Dit is vreemd om twee redes:
Ons maak gedurig planne. Waar ons ‘n kind in die skool gaan sit, wat die kind gaan studeer, waar ons wil werk, waar ons ‘n huis wil koop, waarheen ons met vakansie gaan, watter skoene ons koop, met wie wil ons vriende maak, hoe ons dag gaan lyk – elke oomblik van ons lewe neem ons besluite oor wat ons te doen staan.
Om in hierdie kultuur van besluitneming te vra na God se wil, is byna ondenkbaar.
En tog is dit ‘n belangrike vraag. Want wat ons alles beplan en wat ons wil doen, is nie noodwendig goed nie en sal ons nie vanself vervuld maak nie.
Om na God se wil te vra, is dus eintlik nie vreemd nie. Dit impliseer dat ons vra of dit waarmee ons besig is, regtig sin aan ons bestaan gee. Ons lewe is ‘n unieke geskenk, eenmalig, kosbaar, onvervangbaar. ‘n Lewe moet dus voluit gelei word. En om voluit, sinvol te leef, is om ‘n goddelike lewenswyse te voer. Die vraag na die wil van God is dus die vraag na ‘n sinvolle, vreugdevolle lewe. Dit is nie die vraag of ek besluite kan neem nie, maar dit is die vraag of ek goeie besluite neem.
Maar die vraag na God se wil is om ‘n tweede rede ‘n vreemde saak. Ons maak al ons planne en alles wil ons net mooi reg uitwerk.
Maar dan, skryf Bonhoeffer, kom daar mense oor ons pad wat ons nodig het en ‘n appel op ons maak. Levinas het beklemtoon dat ons nie ‘n keuse het nie. Ons het ‘n verantwoordelikheid om die appel van die ander op ons lewe aan te hoor en te gehoorsaam.
God gryp in en bring ons tot stilstand en deurkruis ons planne op die mees onverwagte maniere. Om te vra na hoe onderskei ons God se wil vir ons lewe, het dus nie te doen met ons vermoë om te besluit wat God se wil is en dit dan te gehoorsaam nie. Só vreemd is dit nie. Ons “ontvang” God se wil. Eintlik moet ons dus vra: hoe herken ek God se wil vir my lewe in alles wat oor my pad kom?
Die wyses van die tye het die ryp spreekwoord gehad: die mens wik, maar God beskik. Ons besluit, maar God bepaal.
Dit maak van ons mense wat gedurig oop-oë deur die lewe moet gaan. Daar kom dinge oor ons pad wat ons nie voorsien nie. Selfs in die oënskynlike maklike besluite wat ons moet neem: na watter skool ons kind gaan, watter kursus ons moet loop, waar ons gaan bly. Dit is komplekser. Allerhande gebeurtenisse word deur sulke besluite losgemaak. Dan vra dit van ons om te kan onderskei – waarheen is ek op pad met die besluite wat ek neem wanneer onvoorsiende dinge met my gebeur.
Dit is vreemd om te bedink: ons besluit nie oor ons lewe nie. Ons reageer oor wat God in ons lewe laat gebeur.
Des te meer rede om naby aan God te leef. Om reg te kan hoor wat God vir ons sê.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.