Wednesday, June 29, 2011

Hoe om die Bybel geestelik te lees. 'n Ooilammertjie soos 'n dogter.



Natan en Dawid
Julius Schnorr von Carolsfeld, 1851-60.














Daar is die beroemde verhaal wat Natan vir Dawid vertel het nadat Dawid vir Uria laat ombring het om met Batseba te trou (2 Sam. 12:1-7).

Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. 2 Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. 3 Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter. 4 Daar het 'n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.” 5-6 Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, 'n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.” 7 “Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm.”


Dit is ‘n duidelike, helder, maklike verhaal: Die storie gaan oor ‘n ryk man wet baie vee en ‘n arm man man wat net een ooilammetjie gehad het. Die arm man is mal oor die ooilammetjie: sy eet brood en drink melk saam met hom – en slaap nog op sy skoot ook. Die lam is vir hom soos ‘n dogter. Toe die ryk man ‘n besoeker kry, wil hy nie een van sy eie vee slag nie.. Hy vat die arm man se een lammetjie en slag dit vir sy gas.


Die storie staan in die Bybel. En omdat ons graag die Bybel in sy konteks lees, roep die storie onmiddellik ‘n klomp historiese en sosio-kulturele vrae by ons op. Waar speel die verhaal af? Waarom moes die ryk man vir sy gas ‘n vee-goed slag? Hoeveel vee moet ‘n mens besit om “ryk” genoem te word? Is dit iets alledaags dat ‘n mens in Bybelse tye ‘n hans-lammetjie kon grootmaak?


Maar ons lees ook die Bybel as ‘n boek wat pragtig geskryf is. Literêre kenners is soms beïndruk met hoe fyn verhale geskryf is. Dit is duidelik dat hierdie verhaal ‘n sterk kontras tussen ryk en arm wil skets: die ryk man se baie vee word beklemtoon. Die arm man, in kontras, het, soos die teks beklemt0on “net een ooilammetjie gehad.” Maar daar is ook ‘n kontras tussen die ryk man wat sy vee “besit” het. En daar was “groot troppe” van hulle. Daarteenoor het die arm “niks besit” nie. Maar hy het, vertel die teks ewe duidelik, ‘n ooilam gehad wat hy nie “besit” nie, maar wat hy baie liefhet.


Aangrypend en Pragtig: rykes se besitters-gierigheid teenoor armes se liefde vir wat hulle darem nog het.


Maar is dit regtig so eenvoudig? Die literêre analise van die teks maak dinge ‘n bietjie moeiliker as bloot ‘n saak van gierigheid. Daar staan tog eintlik iets heel simpatieks van die ryk man. Hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy diere te moet slag nie. Hy slag nie aan sy eie diere nie. Sy “skielike liefde” vir sy eie diere is sy groot transformasie. Maar is dit? Is dit nie eintlik ‘n deformasie nie – in die proses gee hy niks om vir die arm man se dier nie. Selfs al is dit die man se enigste dier en selfs al is dit vir hom ‘n troeteldier.


Nou sou ‘n mens nog baie dinge wou vra: Hoe het die arm man gereageer toe die ryke by hom opdaag om sy lam te vat? Wat het van daardie arm man geword? Het hy sy lam afgegee?


Allerhande vrae kan ‘n mens oor die teks vra. En dit is die soort van vrae wat ‘n mens vandag eindeloos in kommentare oor die Bybel sal opspoor. Ons praat van die histories-kritiese benadering. Op baie plekke waar mense oor die verhaal praat, sal hulle vir luisteraars “verduidelik” wat die konteks en wat die vorm van die teks is. Só is ons gewoond om die Bybel uit te lê.


Maar onthou nou: Die profeet Natan bring hiedie verhaal as die Woord van die Here na Dawid. Dit is die “Bybel”, die “teks” waamee hy die wil van die Here aan Dawid bekend maak. En kyk nou wat gebeur as Dawid die profetiese boodskap hoor. Dawid het hom, staan daar, “bloedig vererg.” Die ryke moet sterf, roep hy woedend uit, omdat hy die “oor sy hart” gekry het om so iets te doen. En die arm man moet viervoudig vergoed word.


Só oordeel Koning Dawid. Die ryk is iemand wat geen ontferming getoon het nie (vers 6 – Ou Vertaling).


Wanneer Dawid dus die storie hoor, is dit baie anders as wat duisende mense elke Sondag in die kerk hoor. Dawid vra nie uit na allerhande interessante of belangrike aspekte van die verhaal nie. Hy word so deur die verhaal ingetrek, dat dit hom woedend maak. Terwyl Natan weet dat hy ‘n gelykenis vertel, is die verhaal vir Dawid ‘n ware verhaal. En hy word so ingetrek in die verhaal dat hy onmiddellik as koning sy regsrol uitoefen: hy veroordeel die ryke en hy lewer uitspraak ten gunste van die arme.


Só lees Dawid die “Bybel”: dit is ‘n verhaal om lewe en dood. Dit raak jou tot in die hart en niere van jou bestaan. Dit is ‘n teks wat waar en werklik is.


Watter ironie, dan: Dawid wat so vinnig is om die man te veroordeel, word dan deur Natan veroordeel. Wie is nou werklik die genadelose, onbarmhartige een? Nie die ryke in die verhaal nie, maar Dawid.


Hoe lees ‘n mens die Bybel spiritueel? Soos Dawid: deur toe te laat dat die storie ‘n mens intrek en op jou beslag lê. Dawid vra nie allerhande interessante vrae nie. Hy bekyk nie die affëre van die ryk en arm mens op ‘n afstand nie, asof dit hom nie raak nie. Op ‘n kritieke oomblik laat hy toe dat die teks hom transformeer: hy word deur die storie gemaak tot Regter en tot Vegter vir regte. Die verhaal praat met Dawid, raak hom aan sy hart, bring hom tot handeling en optrede. Dit is die dialogiese kant van die saak.


Wanneer mens toelaat dat Die Bybel met jou in gesprek tree, skryf Waaijman as hy oor die verhaal nadink, gebeur daar nou ander dinge met jou ook.


Skielik besef jy dat Dawid van die begin af in hierdie verhaal te merk is. Hý, die koning wat so hoog opgee oor geregtigheid, is die ryk man wat, soos die verhaal verduidelik, veel besit. Hy is die een wat ander vertrap deur onreg. Ewe skielik ontdek ‘n mens dan dat dit nie ‘n verhaal is wat allerhande historiese en literêre kwessies wil bespreek nie, hoe verhelderend hulle ook al mag wees.


En dan kom ‘n mens by die volgende punt uit: waar ‘n mens toelaat dat die Woord tot jou spreek, jou intrek in sy wêreld, sal die egte transformasie plaasvind. Dan sal die Woord die onreg in ‘n mens se eie hart ontmasker en uitwys. Dit is dan dat ‘n mens naby aan God kom, naby aan die Vuur wat die ongure in ons reinig.


En as ‘n mens die res van 2 Samuel 12 lees, merk ‘n mens waarop die transformasie afstuur. Dit is ‘n verhaal wat vertel hoe Dawid, nadat die profetiese woord hom in sy onreg ontmasker het, sy eie feilbaarheid bely (vers 13) en na die Here se aangesig soek (vers 16 – O.V.!).


Die teks, die profetiese woord wil die mens bring tot die oratiewe moment. Die Bybel transformeer die self-sugtige tot die een wat Sug na God. Dit is hierdie oratiewe en kontemplatiewe moment wat in spirituele hermeneutiek so belangrik is. Dít is waarom Bybel-lees gaan: om dieper te kyk na hoe die teks ‘n mens transformeer tot biddende verlange na God se troostende teenwoordigheid. Dit is dan wanneer God vir ‘n mens egte rykdom gee – die rykdom van ‘n kind met die naam: “Die Here het hom lief” (vers 25).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive