Wednesday, February 18, 2009

Rublev se Ikoon van die Heilige Triniteit





Ek het kort voor die afsluiting van ‘n belangrike fase in my lewe ‘n tydjie van afsondering deurgebring by die Areuse gemeenskap digby Neuchatel, horlosiestad in Switzerland. Dit was herfs en ek het by die ou, imposante gebou langs die groot, stil meer uitgekom nadat ek verby velde met plate blomme in rooi, geel en wit gestap het. God se tapyt vir die vermoeides.

In sekulêre Switzerland is hierdie gemeenskap se kursus in innerlike genesing vir ‘n jaar al vooruit week na week uitgeboek van mense wat daar vir retreat gaan (nogal selfs uit Suid-Afrika – vlg die besoekersboek). Dit is ‘n sustergemeenskap van die Taize gemeenskap in Frankryk waar jongmense vanoor die hele wêreld letterlik in hul duisende in die somermaande vir spirituele retreats en dienste met meesleurende sang kampeer en waarvan sommige liedere in die Liedboek opgeneem is.

Vier gebedsdienste word elke dag in die eenvoudigste, stilste kapel gehou, waarvan die hoogtepunt vir my a capella sang deur 50 musikale stemme van die inwoners (vroue; helfte is onder 30 jaar oud) was, maar ook die eenvoudige liturgie. Dit is ‘n houtkapel, met ‘n hoë dak wat in die byterige, vroeg-herfskoue ‘n warmte uitgestraal het wat letterlike en geestelik oral in ‘n mens gaan lê het.

Die sel waarin ‘n mens bly het ‘n eenvoudige voorkoms. Bed, stort, ‘n kruis teen die muur en ‘n knielstoeltjie vir gebede. Langs die kamers is daar ‘n gebedskamer met ‘n ry stoele al langs die muur waar ‘n mens in stilte kan gaan bid. Jy kry vir die duur van jou verblyf ‘n geestelike begeleier wat met jou gesels wanneer jy die behoefte daaraan het. Ek het ‘n wyse, horingou Nederlandssprekende (hulle het geweet van Afrikaans!) begeleier gehad.

Tydens een van die kanse wat ek gehad het daarvoor, kon ek rustig, ononderbroke bid vir mense in die gemeente waar ek toe gewerk het. Een vir een, by die naam. Ek onthou hoe Henry Keane, destyds ‘n non en teoloog van Unisa vir my ‘n kaartjie uit Ierland gestuur het. Sy was in ‘n kapelletjie, het sy geskryf, sy het aan my gedink en toe in die kapel vir my gebid. Soos ek in Areuse in die herfs in die bidkamer gesit het, kon ek dink aan almal wat in my lewe gekom het en ook vir hulle onthou in gebed.

Maar wat my ook bybly was die ikoon met die Heilige Triniteit van Rublev. Iemand het oor die ikoon geskryf: Daar bestaan ‘n ikoon met die triniteit wat deur Andrei Rublev gemaak is, daarom bestaan God. Die ikoon was in elke kamer en in die gebedskamer teen die muur. Orals is dit hang gemaak, om ‘n mens gedagtig te hou aan die Een wat oral is, in rykheid as die beskermer, die inspireerder, die brugbouer – Vader/Moeder, Gees en Seun.

Onlangs het ek gevra dat die ikoon gebruik word vir voorblad van die tweede uitgawe van ons Spirasa tydskrif met die titel “The Spirit that Empowers: Perspectives on Spirituality” Lynette Booysen het ‘n pragontwerp gemaak daarvan. In die tydskrif is daar ook ‘n artikel oor Rublev se ikoon. Nou lees ek Gabriel Bunge se The Rublev Trinity (2007), ‘n boeiende boek met wonderlike nuwe insigte oor die tydlose ikoon. Ek het destyds toe ek in St Pietersburg klas gegee het, die ikoon gesien, maar ek sal moet teruggaan, noudat ek die geskiedenis daarvan gelees het – nie net hoedat dit ‘n lang ikoniese tradisie tot ‘n nuwe hoogtepunt gevoer het nie, maar ook hoedat ‘n besonder interpretasie-geskiedenis van die besoek van die drie engele aan Abraham daarin gesien kan word. Daar is ook die boeiende film van die Russiese meester regisseur, Tarkovsky, oor Rublev wat ek weer sal moet gaan kyk.

En dan is my eie groei in spiritualiteit ook ‘n faktor wat maak dat ek anders kyk na die ikoon. Ek gaan boekhou hoe ek dit beleef. Maar op primitiewe vlak, is daar die boeiende kleure: die milde groen en ryk rooibruin kleed van die twee figure aan die regterkant, maar dan ook die amper teer, breekbare geelwit stralekrans (‘n harde woord) om hul koppe – met ‘n spel van skakerings op geel wat die ikoon optel na ‘n vlak van helderheid, ligtheid, skoon-heid.

Watter boeiende boek is Bunge se werk nie. Hopelik weer meer daaroor later.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive