Dit is weer ‘n nuwe seisoen van Idols. ‘n Klomp gedrewe, gemaak-skaam, oorywerige, vuil, arm, parmantige, nat-agter-die-ore en oormoedige kinders sleep meestal hul naam skaamteloos en vol misplaaste hoop deur diep modderpoele. Plek-plek weet ‘n mens nie of jy agter die stoel moet gaan wegkruip in die plek van die deelnemers nie. Dis nie eers fun nie, want die beoordelaars het skêr-tonge en is dikwels onregverdig. Boonop is die hartseer van die verslae, verwerpte kandidate , hoe subtiel of weggesteek ook al, wreed. Al daardie drome, ek-wen-tienmiljoen-rand-lotto-drome, limousine’s, jillends skares, tydskrif-voorblaaie is puur in hulle glory in. Al wat oorbly is die swartkraai-hoonroep van die genadelose verwerping.
Ek dink dikwels hieroor: hierdie superster – beeld van onsself wat iewers so totaal wanstaltig uit pas is met die harde werklikheid. Ons sien onsself met soveel ontferming en bewondering as die top-presteerders.
Het een van hierdie ouens in ‘n spieël gaan kyk en gevra: maar kan ek regtig sing?
Hoe gemaak met hierdie self-bedrog? Want ons vergoeliking van onsself kan slegte gevolge hê.
Ek is ‘n paar jaar gelede deel van ‘n groep mense waar iemand genadeloos en by herhaling onder almal rondom hom inklim en teen hulle uitvaar. Hy is ‘n geestelike leier, d.w.s. as jy hom nie na die mond meet nie. Dis knullers en knallers, vloekskote en harde woorde wat soos kartetse op ander reën.
Later kry ek ‘n briefie van hom. Hy het hierdie keer mense wat nie met hom saamstem nie, beet. Wat hom opval, kla hy, is hul onbillikheid en liefdeloosheid.
Dis die idol-mentaliteit van totale gebrek aan insig in 'n mens se eie feile, jou eie onbillikheid en liefdeloosheid. Ek is die dromer, die presteerder, as ander maar net so mooi kan sing soos ek. En al die tyd is daar hierdie totale gebrek aan insig in die self-bedrog.
Self-bedrag kan vernietigend wees. Jesus het daarvan gepraat: die splinter in die ander se oog, maar die balk miskyk.
Ek skrik as ek daaraan dink, want ek weeg myself en besef hoe Idol-gelyk my eie lewe is. As ek maar net nugter die balk kan herken, die eie fale, die inherente onvermoë.
Ek lees in hierdie dae Ignatius se beroemde Geestelike Oefening. Die boek is nou al amper 500 jaar oud en die teologie van die sestiende eeu is duidelik daarin te bespeur (o.a. ‘n grafiese meditasie op die hel). Maar verby dit, is daar ‘n dieper rypheid en insig. Op ‘n stadium val twee dinge my op:
Die geestelike oefeninge begin eerstens steeds weer met ‘n voorbereidingsgebed waarin die gelowige sy of haar aandag op God rig:
Ek smeek God die Here vir genade sodat al
my bedoelings en handelinge en werke gerig sal wees op die lof en diens van sy Goddelike Majesteit.
As tweede punt geld dat ‘n mens genade moet vra om jou sonde te ken en daarvan ontslae te raak.
Albei hierdie punte hou my besig: in plaas van om my wil aan God op te dring, begin my geestelike oefening altyd met ‘n prysgawe van my wil en ‘n soeke na God se wil.
Tweedens moet ek my eie gebreke en mislukkings genadiglik kan raaksien. En dit is duidelik nie maklik nie. Sonder genade van Bo, goddelike ingrype, gebeur dit nie sommer net nie. Ek moet, in afhanklikheid, na binne kan kyk, die inherente swakhede, sonde, kan herken.
Die twee. gerigtheid op God se goedheid en bewussyn van eie onmag, speel op mekaar in. Geestelike oefening beteken ek soek my oriënteringspunt buite myself en kyk na alles in my wat my fokus op God kan verduister.
Dit is lewenswysheid en die geheim tot geestelike groei: insig in wie God is en wat God wil, en begrip van hoe my lewe God se wil dwarsboom.
Dit klink logies. Maar geestelike oefeninge wat hiermee begin, gee te kenne dat dit nie normaal is vir gelowiges om so te wees nie. Ons kom eerder soos Idols by God aan: vol selfvertroue. En as ons drome nie bewaarheid word nie, voel ons bedremmeld.
Asof God se drome vir ons nie soveel meer werd is nie.
God se liefdesdrome vir ons. Prysgawe van ons eie gejaag na sukses en roem - die leegheid van die saal as die applous verby is, die donkerte as die spots gedoof is, die kortstondigheid van ons greep na sukses. Gebou op ‘n besef van ons eie onvermoë en onwilligheid om te laat gaan en by God te wag op wat werklik saak maak.
Wat saak maak is God se droom vir my lewe: om soos God te wees. Tevrede om te gee, bly om lief te he, gewillig om daar te wees, gou om op te tel en te versorg.
Die mistiek is seker maar vir uiteindelik net vir enkeles beskore. ‘n Mens moet baie genade ontvang om te besef dat eenwording met God die begin en einde van alles is. Dat daar maar tog 'n stuk idolatrie in 'n Idol mentaliteit is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.