Wanneer ‘n mens weet wie ‘n boek skryf en dat die skrywer goed is, lees jy die boek met ‘n ander gesindheid. Net so ook met ‘n dosent: as ‘n mens iets wil weet, gaan vind jy by die spesialis uit. En jy laat jou nie opereer deur 'n kwak nie.
So werk dit ook met die onderskeiding van God se wil. As ‘n mens God se wil wil leer ken, gaan soek ‘n mens by ‘n plek en by mense wat ‘n mens die beste sal kan bystaan.
'n Mens gaan soek die wil van God in geselskap van hulle wat wys is.
Kyk maar wat het in die vroegste Bybelse tye gebeur. As mense God se wil soek, het hulle dit getoets in die lig van die groter wysheid wat in hulle gemeenskap in omloop was.
Israel het ‘n spesifieke beeld vir wysheid gehad: Wysheid is ‘n vrou wat gewone mens na haar roep.
Wysheid is ‘n vrou wat langs die straat staan en roep. Sy laat haar stem hoor op die stadpleine, sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: “Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape ‘n afkeer hê van kennis? As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp (Spreuke 1:20-23).
Sy roep dus al die “onkundiges”. Die hele volk, almal, ook die dommes, is uitgenooi. God wil wysheid met almal deel. God begeer skoonheid vir mense ongeag wie hulle is. Hulle gaan dit beslis nie op hul eie ontdek nie. Hulle hou eerder vas aan hulle onkunde - natuurlik terwyl hulle dink dit is die beste.
Ewe mooi is Spreuke 9:1-6
Wysheid het vir haar 'n huis gebou met sewe klippilare. Sy het geslag en wyn reggesit, sy het haar tafel gedek en haar bediendes na die stad toe gestuur om van die hoogste plek af te roep: “Kom hiernatoe, almal wat nog moet leer!” En vir dié wat kennis kortkom, het sy gesê: “Kom eet by my, kom drink van die wyn wat ek reggesit het! Neem afskeid van die onkunde, dat julle kan lewe, kom op die pad van die insig!”
En die ontdekking van wysheid is ‘n liefdes-affêre. Dit is ‘n avontuur om dieper te leef, om te vra na God se wil, om die goeie, skoonheid vir ‘n mens se lewe te soek:
Ek het dié lief wat my lief het; dié wat my soek, vind my (Spreuke 8:17).
Só ‘n soektog na wysheid is al klaar ‘n stukkie wysheid. (Dit is die dom mens wat dink hy/sy weet alles). En hierdie wyse aanslag maak mense mooi. Hulle is nie beterweterig nie en ook nie hooghartig slim nie.
Maak die wysheid jou metgesel, as jy dit liefhet, sal dit jou veilige bewaar. (Spreuke 4:6)
Die mens wat wysheid hoog aanslaan kry aansien. So iemand word ‘n mens van betekenis. Dit versier so iemand se lewe en word vir so ‘n persoon ‘n sierlike kroon (Spreuke 4:8).
Die beeld van die wyse vrou leer dat die wil van God gesamentlik gesoek moet word. Elkeen kan nie maar sy eie paadjie loop en in sy onkunde bly nie. Hulle moet gaan kers opsteek by die wysheid – die mooiste wat ‘n mens ooit kan soek.
Wysheid is dus nie iets wat ‘n mens maklik op jou eie ontdek nie. Die wil van God word ontdek in gesprek met die toegewyde mense van alle tye wat gesoek het om na die wil van God te leef. ‘n Mens kan maar na hulle luister. Hulle weet....
Wysheid is dus nie iets wat ‘n mens maklik op jou eie ontdek nie. Die wil van God word ontdek in gesprek met die toegewyde mense van alle tye wat gesoek het om na die wil van God te leef. ‘n Mens kan maar na hulle luister. Hulle weet....
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.