CNN wys ‘n program waarin die verslaggewers hulle indrukke gee van die onlangse aardbewing, tsunami en kernsentrale-krisis in Japan. Hulle beeldsend nuwe video’s van die krag waarmee die tsunami-golwe dorpe, huise, geboue, bote, motors en enige voorwerpe in sy pad wegsleur.
Daar is kommentaar van die verslaggewers se eie ontsetting soos hulle terugkeer na die indrukke wat die rampe op hulle gelaat het. ‘n Mens besef: niks, nie eers wat jy op die skerm sien, kan jou regtig laat begryp wat werklik daar gebeur het nie. ‘n Mens moet, soos die stereotipe opmerking vertel, dit ervaar het.
Daar is onderhoude met oorlewendes wat weer eens iets van die rampe se impak probeer deurgee. Die een verslaggewer onthou ‘n man wat vertel dat hy, terwyl hy sy bejaarde pa aan die hand vashou, sien hoe sy ma weggesleur word. Net vir die watermassa’s om kort daarna sy pa uit sy hand weg te ruk. ‘n Jong vrou vertel sonder emosie, sê ‘n ander verslaggewer met verbasing, dat sy sewe of agt familielede verloor het – en een van hulle was haar agtjarige seun. Langs haar sit haar ander seun wat sy nou, na die tragedie, moet versorg deur sy omgewing so normaal as moontlik te hou. Daarom haar kalmte. En tog, se die verslaggewer, kan haar uiterlike nie haar ingehoue verdwasing wegsteek nie. Die kamera wys die vrou terwyl sy op haar hand aftel hoeveel van haar familie dood is. Sy tel, vinger na vinger, asof dit iemand anders as sy is wat daar sit en die inligting aan die vraagsteller moet gee.
In Japan, die land met die eeue-oue beskawing, treur mense met ‘n ingehoudheid, in elk geval, vertel ‘n ander verslaggewer. Hulle wys nie hulle smart openlik nie. Daarom, sê sy, onthou sy hoe ‘n pa met sy sestienjarige seun se lyk in sy motor by die seun se skool opgedaag het. Hy wil vir die seun se maats ‘n kans gee om afskeid te neem, om so deur hulle rou te werk en die trauma van die gebeure te verwerk. Die maats, wys hulle in ‘n video, almal die seun se ouderdom, staan in ‘n kring om die motor, rondom hulle die verwoeste skool te midde van ‘n hoop rommel van rondgespoelde debris. Ook hulle, Japannees, staan met geboë hoofde, min uiterlike emosie, maar hier en daar sien ‘n mens ‘n vinnige afvee van trane. Die atmosfeer is stukkend van rou.
Wat hom beïndruk, sê ‘n verslaggewer, aan die einde, is hoe die Japannese op die natuurramp reageer. Hy het tonele van onbegrensde teerheid en goedheid beleef, wat hy nie sal vergeet nie. Terwyl hy praat wys daar op die skerm ‘n groot saal waarin baie mense op die vloer lê. ‘n Bejaarde vrou sit langs haar man, wat lyk asof hy baie siek is. Sy oë is toe, sy mond half oop. Sy het ‘n nat doekie in haar hand, en, terwyl sy stip net na hom kyk, verlore in haar aandag vir hom, maak sy aanhoudend sy lippe nat, minute lank, met ‘n sagte gebaar van ongekende teerheid. Sy is onbewus van haarself, van haar omgewing, van die ramp. Nou, wat tel, is die versorging van hom wat by haar is
Terwyl ek die program bekyk, besef ek dit is nie net Japannees om met teerheid en ontferming te reageer op rampe nie. Deur die eeue heen bring swaarkry die mooiste en edelste in mense uit. Ons sien dit op die televisie-skerm, in skilderye. Ons lees dit in boeke, klassieke werke, wat die inherente omgee van mense op weergalose, tydlose maniere uitgebeeld het.
Maar ons ervaar dit self aan eie lyf: onlangs, in ‘n situasie van afskeid-neem, na die diens, in die ou plekkie van geborgenheid waar ons byeen is, sien ek met verwondering die mense wat van oor die land net vir ‘n uurtjie of twee kom wys het hul gee om, kilometers ver gereis, teen groot koste, deur die nag bestuur en wat net kom hand druk en groet. Dadelik na die tyd weer in die pad val. Dit was ‘n onderbreking teen groot opoffering in hulle baie besige dagtaak elders in die land, om hul omgee te wys, te beleef, om die seerkry te besweer, om die tydelike te transendeer, om ewigheid uit te wys, te beleef, om van onverganklikheid te vertel. Dit is goedheid. Goddelik.
Op die manier veredel ons die kruheid en brutaliteit van ons lyding. Dit is ons burg teen seerkry. Ons slaan daarmee ‘n bres teen die lang winter van ontbering wat soos ‘n skaduwee steeds in ons spoor volg.
Wat, besef ek, eintlik, terselfdertyd lyding tog ook weer soveel akuter en slegter maak.
Vandaar dat ons nie net praat oor lyding en dit met ons meelewing stuit nie. Ons moet op dieper vlak daarmee worstel. Vandaar dat ons lyding met die Godsvraag verbind. Dit word ingetrek in ons godsdienstige leefwêreld. Dit is, binne die gedagtes van hulle wat eg en outentiek leef, nie moontlik om ‘n naïewe voorspoedsgeloof te probeer leef nie. So ‘n oppervlakkigheid word een of ander tyd deur die tsunami van lyding verpletter.
Die Skrif werk met lyding – ook al worstelende – as dít waaroor die hart van die evangelie gaan – reeds die slawerny in Egipte, die leeftyd-lange uittog deur die woestyn, dan, intens, die onbegryplike kruis te midde van die gebroke wêreld. Dit praat oor die stukkende lewens wat agterbly as seerkry toegeslaan het.
En antwoord na antwoord word as gebaar van goedheid probeer, gesuggereer, getuig, gewaag.
Boek na boek in die Bybel vertel daarvan.
Steeds weer, soos in Japan, soos in ons eie tyd van verlies, is daar skynbare onwyse antwoorde in hierdie boek van Wysheid – dwaas lyk hulle soms vir die slimmes (voorspoed klink soveel inspirerender) – is daar maar net woorde wat werk soos klein gebare, is daar vertellings as skrale momente van troos, soms in hul troos selfs tot verdieping van die pyn.
Maar hulle is daar, kragtig in hul blywende nawerking. Hulle is soos ‘n goeie wyn, wat homself eintlik eers uitwys in sy skoonheid deur die bloeisel van die nasmaak wat die palet bly vul. Hulle, hierdie eenvoudige gebare van goedheid, dikwels skaars raakgesien, werk, bly werk.
Soos die tye van pyn sagter word, soos die lyding verbygaan, bly hierdie goedheid by ons. Ons onthou dit. Vertel daarvan. As Evangelie. As omgee. As goedheid. Dit is die onverganklike – daardie afvee van trane, eendag, deur God, maar ook daardie stil, eenvoudige oomblik wanneer die doekie prewelende, sterwende lippe natmaak, wanneer die een wat seergekry het sonder ‘n woord maar net omhels word, dit is God, dit is hulle wat paradystyd bring. En wat ons staal teen die onverbiddelike terugkeer van die Groot Vyand.
Bekende foto van Therese Frare
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.