Jaco Kirsten se nuwe boek “Om na ‘n wit plafon te staar” lees ek oor die naweek met groot plesier. In ‘n tyd van “metro-mans” wat met hul emosies in aanraking is, van politieke korrektheid en van die vrouebeweging slaan daar (onbeskaamd) ‘n macho-kultuur in hierdie boek uit. Die boek het my laat dink aan 'n soortgelyke viriliteit in P.J.Haasbroek se boeke. Hier kry ons die ware-man-verhale met die rokjagters-sindroom, die skuins-skimpe oor kunssinniges, sentimenteles en stroperiges - manlik of vroulik. Daarom is Maretha Maartens 'n sagte teiken – sy is duidelik vir hom koekerig. (Het hy haar werke ooit gelees? Het hy, soos sy in ‘n township gaan bly vir haar karakter-studie?).
Sy hoofkarakter is ‘n verontregte witman wat vrees- en genadeloos die rassisme van die korrupte regerende swart elite ontmasker. Maar voorwerp van sy satire en nog laer op die skaal van die bose is hulle rassistiese wit meelopers - die rassiste-jagters en uitsnuifers. Ek kon nie help om by die lees hiervan te dink aan die diepe hoon waarmee Renske van der Walt vanuit die konsentrasie-kamp in haar oorlogsdagboek wat ek verlede week deurgelees het, die joiners en die hanskakies beskryf nie. Kirsten brand dus los op die skynheilige, self-dienende wit geldwolwe en do-gooders wat verligd, handewrywend, kniebuigend en al lekkende aan jy-weet-waar, hulle skuldige gewetes oor die verlede probeer sus - of doodgewoon weer net soos van ouds hul eie neste uitveer.
Maar daar is vir my ook iets van Etienne van Heerden se snydende Liegfabriek in wat net so ontmaskerend die groot uitbuiting van die geldhebbers en geldgieriges in die bemarkingsbedryf uitgewys het. Die middelvinger wat Etienne vir die kapitalisme gewys het, wys Kirsten vir die politici en hul liegfabriek.
Ek bly wonder hoe ek oor die boek wil reageer. Kirsten praat eintlik met die eeu-oue probleem wat in alle magsgrepe aan die werk is. ‘n Mens sou kon praat van ‘n “hegemonie” – ‘n magsblok wat kontrole uitoefen oor en rigtings uitwys waarin hulle die samelewing wil stuur. Hulle koöpteer meelopers en saampraters solank as wat hul magsgreep onaangetas kan bly. En hulle slaan genadeloos toe op enige iemand wat in hulle pad staan, trap met hul groot stewels enige rug wat teen hulle styfgemaak word aan flarde. Sulke magsblokke baar maar altyd misvormde kinders. Die Kapenaar koerant en sy moedermaatskappy word 'n eie klein, vulgêre hegemonie wat hom staanmaak langs hul boelie-grootboetie s’n. Hulle kom inderdaad sleg daarvan af in hierdie boek. Die joiners van die nuwe boere-oorlog. Die leser, wat dit al lankal weet, voel plesierig meegesleuir deur die manier waarop die maskers afgepluk word. Maar ook maar net tot op 'n punt. 'n Mens voel tog maar ook 'n narigheid in jou opkom as jy in die grootbaas wat skielik omspring in sy kruipery omdat hy hoor hy gaan gerasionaliseer word, baie bekende gesigte voor jou sien opdoem.
Dis ‘n pessimistiese boek hierdie. Die wit Afrikaanse Afrika-mens, 16 generasies al in die land, wat deur sy eie Afrikane-medemense letterlik ontheem word oor sy velkleur. (Engelse name word dan nie verander nie - die teiken word dus versigtig uitgekies). Dit is 'n verskriklike stroping wat selfs mense se lewens kos. Die einde van die boek besin wanhopig oor emigrasie. Dit maak boedel op oor die nuwe plek waar dan maar 'n nuwe begin gemaak sal moet word – maar nie in lande soos Australië waar 'n mens herinner sal word aan dit wat kosbaar was nie. Die breuk moet skoon wees, sodat die pyn minder sal wees.
Ek het Kirsten se rubrieke graag gelees omdat ek gehou het van die ondertoon van menslikheid daarin. Ek het nog heelwat knipsels daaruit in my besit en het ‘n paar maande terug van hulle weer met veel plesier in sy boek van versamelde rubrieke gelees. En natuurlik is sy humor groot vermaak. Hy is, soos die Hollanders dit noem, nie 'n vakidioot wat net oor joernalistieke dingetjies skryf nie. Iewers het hy 'n oog vir die lewe, vir menslike verhoudinge - hy het sinvolle goed geskryf bv. oor sy ma en 'n vriend wat dood is.
Ek hou van hierdie boek. En tog loop ek terselfdertyd en dink oor wat vir my voel na 'n skeur wat op die bodem van sy onderliggende lewenservaring wag om alles boontoe stukkend te ruk. Die boek leef ‘n woede wat min goeds voorspel. Om woede en frustrasie uit te skryf, is belangrik. Maar hoekom is die uiting van woede in die boek vir my uiteindelik nie regtig vervullend nie? Kan ‘n mens in ons ellendige situasie met sy Zimbabwe-agtige toekoms meer doen as net die kwaad uitwys en woedend ‘n boek skryf? Kan ‘n mens uiteindelik allen maar nog dink om te emigreer? Bly daar nou nog net die berge om oor te steek?
Op bladsy 137 verlang Lourens, die hoofkarakter, na ‘n plek van stilte en kalmte waar hy nie verkwalik sal word omdat hy wit is nie. Vir my is egter wat hy hierna skryf, deurslaggewend: Hy smag na ‘n plek waar dinge as kompleks ervaar word en nie netjies in goed of sleg ingedeel word nie. Waar besef word dat goeie ouens immoreel kan wees en slegte ouens soms goed bedoel. Ek hou daarvan, dit laat my immers eeu-oue probleme op nuwe maniere bedink (selfs in die paradys was daar 'n slang!). Ek skryf en dink ook graag daaroor.
Maar tog is die wens in hierdie boek nie die vader van die vervulling nie. In hierdie boek mis nie net Lourens so 'n plek nie – nêrens kom enige van die karakters by so 'n punt uit nie. Daar is nie regtig iemand wat op 'n plek beland waar hy sleg en goed in een mens, in een stelsel kan raaksien nie. Waar is, in die boek, agter al die woede, die plek van stilte en kalmte?
Daar was die grotes, soos Ghandi, wat die Britte en hul jingo-ryk hard aanvat terwyl die knuppels op hom reën in totale toewyding aan geweldloosheid, aan menslikheid wat nie magsvergrype duld nie. Hulle kan ons slaan (in daardie onvergeetlike toneel uit die fliek waar ry na ry mense waardig vorentoe stap om eenvoudig net weer met geweerkolwe platgeslaan te word), maar hulle kan ons innerlik nooit tot niet maak nie. Want in ons is daar stilte en kalmte: dat alles rondom ons aan die brand kan slaan en staan, maar dat ons tog iets innerlik het wat ons mens-wees fundamenteel bepaal. Daar was die minder grotes: die mitologiese vrou/ma-met-die-kappie-op wat uit die wa klim en skouer aan die wiel oor die meedoënlose berge sit. Ons moet hier oor om iewers ‘n stil en kalm tuiste kry, weg van die gierige hegemonie in die hinterland. Maar die skouer beur teen die wiel. Wat van, iewers in die diep platteland waar die skoolhoof oor al die struikelblokke heen, om elke draai raap en skraap om vir die gemeenskap, wit en bruin, ‘n skool te gee waar Afrikaans gepraat word, waar Afrikaanse kinders 'n ryk tradisie van taal en dink kan begin raakvat en proe? Waar kinders, wit en bruin, nie bitch oor die swart rassiste nie, maar elke dag wiskunde leer, in Afrikaans, en opstelle leer skryf en dan ook sommer in die verbygaan leer netjies wees, nie rassistiese taal gebruik nie en Kosi leer sing? Het die liegfabriek dan totaal oorgeneem, ons uit ons stille gedetermineerdheid in depressie en plafonstaardery laat verval en ons tot verlamming en ontvlugting “ontman”?
Of, om nog dieper te delf: Hoe kom egte vryheid na ons? Deur in ver lande daarna te gaan soek? Lê op die ou end kalmte en stilte dan regtig in uiterlike, die praat van ‘n taal, die ploeg op eie land, die blink bestuurderskantoor met die belangrike naamplaatjie daarop, die bevordering teen die range op? Wanneer is ons werklik vry, by ‘n plek van kalmte?
Ek sou hierdie boek, in terme van nuutgevonde insigte, ‘n agonistiese boek noem. Dit is ‘n harde boek wat die neo-rassiste hard aanvat. En goed so. Hy doen dit tereg. Want rassisme is sleg – nie net omdat sommige mense daaronder ly nie, maar veral omdat dit die rassis self so deur en deur vernietig. Daar is niks wat jou menslikheid so vinnig vernietig soos wanneer jy ander mense oor bysake soos velkleur verstoot nie. En dis goed so, want ons stryd lê nie net op mikro-vlak nie, daar waar ons klein eilandjies van stilte en kalmte uitbaklei vir die wat ontheem word. Ons moet inderdaad hard oor die groot sake op die groot oorlogsfront baklei. Lem moet teen lem kap.
Origens is dit maar 'n regte ou patriargale kultuur wat in die boek uitslaan. Vroue word al te dikwels in hierdie boek in lekker ou manne-taal in terme van hul tiete bekyk en, natuurlik gemeet. Lourens, mnr macho, se vriendskaplike aandjies bestaan uit ‘n gebier-suipery saam met sy ou pel. Hy weet presies watter vier soorte kots daar is vir manne wat sulke aandjies te veel geniet. Die seks in die boek is ‘n wilde gesteek, ‘n siellose ontlading van manlike saad. Hard partytjie hou. Hard lewe. Vat nie twak nie. Dis die styl, dis die styl, die lewensstyl wat mens soms laat dink die ou mense was reg toe hulle dikwels radeloos uitgeroep het dat die wereld aan die vergaan is.
Die nuanses, die kompleksiteite, waarna hy verlang: dat mense nie apokalipties vir mense as goed sal beoordeel as hulle swart is nie en as sleg wanneer hulle ‘n wit vel het nie, slaan nie uit in Kirsten se karakters nie. Deur apokaliptiese karakterisering verdoem hy sy lesers tot die dodesel van woede omdat daar teen hulle gediskrimineer word. Sy karakters is in swart en wit, in rassiste en die wakers teen rassiste verdeel. Selfs in hul transformasie is hulle karakature. As die wit meelopers uiteindelik die probleem van hul eenoogigheid raaksien, is hul ommeswaai nie eg nie – hulle is nou bloot napraters van du Randt (op die afgrond, over the brink....), bloot nog doenig met ‘n nuwe mode. Dis nou, in die hogere taal plat karakters. In hierdie boek is daar nie enige Tutu's wat iewers - selfs as randfigure - verskyn nie.
Tog is daar ook 'n ander kwessie: As ‘n mens woedend is, as jy kwaad is omdat jy nie verby ‘n plafon kan kom nie, as jy radeloos daagliks die plafon bly bestaar (al is dit by wyse van spreke), is jou blik dikwels myopies (kortsigtig, stiksienig, bysiende....). En dis ‘n klein tree van woede na waansin.
Hoe keer 'n mens sulke waansin? Wat sal ons in hierdie zombie-land dan laat oorleef as mense? Hoe behou ons ons menslikheid in só ‘n konteks van verontmensliking? ‘n Wyse man het ‘n tyd gelede aan die Korintiërs geskryf ‘n mens kan al die tale in die wêreld praat (ook Afrikaans), en nog van die hemel sommer by ook, ‘n mens kan alles besit, selfs alles uitdeel, heroïes – soos selfs gebeur by die hegemoniese magsbelustes (die armes moet eerste aandag kry, a la ANC beleid). Maar as daar nie die kultuur van omgee is nie, selfs van prysgee is nie, is alles in elk geval verlore. Dan staar ons teen ‘n plafon vas.
Of miskien selfs dieper: daar is tog op ‘n keer Iemand wat die magsgreep van die moordenaars oopwring en terugdring. Wat, Gandhi-rig, geweld weier om ontmensliking te stuit (vergeef hulle, hulle weet nie van beter nie). Wat die plat karakters, die geseldraers, in die oë gekyk het en stilweg hul eie destruktiwiteit laat raaksien het. ("Waarlik, hy was heel, heel besonder..."). Daarmee het hy die kringloop van geweld gestop, die geweld van terugslaan, van taal, van ras, van gender, van status en gewys waar egte stilte en kalmte te vind is. En stadig kom deur hom die proses van verset teen geweld, teen hegemonie, aan die gang. En waar 'n mens met mense te doen het, en die diepgeworteldheid van kwaad in menslike lewens, ook in die wakers teen rassiste s'n, moet 'n mens verwag dat dit 'n tyd gaan vat voor die vlam helderder en helderder sal brand.
Laat hulle maar ons taal vat. Laat hulle ons werk vat. Laat hulle ons goed vat. Laat hulle ons land vat. Deur dit te doen vernietig hulle nie ons nie, maar hulleself (Zimbabwe!). En dit beteken soms wel seker dat ons dinge verloor en kwyt is. Dat kosbare bande deurgesny word. Dat ons uiteindelik net ons self-respek en ons eie integriteit sal oorhou. Soos Renske van der Walt en die vroue uit die konsentrasiekampe gestap het – letterlik van besittings gestroop en van bloedfamilie beroof, maar met ongebreekte innerlike. Hulle sal nie kan wen nie. Hulle sal moet teruggee. Apartheid het ons dit opnuut geleer: nou is die tyd om innerlik kalmte te vind, aan die kant van wat reg is totdat die storm van vernietiging verby sal wees. En die vernietigers hul vernietiging in die oë sal moet kyk.
Daar is in Kirsten se boek ‘n lange relaas oor ‘n diversiteitswerkswinkel waarin wit en swart mekaar aan die keel gryp. Dit eindig waar Lourens geprys word omdat hy na al die kwade bloed tydens etepouse by die swarte deelnemers gaan sit het. Hy word daarom as “broer” aanvaar. En Lourens se reaksie (op bl.141)? Hy vra dat hulle tydens toekomstige konflikte vir hom sal respekteer omdat hy eerlik is en sy mening gee. Twee sirkels wat byna onaangeraak naas mekaar tol: die swart sirkel wat soek na menslikheid (jy bly my broer), die wit sirkel wat sy hart wil uitpraat (kyk hoe lyk ek)? Hulle raak net aanmekaar omdat ‘n skrywer hulle langs mekaar plaas: die onderskeidende leser sal hulle nader aan mekaar moet bring, nuwe betekenis moet skep, ‘n nuwe teks moet laat ontstaan: laat daar lig wees, laat ons as mense mekaar se nood hoor en voel.
Altyd moet ons omgee en nie opgee nie. Weg kan kyk van onsself en ons woede oor ons ontheemding en verontregting. Bly vashou aan menslikheid – ingesluit die regte waarop alle mens aanspraak maak (en daarvoor baklei ook). Maar dan die dieper wete: Al het ek al die regte in die wêreld, al sou ek ‘n perfekte grondwetlike bedeling hê en al sou ek alles wat ek begeer kon inpalm....
Hoe sou ek, skrywer van hierdie blog, soeker na die stilte en kalmte, die boek oor ons land se verontregting laat eindig? Lourens, die hoofkarakter, is ‘n tawwe ou. Hy is ‘n Angus Buchan in sekulêre gewaad, die hoof van die huis, met sy eie stuk hegemonie wat hy jaag. Hy vat nie twak van kabouters nie. Hy sê sy sê en die ander “manne” (ook in vroulike gewaad) moet die punch vat. Miskien is dit wat ek probeer kleinkry: die ander karakters is manne, patriargale figure. Hegemonie-mense – maar met kleivoete - wat alleen van copout weet (plafonstaardery, selfmoord, emigrasie) as hulle die mag verloor (dit is tog die vroue, sê die volksmite wat die wa oor die berg gesleep het!). Die hoofkarakter lê en staar na die wit plafon, vasgevang in sy eenogige blik op al die skade wat hom aangedoen word en al die geleenthede wat hom ontsê word, vies vir alles en almal wat oor wat hom bloot oor velkleur ontneem word. Word hy nie iewers 'n patetiese mens nie? So ‘n plafonstaarderige ou nie?
Twee keer in die boek vertel Lourens hoe hy ‘n Zimbabwiese vlugteling raakloop. Hy mymer dan oor hoe hy saam met hom sou wou kuier vir 'n lekker manne-talk. (Hy is nie 'n rassis nie, onthou). Dalk moes Lourens wel maar daardie Zimbabwiër in sy kroeg in Kaapstad gaan haal het en hom na sy vrou wat hy so lank nie gesien het nie, na die ver land gevat het. Hy moes saam met hom na sy huis toe ry, deur die dorpie se strate met riole wat oorloop, langs die begraafplaas met die rye nuwe grafte, die hospitaal met pasiënte wat buite op die stoepe en gras lê, deur die strate vol mense wat desperaat iets te ete en drinke verkwansel. En net daar, maar huiwerend (hy’s immers macho) sal hy agtergekom dat daar nie net wit plafonne is nie. Daar is net plafonne. En dit is plafonne waarmee magteloses wereldwyd ingebou word. Hulle wat die slagoffers van magsgrepe iss, uitgeoefen deur Mugabe-agtige figure wat met hul pienk Clicks-brille (Ek haat ou tannies) ander in hokke met plafonne opsluit. Die stryd is nooit bloot lokaal nie. As die swart rassisme sy kop neergele het, sal nuwe magsgrepe groter verwoesting saai - en daarvoor moet 'n mens visie kry.
En terwyl die besef tot hom deurdring, sou hy saam met die Zimbabwiër by die huis aangekom het. Sy vrou, maer van honger, sal met 'n nuuskierige frons die voordeur oopmaak. In ‘n oomblik sal die moegheid van maande van haar gesig afrol. Verbaas, ook oor die vreemde witte langs haar teruggekeerde een, sal sy haar man vashou, sy hand bly vashou, die sakke kruideniersware miskyk, want haar oë sal liefdevol streel oor al die bekende kontoere van sy gesig met die ingevalle wange. Sy sal haar kop teen hom leun, by hom staan, ewige sekondes lank.
Dan sal sy omdraai, die witman groet. Uit die sakke wat hulle samgebring het, sal sy spaarsamig meel neem en vir hulle pap stomend gaarmaak. En as die witman die aand op hulle ou katel wat hulle vir hom afgestaan het (hy is immers die gas) aan die slaap raak, sal sy nie besef dat hy in die kamer langsaan haar stem sag hoor eggo in die leegheid van hulle meubellose kamer langsaan waar hulle twee op die vloer bymekaar lê. Fluisterend aan die vertel van alles en nog wat wat sedert sy groot trek suid-waarts met almal tuis gebeur het. Die lang tye van alleen-wees, van pynlike geduld en uitsien na die tuiskoms, die dae van angstige blikke pad-af word ingehaal, weggeneem deur nabyheid, deur sag saampraat, deur die aanraking van vel en been.
Lourens sal in die nag nie na die plafon bly staar nie. Die stem, die sagte stem wat ook oor hom vrede kom lê, sal hom lomerig in stilte en kalmte laat wegsak. Hier, in ‘n gestroopte plek, waar daar net genoeg is, skaars genoeg is, is daar ‘n stille, kalm ruimte waar selfs ‘n witman in vrede kan droom. En boontoe, oop, reik die hemel lig van baie sterre oor die vervalle plekkie na bo.
Kalmte kom stil na die mens wat uit die min wat hy het, baie het om weg te gee en dryf die woede weg.
So word satire, onwaarskynlik, sprokie.
OK, Jaco, ek weet dis nie jou styl nie. Dankie man. Jou boek het my laat dink.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
March
(16)
- Spiritualiteit is nie ‘n oppervlakkige vroom, on-t...
- Wat is mistiek? (10) Oor die wederkerige verhoudin...
- Desmond Tutu en die Dalai Lama
- God se transformasie en my pogings - 'n mistieke a...
- Jaco Kirsten se nuwe boek: 'n dekonstruksie vanuit...
- Die mistieke weg 8 : Inwoning van God
- Spiritualiteit, mistiek en die liefde.
- Oor vervreemding tussen God se kinders
- Moeder van die Karoo en die papegaai se foutjie
- Efesiërs 3:18-21: die liefde wat alle kennis te bo...
- Mistiek (8) Aanskouing ander kant alle kennis
- Die mistieke weg: Vereniging (7)
- Lyding en die mistieke antifrase
- Spiritualiteit en teologie
- 'n No-nonsense Calvinistiese dominee
- Die Mistieke van die Liefde: Breathe in, Breathe out
-
▼
March
(16)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.