Wednesday, June 08, 2011

Die liefdesgesig van Gereformeerde Spiritualiteit

Prof. Vincent Brummer het 'n paar belangrike boeke geskryf (o.a. oor Gebed). Hy skryf hulle in die tradisie van Bernard van Clairvaux se liefdesmistiek. 

In NGTT (51) 2010, is daar 'n artikel van hom oor Prof. Hofmeyr, een van die professors aan die Teologiese Seminarie in die vorige eeu, waarin hy Hofmeyr se Mistieke Teologie beskryf en die invloed daarvan op die Gereformeerde tradisie in ons land beskryf. 

As 'n mens die artikel lees, gaan daar 'n heeltemal nuwe lig op oor die soort van Gereformeerde Spiritualiteit wat vir dekades in die N.G. Kerk geleef het en wat in die middel van die vorige eeu sterk op die agtergrond getree het. 

Dit is 'n belangrike artikel, waarvan ek net die eerste deel hier aanhaal. Dit is 'n helder en toeganklike artikel. As ek Brummer lees, laat dit my dink aan Prof. Willie Jonker se styl. Hulle laat my besef: as jy nie 'n diep saak op 'n helder manier kan beskryf nie, dan het jy dit nog nie goed genoeg begryp nie.

Ek onthou hoe ek 'n jaar of twee gelede die 50 jarige gedenkboek oor die geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch gelees het en waarin vertel is dat Hofmeyr se Bybelstudie-byeenkomste so gewild was dat 'n mens nie kon plek kry as jy nie betyds opgedaag het nie. Dit moes te doen gehad het met sy mistieke teologie.  

En 'n laaste stuiwer: In die artikel maak Brummer die kostelike opmerking: "Dit is nie verniet dat Andrew Murray sy pastorie Clairvaux genoem het nie."  Dit is my aanhaling van die week. Dit gee mens 'n belangrike insig in Murray se mistieke bronne.


Hier is die artikel van Brummer. Die res is in NGTT van 2010 te vinde.
 
HOFMEYR EN DIE MISTIEKE TEOLOGIE OP STELLENBOSCH

In 1905 het Andrew Murray ’n mooi boekie geskryf waarin hy die hoofgedagtes uiteengesit het van Graaf von Zinzendorf, die belangrikste verteenwoordiger van die Reveil in Duitsland en stigter van die Morawiese sendinggenootskap. In die inleiding skryf Murray dat ‘by die groot godsmanne, met wie die Heer Sy kerk van tyd tot tyd geseën het, ...was daar meestal één hoofwaarheid waardeur hulle ondervinding gekenmerk word en wat by hulle altyd op die voorgrond staan... So het ook Graaf von Zinzendorf, wie se woorde in hierdie boekie aan die leser aangebied word, één waarheid wat kenmerkend is van sy lewensondervinding en sy prediking - die liefde van Christus.’

Dit is duidelik dat ook Murray homself baie tuisgevoel het in hierdie ‘hoofwaarheid’. Ook vir hom het die kern van ‘het godzalig leven’ daarin gelê dat ‘n mens jou vreugde vind in die liefdesgemeenskap van Christus. In hierdie verband skryf hy dat ‘die meeste Christene by hulle bekering nie verder kom as die kennis van die vergewing van die sonde nie. Hulle weet nie dat dit maar die ingang is tot die weg van die lewe nie, en dat by die poort die Here Jesus gereed staan om hulle by die hand te neem, om hulle elke dag in Sy gemeenskap te hou en hulle Sy leiding te gee. Omdat hulle nie verstaan dat die persoonlike omgang met Christus en die persoonlike ondervinding van Sy groot liefde die hoofsaak van die Christendom is nie, kom hulle nooit vooruit nie. Hulle godsdiens bestaan meestal in wat uiterlik is, in die werk van die verstand, terwyl die inwendige verborge lewe met Christus in God vir hulle onbekend is. ... Zinzendorf was ‘n man wat nie alleen maar van buite uit die beskouing sy kennis verkry het nie. Hy het gepraat as iemand wat ingedring het tot in die binneste geheime van die godsaligheid, en in die vriendskap van Jesus en in Sy omgang geleef het en hom daarin salig gevoel het.’

Ons lewe in ’n tyd waarin ons kultuur fundamenteel bepaal word deur die vooronderstellinge van die Verligting. Een van die belangrikste van hierdie vooronderstellinge is dat al ons denke ’n vorm van kennisverwerwing is. Daarom is die wetenskap paradigmaties vir al ons denke omdat die wetenskap vir ons op metodies-kritiese manier betroubare feitekennis oor die werklikheid verskaf. Vanuit hierdie gesigspunt beskou baie mense vandag religieuse geloof ook as ’n vorm van feitekennis. Religieuse geloof is dan ’n soort teorie waarvan die waarheid deur gelowiges onderskryf word; in die woorde van Murray: ‘die werk van die verstand.’ Die probleem is egter dat hierdie teorie nie voldoen aan die kritiese maatstawwe van die wetenskap nie en daarom vanuit die perspektief van die Verligting verwerp word. In sy boek oor Faith and Belief toon Wilfred Cantwell Smith aan hoe die betekenis van die woord ‘faith’ vanaf die Verligting hoe langer hoe meer gereduseer word tot ‘belief’ in die waarheid van beweringe. ‘Faith’ word dan die aanvaarding van ‘beliefs’ wat nie wetenskaplik betroubaar is nie. Sulke religieuse ‘beliefs’ verwys daarom na ‘propositions explicitly uncertain as to whether they were true or not; and presently to propositions that were, by preference, improbable or even false.’ As illustrasie verwys Smith na die Amerikaanse woordeboek van Random House waarin ‘belief’ gedefinieer word as ‘an opinion or conviction’ waarby as voorbeeld aangevoer word ‘the belief that the earth is flat’! Dit is duidelik dat ‘n kultuur waarin religieuse geloof hierdie betekenis kry aanleiding kan wees vir Mark Twain se skoolseun-definisie: ‘Faith is believing what you know ain’t so.’

Vir mense soos Murray en Zinzindorf was hulle geloof iets heeltemaal anders as die Verligtingsopvatting daaroor. Die ‘een hoofwaarheid’ van hulle geloof, naamlik die liefde van God in Christus, was nie die kernbegrip in ’n teorie of ’n teologiese denksisteem nie, maar die sentrale fokus van hulle ‘lewensondervinding’ en van die lewensvisie waarin dit tot uitdrukking gekom het. Vir hulle was ‘die persoonlike omgang met Christus en die persoonlike ondervinding van Sy groot liefde die hoofsaak van die Christendom.’ Ook vir hulle geld die uitspraak van Chesterton oor Fransiskus van Assisi: ‘To this great mystic his religion was not a thing like a theory but a thing like a love-affair.’ 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive