Ek lees vandag hierdie uitspraak van Meister Eckhart oor ontferming – wat een van die vier sleutelwoorde is waarmee ‘n mens die inhoud van Spiritualiteit kan beskryf.
Hy sê: “Die belangrikste werk van God is ontferming. Dit beteken dat God die mens na die hoogste en suiwerste vlak neem wat sy of hy ooit kan bereik. God neem aldus die mens na wye ruimtes, in die diepste van dieptes, in ongekarteerde plekke. Daar bewys God ontferming.”
Die opmerking bly nou al die hele dag by my. Die belangrikste werk van God is ontferming! En dit van Meister Eckhart.
Geen wonder dat Waaijman ontferming as volg beskryf nie:
“Ontferming is ‘n gesindheid en ‘n gedragspatroon wat in sy goedheid alle neergelegde grense oorskrei. Dit is uiterste vriendelikheid, uiterste behulpsaamheid, meelewing met alle mense en ‘n onbegrensde bereidwilligheid om te vergewe. Ontferming is iets wat direk uit die kern van die geestelike ervaring voortvloei: wie God ervaar, bewys ontferming. Spiritualiteit handel oor die ervaring van onvoorwaardelike Liefde en Een-wees. Hierdie Liefde en Een-wees moet toegelaat word om uit te mond in dade van ontferming. Goddelike ontferming moet oorgaan in menslike ontferming. Dit is noodsaaklik. God se ontferming wil mense in hul houdings, dade, hul denke en in al die sfere van hul bestaan deurdring. Ontferming wil die hele menslike lewe in homself opneem.”
Só herken jy iemand wat die lewe na die Gees lei. Dit is waarom Spiritualiteit gaan.
Ek voel byna oorweldig deur wat hier staan: In Spiritualiteit gaan dit om “uiterste” ontferming. God neem ons na die wydste van ruimtes en die diepste van plekke om ontferming te gee.
Voorts: Wie met sulke ingespande, ekstreme ontferming leef, leef uit die ontmoeting met God. (Dit word ‘n toets!).
En wie God as die Liefde leer ken het, as God wat met ontferming Een word met die mens, kan nie anders as om hierdie liefde in dade van ontferming te laat deurvloei nie.
Dit is ‘n ontnugterende besef – hierdie wete dat ‘n mens die toets van Spiritualiteit gedop het. Nog meer so: die dieper geknaag, dat ‘n mens die lewe na die Gees eintlik nie gesnap het nie. En die gevoel van verraad: maar was daar dan nie soveel kere die liefdevolle aanraking nie? Hoe dan?
Dink nou: al ons strydgesprekke. Al ons teologie, strydgesprekke. Al daardie sinode’s. Bybelstudiegroepe. Preke. Boeke.
Onwillekeurig, so op die oomblik af, kom Matteus 23:23 by my op. Geen wonder dat Jesus gesê het: Salig is hulle wat barmhartigheid bewys, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.