Monday, February 23, 2009

Iemand wat altyd daar was..... Spiritualiteit en die ewige lewe

Ek loop ‘n kennis raak wat vir my sê dat sy lewensmaat so siek is aan kanker dat ‘n mens op die punt gekom het dat jy wens die lyding was verby. ‘n Ander kollega van my, nie ‘n gelowige mens nie, het vir my gesê sy pa het kru, soos ‘n hond gesterf: onwaardig, deurmergel met pyn. Sulke woorde teken die verontwaardiging, die pyn, die woede en selfs bitterheid oor die manier waarop Iemand wat altyd daar was, weggaan. Die manier waarop mense sterf, die skok van die nuus, is egter een ding.

Heeltemal anders is die bewussyn, daarna, oor maande, miskien oor jare, al groeiende, dat hulle wat jy verloor het, nooit weer jou pad sal kruis nie. ‘n Mens betrap jou, dekades daarna nog, dat jy foon toe wil loop en gaan bel, asof die besef nog nie finaal deurgedring het nie. Jy droom af ten toe, so realisties, van hulle, so naby, so intens, asof hulle in alle werklikheid gewoonweg nog in jou lewe is – om wakker te word met die skrynende gevoel van die leuen van drome.

Deur die eeue worstel mense met verganklikheid. Dit bring treurigheid, onstemmigheid om te weet wat jy op hierdie manier bly ervaar sal eendag hulle wat joune is, die jongeres, ook ervaar – miskien te laat. Dat jy ook sal word: Iemand wat altyd daar was....

Watter besef beteken dat ‘n mens jou lewe anders leef. ‘n Vriendeliker neiging om te vergewe, omdat jy weet die dieper bande maak werklik saak. ‘n Maklike bereidheid om tyd deur te bring, wetende dat jy spoedig nie meer sal kan saamsit, saam-eet, saamgesels nie. En altyd weer deur durende en selfs donker teenwoordigheid van die wete dat alles, alles verbygaan, dat hulle wat so naby aan ons is, ons ontneem sal word.

Maar selfs hierdie ommekeer, hierdie versigtiger leef is maar ‘n hand wat die stormwind probeer terughou om ‘n klein vuurtjie aan die gang te kry. Selfs dit bly voorlopig, vir ‘n oomblik, vergeefs eintlik, in die lig van die onstuitbare einde, ook van jou bestaan.

Om hierdie rede, oor hierdie verganklikheidsbewussyn was daar nog altyd die groot verlange na ‘n tyd van weer ontmoet en weersien in die godsdienste, by hulle wat dieper dink. Vir sommige vroom bedrog, vir ander ‘n tydelike terapie, vir ander ‘n nuttige oorlewingsstrategie.

En tog, ook dan vir hulle wat kan vertrou, wat iewers die oomblikke van onverganklikheid bly ervaar en herken, is daar 'n wegwyser na wat werklik onverganklik is wat ‘n outentieke geloof in jou lewe inbring. God, wat ewig is, wat die begin was en ook die einde sal wees. En wat ons sal opneem in die rykheid van die goddelike liefde, die groot, vriendelike stilte, die Woord wat ons woordeloos sal bly weer, sonder ophou, teen die kwaad. Die trane sal nie meer vloei nie, die hart nie meer onstuimig klop nie, die seer nie meer pynig nie. Geborge in die groot Verborgenheid sal ons die durende rus ervaar wat ons hart in vroeër tye soms maar net vir ‘n oomblik gegun is, selfs by hulle wat altyd daar was en weg is. Soos ons by hulle wat weg was, tye van goedheid gegee is, so sal ons uiteindelik (saam met hulle!) in die Goedheid self bestaan wanneer alles verby sal wees en die Ewige daar is. Die goeie by hulle wat altyd daar was en na wie ons verlang, word ‘n simbool van die oorvloedigheid wat ons sal ontvang nadat ons ook vertrek het, soos hulle weg is. God is die Een wat altyd daar is. Ons is op pad na God toe.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive