Daar is sommige dinge waaroor ons nie ‘n oomblik hoef te twyfel nie. Om moord te pleeg, is verkeerd. Dit is nie God se wil nie. Om te steel kan ook nie God se wil vir ons lewens wees nie. Dit geld ook vir lieg, haat, ontrouheid en vele ander dinge wat ons gewoonlik as “sleg” en die “kwaad” beskryf. Om lief te hê, om jou te ontferm, om vir ander te sorg, weet ons, is ook God se wil vir ons lewe. Dit geld ook vir baie ander goeie dinge wat ‘n mens se lewe verryk en vorm na God se beeld.
Ons weet dus helder en duidelik dat goed en kwaad vir of teen God se wil is.
Maar soms is dinge nie so helder nie. Ons vra na die wil van God omdat dit nie altyd vir ons duidelik is hoe ‘n mens se lewe in diens van God moet staan nie. Dinge kan God se wil wees, of ook nie. Cassianus noem baie voorbeelde van dinge wat óf in lyn met God se wil kan wees, óf nie God se wil vir ons lewe is nie.
Dit lyk eenvoudig. Maar as ‘n mens hieroor begin nadink, kom ‘n mens gou agter waarom hierdie onderwerp so belangrik is. Cassianus lys is leersaam en interessant: Gebed, Bybellees, vas en afsondering kan soms in God se wil wees. Dit kan selfs gebeur dat hierdie sake nie God se wil vir ons lewe is nie – skryf hierdie wyse geestelike leier. Hy noem nog ‘n klomp ander sake, soos byvoorbeeld gesondheid, skoonheid, huwelik, werk wat in God se wil ingebed wees of teen God se wil is. ‘n Mens hoef nie ver vir voorbeelde te gaan soek nie – dink maar aan Jesus se skreiende kritiek op die bid- en vasgewoontes van die Skrifgeleerdes en op die sendingywer van die Fariseërs. Om nie te vergeet van Petrus se vrome uitsluiting van die heidene en sy ywer vir die besnydenis nie. Sendingwerk kan teen God se wil wees. Tempelofferandes, leer ons dikwels in die Ou Testament, kan God se wil teenstaan.
Die groot vraag word nou: Hoe kan ‘n mens vanuit God se perspektief na hierdie neutrale dinge kyk? Hoe weet ‘n mens dat jou lewe, jou godsdiens in God se wil is? Wanneer is 'n huwelik God se wil? Wanneer is sendingwerk in God se wil?
Heel eerstens word al hierdie dinge eers in lyn met God se wil wanneer hulle die pad vir ons na God oopmaak.
Tweedens moet ‘n mens altyd weer gereed wees om hierdie dinge te weeg. Ons trou nie maar sommer net nie. Ons “het” nie ‘n vrou of ‘n man nie. Net so min as wat ons ‘n “werk” het of besit. Ons het alleen maar vertroue op God wat die uitgangspunt word om na te dink oor al die ander uiterlike dinge in ons lewe. Ons benader niks hiervan dus met die oog op onsself nie. Uiterlike dinge is nie deurslaggewend vir ons lewe nie. God se genade en goedheid, God se teenwoordigheid is wat werklik saak maak. Dit vra van ons nederigheid. ‘n Mens kan alleen God se wil onderskei wanneer ‘n mens jou eie wil uit die pad kry en soek na God se perspektief op dinge. Hoe, dus, herken ek God se wil? Deur uit God se genade te leef en in die lig van God se genade oor die res van my lewe na te dink.
Waaijman verwys verder ook na Bernard van Clairvaux wat vertel het van tye wanneer ons onseker is oor God se wil en nie meer so helder kan sê wat goed of wat die bose is nie. Bernard leer ons een groot les: so lank as wat ‘n mens hieroor twyfel, moet ‘n mens terughou en niks doen nie. Geduldig moet ons wag, terwyl ons altyd weer toets of God nie dalk juis die teenoorgestelde vra van wat ‘n mens dink die goddelike wil is nie. Maar, sê Bernard, ook weer prakties, wanneer ‘n mens uiteindelik seker weet wat God se wil is, moet ‘n mens dit dadelik doen.
Bernard gee ook raad oor hoe ‘n mens kan weet jy het reg gekies. Sy woorde is: God se wil sal jou altyd vul met ‘n liefde vir die waarheid. Dit sal die vrugte van die Gees in ‘n mens se lewe laat groei. Geregtigheid, vrede en vreugde sal ‘n mens se bestaan vul. ‘n Mens sal getroos en vervuld wees. Die lewe sal nuut voel, vol krag. In ‘n mens se lewe word die begeerte na God deur die gehoorsaamheid aan die goddelike wil net groter. ‘n Mens se kennis word verdiep en laat die liefde sterker word.
Ek lees Bernard hieroor. Dit boei my. Om in God se wil te wees, met ander woorde, gee aan ‘n mens ‘n volgroeide, innerlike vervulling, ‘n geestelike volwassenheid wat alles in jou en om jou aantreklik maak.
Waaijman kyk ook ten slotte na Ignatius van Lojola oor die onderskeiding van God se wil. Om te weet of dit God se wil is wat in ‘n mens se lewe werk, moet ‘n mens steeds weer die oog op die lewe van Jesus gevestig hou. Biddende moet ‘n mens gedurig in Jesus se lewe inwoon. Hierdie interaksie met die lewe van Jesus sal ons lewe prakties vorm en beïnvloed. Ons moet dus oop wees om getransformeer te word in konformiteit aan Christus. Dit beteken ‘n soeke na die spore van Jesus se lewe wat in ons eie bestaan getrap is. Laastens, moet mens steeds weer bly kies vir die wenke wat God vir ons gee.
Die soeke na God se wil is ‘n hele proses wat baie kante het. Dit is waar: die mens maak ‘n keuse. Maar tog werk dit weer iets anders. Die menslike keuse is iewers ‘n openheid vir God se werking in mense se lewe. Deur vir God se wil te kies, verheerlik die mens God. God is dus eintlik die Een wat kies. Dan word die mens se lewe ryk aan vrede, vreugde, vertroue en hoop (Gal.5:22). Elke keer weer, wat ook al ons openheid vir God se wil, sal ‘n mens aan die einde bely dat dit God is wat die mens verander en dat God steeds weer die mens omvorm. God alleen troos die mens. Hieroor is daar geen twyfel nie. Dit is ‘n sekerheid wat diep in die gemoed van die mens vasgelê word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.