan voel”.

In latere eeu sou ‘n mens in die Jodedom merkwaardige herlewingsbewegings kry waarin vroomheid met sterk ontferming ‘n sentrale motief was. In Spanje, selfs in die tyd van die More en in Duitsland met die beroemde Rynlandse mistici, sou daar Joodse gelowiges wees wat alles op die spel geplaas het om hul verhouding met God in alledaagse vroomheid as ontferming uit te leef.  

Dit is die opvallende van die geskiedenis van die Joodse Hasidim: om vroom te wees, om heiligheid na te streef, beteken om in ontferming te leef. Tot in die fynste detail, gee hulle om – vir God, vir hul eie verhouding tot Gd, vir ander en vir die wêreld. 

Met die terugsit en nadink oor hierdie groot aspek van spiritualiteit, lees ek uiteindelik 'n sinnetjie wat my laat besef waarom 'n mens so intens na ontferming streef. Alles wat 'n mens doen, alle dade waarin 'n mens wys hoe jou innerlike gelaai is met ontferming, is 'n teken van wat in 'n mens se innerlike gebeur. 'n Mens wat in die moeilikste omstandighede, selfs in tye van spot en belediging, kan uitreik na die ander, is iemand in wie se hart God seenend teenwoordig is. Dit is 'n persoon wat innerlik geheilig word. 
Om goed te wees, veral goed te wees teenoor ander, is 'n teken dat 'n mens van binne uit, in 'n mens se diepste innerlike, in God se teenwoordigheid ingeseen word.


Sunday, September 06, 2009

"Oopgeskop": oor misrekende ontferming....

Die volgende word opgeneem in my spesiale boekie vir nuwe, goeie grappe. Dit kom uit vandag se Rapport.

Die dronkie kies kortpad deur die begraafplaas en beland in ’n oop graf. Later die nag begin dit reën en hy kry koud?… Hy huil kliphard.

“Help! Iemand, help my tog, dis koud hier onder!” Daar stap Gatiep verby, lekker getrek. Hy hoor die hulpkreet, loer in die graf, gryp ’n graaf en begin die hoop sand ingooi terwyl hy troos: “Toemaar, toemaar. Dish g’n wonner jy kry koutie, jy’tjousjelf dan oopgesjkop.”

Blog Archive