Thursday, March 12, 2009

Die mistieke weg: Vereniging (7)




Ek wil graag my opmerking hier onder oor die mistiek hervat (sien vroeer), n.a.v. Waaijman se artikel in die Encyclopedie van de Mystiek.

Normaalweg dink ‘n mens in terme van God as die een wat handel (die subjek) en die mens wat God se handeling ervaar (die objek). In die mistiek ervaar die mistikus nie so ‘n skeiding nie. Waaijman (64-5) verduidelik dit aan die hand van die voorbeeld van Dionusios die Areopagiet se bespreking van Moses: Moses bereik die top van die berg en staan voor die donker wolk waar God is. Daarmee is alles wat menslik moontlik is, bereik. Nou neem God se werking oor. Moses word die donker wolk ingelei. Hy word ingelei in die donker wolk van nie-weet. Daarmee word alle kennis stil. Dionusios (I, 3) skryf:

Hy bevry hom van dinge wat gesien word en van mense wat sien. Hy gaan in die donker van kennisloosheid, die werklike mistieke. Sy kennende greep, sy pogings om te wil weet, kom tot ‘n einde. Hy is nou by die heeltemal onaanraakbare en onsigbare. Hy is nou deel van dit wat verby alles is.

Mense ken en weet sekere “dinge” (voorwerpe). Mense sien dinge – hulle is dus subjekte wat waarneem en ken. Wanneer ‘n mens in die donker wolk, in God se teenwoordigheid ingaan, ken ‘n mens nie sekere dinge nie en is jy ook nie meer iemand wat ken nie. By God wees beteken dat ‘n mens verby kennis beweeg het. Dit is om kennisloos te wees (agnosis). Die mistikus behoort nou heeltemal aan God, wat bo alles en buite alles, ook kennis om, bestaan. Nou is daar ‘n eenheid met God se werking en God vul die mens se ken, wil en onthou. Waar God werk, werk menslike kennis nie. God is immers totaal Onkenbaar. God is bo-geestelik en word deur niks geken nie. Waar eenwording met God plaasvind, word die mens ingetrek in ‘n grenslose ruimte van kennisloosheid.

Mooi. Hierdie perspektief. Veral vir ons wat ons kennis so opstop en uitstal. En wat meestal vergeet wat Paulus skryf oor dit wat alle verstand te bowe gaan. Ons hou nie daarvan nie. Ons verstand is dan ons god. Ons aanbid tog so geredelik die grysstof waarmee ons so baie sake kitsvinnig kan regpraat en uitredeneer.

En dan ook die gedagte: om een te word met God, is ervaring. Groter en dieper en omvattender as alle kennisgrepe. Om in die teenwoordigheid van die Onkenbare te wees (die donker wolk!), is om deel te word van die sfeer wat verstand en wete transendeer. “My verstand staan stil!” sê die mistikus. En laat dan toe dat God ons neem na die vrede wat alle verstand te bowe gaan – in die ruimte van God se teenwoordigheid in.

Eenwording met God is tog, paradoksaal, nie teen die verstand nie, maar verby die verstand. In die manier waarop ek die diepte van die mistieke ervaring wil artikuleer (nie noodwendig “begryp” nie), is die verstand aan die werk. (Hard ook!). Maar die verstand bring my tot die punt waar ek die grense van kennis en die ruimtes buite my verstaan en wete om erken en herken. En as ek bewus raak van die Een wat hierdie ruimtes bewoon, verlang ek om ook in die donker wolk ingetrek te word – al is dit met verwonderende, huiwerende vrees. Dan is dit inderdaad of ek my in ‘n eindelose afgrond instort: met permissie gebruik: bungee jumping met die geruste wete ‘n rek sal my vashou as ek deur die sfeer van verruking beweeg.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive