Dorothee Soelle se bekende boek is The Silent Cry. Mysticism and Resistance. Ek lees dit nou eers – tien jaar nadat dit in Engels verskyn het en 14 jaar na die Duitse uitgawe.
Haar eerste hoofstuk het die opskrif: “Ons is almal mistieke mense.” En sy haal bo-aan die hoofstuk vir Novalis aan: “As alle mense minnaars was, sou die onderskeid tussen mistieke en nie-mistieke mense verdwyn”! Daarmee berei sy die lesers voor op haar bedoeling met hierdie boek.
Mistiek is nie die eksklusiewe ervaring van ‘n klein, vroom groepie nie. Dit is noodsaaklik vir alle mense om sinvol te bestaan.
Sy skryf oor mense, wat selfs as kinders, ‘n spesiale oomblik of ervaring gehad het van ‘n goddelike teenwoordigheid. Daarmee wil sy verduidelik waaroor mistiek gaan. Die boek wat maklik lees, bevat die een verhaal na die ander waarin sy dit illustreer: mense wat verander is toe hulle op ‘n keer bewus geword het van iets wat van buite af tot hulle gekom het. En van daardie tyd af leef hulle al soekende, met ‘n intense afwagting om hierdie goddelike werking in hul lewe te ervaar.
Sy wil in die boek die mistieke ervaring “demokratiseer”, skryf sy. Teveel mense dink mistiek is ‘n hoë oomblik in sommiges se lewe wat nie vir die gewone mens beskore is nie. Die mistiek is, soos Ernst Bloch se laaste beroemde sin van sy boek, Die Beginsel van Hoop, geskryf het: “iets wat skyn in die kindertyd van almal en waarin niemand nog was nie: tuisland.” Mense weet van ‘n oomblik van verligting, warm strale wat in ‘n mens se lewe inskyn. Hulle ken die vreugde van die spesiale plek waarin hulle deur die ervaring ingelaat word – vir ‘n oomblik – al is dit ‘n plek waar mense nog nie woon nie.
Skryf Soelle: “Daar het oor baie van ons – ek wil amper skryf oor elkeen van ons – tye met intense ervaringe in ons kinderjare gekom waarin ons deur ‘n wonderlike, oënskynlik onwrikbare sekerheid oorweldig is.” Dit is tye wat ‘n mens selfs as oomblikke van ontsetting ervaar. “Ontsetting beteken dan verwondering, maar dit is ook meer. Dit kan selfs as skok, selfs as vrees beleef word, al is dit nooit angs nie. Dit is ‘n ervaring wat by mens bly as uitsonderlike, wat ‘n mens na meer laat begeer omdat dit helend werk. Iewers integreer dit ons lewe, rond dit af, laat ‘n mens die volmaakte ervaar. Van dan af begin die liefdesverhouding met God....
Die eerste bladsy van haar boek wil dus wys hoe die mistieke ervaring vir almal, selfs vir kinders, beskore is. In sommige kulture, skryf Soelle, word sulke ervarings vernietig, of geïgnoreer. En duidelik sluit sy die moderne Westerse brein-kultuur daarby in. In ander, ryker kulture sal ‘n ma soggens vir haar kinders vra: “wat het julle gisteraand gedroom.” Dit is die vraag van ‘n ma wat weet dat die drome, die ingeseënde teenwoordigheid van ‘n groter, ander wêreld, van kosbare gevoelens wat in die stilte van die nag ons tot in ons onderbewuste vul, spesiaal kan wees. Dit kan selfs eendag ‘n kind se lewe aanvuur. Dit kan deur hulle die wêreld verander. Drome uit die kinderdae maak van mense vryheidsvegters, laat hulle baklei vir wat saak maak. Dit bring in hulle diepe gevoelens van geluk.
In die Westerse kultuur met sy starre, lewelose rasionalisme, sondig ons: die kind moet deur die maatskappy tot slaaf gemaak word. Hy moet presteer, sy moet slim wees, hy moet ‘n ster raak, sy moet ‘n nuttige mens wees. Daarom vra ma vir die kind: Het jy geoefen? Is jou huiswerk klaar? Het jy jou groente geëet? Is jou skoene gepoets? Só praat ons soggens met ons kinders, onbewus van die drome wat hulle droom, van hulle spesiale oomblikke.
Hoe kan dit anders: Ons het dan die mistiek in ons eie lewe verloor, die goddelike aanraking van kindsbeen-dae laat verflou. Daarom sien ons dit nie meer raak nie. Ons dink dit is ‘n klompie vreemde, selfs dweperige mense wat eenkant op hul eie sulke dinge beleef. Ons het intussen arm geword, die rykdom van drome en van die nabyheid van God verloor. Mense het ongelukkig geword, onvervuld deur al hulle nuttige, presterende, vol programme.
John Woolman (1720-1772), vertel Soelle een van haar baie anekdotes, was ook ‘n mistikus wat, soos hy geskryf het, bewus was van die werkinge (mv.) van God se liefde. Toe hy sewe jaar oud was, het hy eenkant, op sy eie, terwyl sy maats verder-af in die veld gaan speel het, onder ‘n boom Openbaring 22 gaan lees. Hy luister hoe Johannes die rivier van water sien, helder soos ‘n kristal, wat uit die troon van God en die Lam vloei.... Terwyl hy dit lees, het daar in hom ‘n begeerte opgekom na die woonplek wat God vir God se mense voorberei. En die simpel daad van Bybellees in die natuur sou in sy lewe ‘n lang nadraai hê. “Die plek waar ek gesit het en my spesiale gevoelens terwyl ek gelees het, het by my gebly.” Die sewejarige kind wat, al lesende, verby die boek, verby die simbole, verby die taal, God se helende teenwoordigheid beleef. Intense word hierdie jong kind in ‘n intieme eenheid met God opgeneem. “God is hier!” Die helder water vloei ook vir hom. Hy word verenig met die lewe en die Bron van die lewe. Hy word deel van ‘n groter, ‘n onvernietigbare geheel. Hy ervaar as sewejarige kind wat vertroue is. Die innerlike lig skyn ook oor hom.
Wat het ons aan ons kinders gedoen? En aan onsself? Wat het ons met hierdie oomblikke van vertroue gemaak?
Ons wil hulle vergeet. Ons is bietjie skaam dalk. Dit was, dink ons, tye van kinderlikheid, selfs kinderagtigheid, te ryke verbeelding, oor-entoesiasme. Ons trivialiseer dus hierdie tye. Dit is, maak ons dit af, beuselagtige dinge uit ‘n tyd toe ons ons met simpel dinge opgehou het. En daarmee begin ‘n lewenslange proses waarin ons die innerlike lig uitdoof, die ervarings wat God aan ons wil skenk, afmaak en eerder aandag gee aan wat vir ‘n mens mag gee, en wat vir jou ‘n gemaklike lewe inbring. En, interessant, skryf Soelle, op die manier verval ons in ‘n kultuur waarin ons alles as beuselagtig beskou.
Ek lees Soelle se boek en interpreteer haar eerste hoofstuk op die manier, met die gevoel dat haar helder skryfstyl en haar heel konkrete voorbeelde my help om dinge beter te verstaan wat voorheen onuitgepak in my gemoed gelê het. Maar uit die eerste bladsye is daar een oorheersende indruk: Dit is waar dat ons arm geword het aan die innerlike, ryke belewing van God. Ons mis God, maar ons weet nie mooi hoe nie. Ons lewensstyl neem alles van ons in beslag, so erg, dat ons nie meer besef wat eintlik regtig mooi, spesiaal en ryk is nie. Die mistiek wil ons die eeue-oue verhaal oorvertel van gewone mense, van kinders wat rykdom in hul lewe leer ken en koester het.
Die mistiek het ‘n demokratiese karakter. Almal kan daarin deel.
Soelle se boek is vir my ‘n interessante teks omdat dit vir my herhaaldelik uitwys dat die innerlike wat 'n mens ervaar, na buite veruiterlik moet kan word. Die mistiek moet ons in die wêreld anders laat voel - teenoor ons kinders, teenoor hulle wat van ons afhanklik is, teenoor geweld (sy het ‘n hele hoofstuk daaroor) en vele ander dinge.
Mistiek is nie ‘n bedompige, self-gesentreerde ervaring nie. Dit is nie ‘n self-help aksie waarin ons mooi na ons self kyk en jaag daarna om goed te voel nie, asof alles maar om verinnerliking gaan nie. Verinnerliking is absoluut noodsaaklik, ja, veral in 'n lewenskonteks waarin mense oppervlakkig bestaan. Maar verinnerliking is 'n eerste, lewegewende stap tot die deel van lewe, tot verryking in die lewe. Dit is juis in veruiterliking dat mistiek nuwe krag kry.
Mistiek is nie ‘n bedompige, self-gesentreerde ervaring nie. Dit is nie ‘n self-help aksie waarin ons mooi na ons self kyk en jaag daarna om goed te voel nie, asof alles maar om verinnerliking gaan nie. Verinnerliking is absoluut noodsaaklik, ja, veral in 'n lewenskonteks waarin mense oppervlakkig bestaan. Maar verinnerliking is 'n eerste, lewegewende stap tot die deel van lewe, tot verryking in die lewe. Dit is juis in veruiterliking dat mistiek nuwe krag kry.
Nog meer: mistiek moet veruiterlik word deurdat ons daaroor praat, skryf, preek - of, belangriker, dit leef. Soms kan so 'n gepraat weliswaar geklets word en soms moet 'n mens miskien maar liewer swyg. Maar altyd moet die mistiek beleef word, in die lewe ingetrek word.
Mistiek wil, weliswaar op mistieke manier, gesien word.... Want wat regtig saak maak, is dat ons die helder lig deurgee, veral deur"leef". Die oomblik van oneindige vertroue in alles wat vir ons groter as ons is, moet ons deel. Dit moet uit. Dit kan nie ingeperk word in ons klein binneste nie. Die mens is deel van die Oneindige en leef in ‘n lewegewende interaksie met die Groot Geheel van goddelike genade. Die beweging is steeds weer vanuit die genade na die genade toe.
Mistiek wil, weliswaar op mistieke manier, gesien word.... Want wat regtig saak maak, is dat ons die helder lig deurgee, veral deur"leef". Die oomblik van oneindige vertroue in alles wat vir ons groter as ons is, moet ons deel. Dit moet uit. Dit kan nie ingeperk word in ons klein binneste nie. Die mens is deel van die Oneindige en leef in ‘n lewegewende interaksie met die Groot Geheel van goddelike genade. Die beweging is steeds weer vanuit die genade na die genade toe.
Hier is 'n aangrypende gebed van Soelle:
I believe in God,
Though the world does not.
God always remains so,
Even while the world refuses to be governed by the eternal laws,
Which are designed for all from rich to poor,
Experts to the uninformed,
Rulers to the ruled.
I believe in God;
The contradiction of the world's will.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.