Friday, February 20, 2009

Spiritualiteit en vreugde; oor God se verhouding met ons




Iemand vertel my vanoggend, terwyl ons oor Markus 1:9vv praat, van buitelandse besoekers wat in Kayalitsha ‘n kerkdiens gaan bywoon het. Toe hulle na die diens terugry, merk die een buitelander verwonderd op dat dit haar opgeval het hoedat die kerkgangers in die misrabele toestand van so ‘n groot township ‘n kerkdiens kan hou waar almal oorloop van vreugde.

Waarmee my gespreksgenoot die belangrike punt maak: vreugde word nie deur ‘n mens se omstandighede bepaal nie. Dit kom van binne uit.

Toe raak ons twee aan die gesels oor die dan nog dieper vraag: waarom kan mense in sulke misrabele omstandighede bly wees? Dis tog nie so nuut en net tipies van Kayalitsha se township-gelowiges nie. Handelinge 16 vertel hoedat Paulus en Silas in Filippi aangerand word, hulle klere van hul lyf afgeskeur word en toe nog “baie geslaan is” (Hand.16:23). Daarna is hulle streng bewaak in die “binneste sel” met hulle voete in die houtblok vasgeklem (Hand.16:24). Gaar en goor gefoeter, in pyn en ellende geboei, vasgeklem in stik donkerte (vers 29!) Dan, teen middernag, is Paulus en Silas besig om te bid en “tot lof van God te sing.” Daarmee word die hart van die saak aangeraak: sulke “gelouterde vreugde” kom uit die binneste van mense wat aan God behoort. Wie in God geanker is, kyk nie angstig in die rondte nie, maar boontoe. Deur die eeue heen, lees ek weer gister iewers, was Christene om een of ander mistieke rede altyd in staat om hul misrabele omstandighede mis te kyk. Daar is ontelbare voorbeelde van hierdie verborge ervaring – dat ‘n mens se verhouding met God iets radikaals aan jou verander.

Dit is dus nie om dowe neute dat Ignatius sy geestelike oefening steeds weer met lof aan God bring nie, of dat ‘n erediens begin met lof van God nie. Mense wat dankbaar God loof, kan die bitter duisternis op ‘n afstand hou. Dit is ‘n grondbelydenis van die Christelike geloof. En hulle kan dit doen omdat 'n vreemde, "bo-menslike" krag hulle vul.

Spiritualiteit het as eerste fokus die verhouding tussen God en mens. Dit is nie 'n gesukkel om allerhande waarhede oor God te weet of te disputeer nie. Gedurigdeur, herinner hierdie fokus ons daaraan dat ons bewus moet bly dat God ‘n verhouding met ons aanknoop. God is by ons soos 'n lewensmaat, 'n ouer, 'n kind, 'n troeteldier. God leef saam met ons. Iewers, op ‘n plek, op ‘n tyd, raak Iemand ons aan, groter as onsself, sterker as onsself en vul of versier ons lewens. Ons word bemin. Dit is ‘n liefdesverhouding wat vrees uitdryf en dus vreugde bring. Terwyl al die ander mooi dinge ook ons lewe vol maak, gebeur dit soms dat ons die unieke ervaring het dat ons lewens in God geanker word. Dan word alles anders. As 'n mens eers eenmaal 'n diamant gesien het, is alle ander klippe maar vaal en verbleik.

Vreugde bestaan dus sommer nie net nie. Dit val nie uit die lug nie. Dit is ook nie aangeplak nie. Dit val ook nie sommer weg nie. En dit is ook nie ons verbeelding nie. Kyk maar net na mense wat in God se ruimte gaan woon.

Vreugde is iets mistieks, gebind aan ‘n mistieke ervaring, ‘n onpeilbare, onbewysbare wete en werklikheid: Iemand, iets groters as ek het na my toe gekom, my aangeraak, omgedraai, in die arms geneem en sê vir my van naby: Jy is myne, my geliefde, jy is soos my eie bloed.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive