Ek lees vanaand ‘n stuk van Biskop Hans Lilje, die bekende Duitse kerkleier en lid van die Belydende Kring in Duitsland wat die verset teen die Nazisme help stuur het.
Hy skryf ‘n stuk oor “Vryheid” en bespreek die begrip “vertroue”. Vertroue gaan oor vastigheid; dit het nie noodwendig te doen met “sekerheid” nie.
Vertroue is ‘n gawe wat God aan ‘n mens gee. Vertroue op God help ‘n mens tot self-opoffering en om eie belang prys te gee.
Wanneer ‘n mens in God se diens staan, moet ‘n mens vas geanker wees in vertroue op God, op ‘n mens se roeping, op God se teenwoordigheid in ‘n mens se bediening. Dit is hierdie innerlike vertroue dat ‘n mens deur God se verhouding met jou gedra word, wat die bediening sinvol maak.
Dikwels dink ons anders. Die applous van mense, die pluimpies oor goeie preke, die vleiery oor die menslikheid, oor die suksesvolle basaar, kan ‘n mens se begeerte en verlange word.
Sekerheid hang egter in sulke gevalle af van uiterlike dinge en van menslike omstandighede, van sukses, van erkenning, van mense se goedkeuring.
En tog, weet ons, menslike omstandighede is wisselvallig, wispelturig en onbetroubaar. Die suksesvolle oomblik van vandag, is spoedig deur die teenspoed van môre vernietig.
Lilje verwys na Fenelon wat geskryf het, “Die werk van God kan alleen op die ruïne van ons self gebou word.” Wat tel is nie of die pastor uitblink in die oë van die gemeente nie en of hy/sy die handeklap van ‘n waarderende menigte in sy ore hoor klink nie.
Wat tel is of ‘n mens in die wil van God leef. Dit geld vir die mens wat as pelgrim die geestelike weg loop, veral ook vir geestelike leiers. Een van die eerste dinge wat ‘n pelgrim leer, is om weg te kyk en vry (vryheid!) te wees van menslike sukses. Daar is, skryf Lilje, iets verskrikliks verkeerd as ‘n geestelike leier in sy of haar bediening afhanklik is van uiterlike sukses.
Geen pastor sal ‘n vervullende bediening hê solank as wat hy of sy nie die versoeking afgewys het om suksesvol in die menslike sin van die woord te wees nie. Dit is hier waar die pastor se werk verskil van enige ander beroep. Elke ervare pastor weet hoe ‘n jong beginner se bediening geestelik agteruit kan gaan as gevolg van uiterlike sukses. Maar, skryf hy, ouer predikante is geen uitsondering.
Vertroue in die sinvolheid van ons bediening word bepaal deurdat ons harte onafhanklik kan bly van wisselinge van uiterlike sukses. Ons moet vry kan wees van die oppervlakkige.
Die geestelike weg vra dikwels dat ‘n mens maar ‘n wye draai om die guns van mense moet loop. Want daardie innerlike wete dat ‘n mens die regte ding doen, dat ‘n mens God se Woord bedien, dat ‘n mens God se stem laat hoor, beteken soms juis om teen die applous in te praat. Dit vra soms om met ‘n doringkroon gekruisig te word. Dit beteken soms dat ‘n mens se pad in mislukkig eindig. Dit is die aard van die bediening.
Dit is nie ‘n stuk masochisme nie. Dit is ook nie ‘n ek-weet-alles-julle-weet-niks houding nie. Daar is niks arrogants hieraan nie. Dit is eerder die wete dat ‘n mens God se pad loop, opofferings maak, ook aan guns by mense. Dit is ‘n pad wat ‘n mens loop in vaste vertroue op God. Dit is die vaste wete dat God ‘n mens vry gemaak het om net aan die Liefde getrou te bly en om alleenlik die pad van die Liefde te loop.
Die opskrif van die gedeelte wat ek gelees het, lui eenvoudig: Vry!
Dit is een van die min opskrifte in die boek wat ‘n uitroepteken het.
Vry!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.