Ek was die naweek terug op ou turf. Ons was op besoek by ou kennisse en het dus baie gehad om in te haal. Dit is ook al weer amper ‘n dekade vandat ek, in baie moeiliker omstandighede, weg is daar. In die proses van inhaal op die jare van weg-wees is die nuus steeds weer intens: kinders wat getroud is, wat die land uit is, wat geskei is. Bekendes wat dood is. En dan die wat nog daar is wat swaarkry.
Ons sit Donderdagmiddag by iemand wat twee primêre kankers het – iemand wat nog altyd ‘n vegter, ‘n vasbyter was. Daar is geen oomblik wat die persoon geen pyn het nie. Die stryd wat nou deur chemoterapie gevoer word, is letterlik ‘n geveg om lewe en dood. Daar is hoop, iewers. Dit brand flouweg. Dit kom uit as woorde wat wil struikel, wat bloedarmig en bleek in die lug hang. En terselfdertyd is daar die onstellender, dieper, donkerder ondertoon van wil-wil opgee, van moed wat wil-wil breek. Van ‘n weifelende kyk. Juis omdat dit kom van iemand wat altyd met drif vorentoe gebeur het, vir niemand ontsien het nie, is dit pynliker om te sien.
Hoe is mens by so iemand? Moenie opgee nie. Baklei hoor. Jy is mos een wat nie los nie.
En die pyn spoel oor na hulle wat naby is. Naby sit die maat, vriendelik, gemoedelik, soos van ouds. Die lewe is daar, maar die lewenslus is weg. Die vinnige kyk, die gedempte toon.
Ons staan en gesels – ‘n rukkie later – by ‘n ander ou kennis. ‘n Voorslag wat oor jare heen paadjies oopgetrap het in diens van ander. Stilweg, geduldig, opgeneem in alles wat daar was om gedoen te word. Ook ‘n vasbyter en ‘n werker. En ook hier sien ‘n mens hoe verwoestend fisieke pyn die menslike liggaam kan afbreek. Geen twintig jaar gelede het ons dikwels gesels oor ‘n gemeenskaplike kennis wat ‘n afbrekende, slopende siekte gehad, altyd met meelewing, radeloosheid, ontferming. Nou het dieselfde siekte hier toegeslaan.
En ook hier is die lewensmaat, die een wat altyd naby is, die vrolike, ondeunde, lewensgenieter – maar nou met skouers wat ook maar wil hang. Die wenkbroue plooi so bietjie, die oë is stil, die vonkel dreig om te gaan lê.
Ons sit die volgende dag langs twee mense wat twee kinders aan die dood afgegee het. Op ‘n allerverskriklike, skielike manier is hulle van hulle weggeneem. Die pyn stuit jou weer eens voluit teen die bors.
Ek is sleg. Ek trek my dit aan. Ek sukkel om dit te verwerk. Ek wil wegkom daarvan.
En net daarna lees ek weer vanuit ‘n spiritualiteitshoek oor lyding. Ons verban dit uit ons lewe, relegeer die lydendes na hospitale en hospiese. Ons besweer dit uit ons lewens. ‘n Goeie christen wat ly, se geloof is te min, dink ons stilweg. En baie ander slim praatjies weerhou ons van empatie, van die voel van wat hier werklik gebeur, van die dehumanisering wat onder ons oë gebeur.
Lyding mag nie ontken, besweer, na die rand geskuif word nie. Lyding is ons lot en lewe: intens by mense wat sterf en by hulle wat verliese het. Minder opvallend, maar tog ook daar by hulle wat ouer word, wat alleen is, wat verraai word, wat hulle besigheid verloor, wat hulle kinders kwyt is.
En my eerste, primêre reaksie op hierdie gedagtes en hierdie besoek is een van bitterheid. Die teodisee-vraag forseer homself ionuut aan my op. Waar is ‘n goeie God in hierdie oseaan van smart?
Daar is niks moois aan lyding nie. Mense kan sê net wat hulle wil. Dit is waar dat lyding ‘n mens edel kan maak. Moeder Teresa het dit bewys. Die edel mens wat die lydendes uit die gutters gaan optel het en ‘n menswaardige laaste dag gegee het. Dit is ook waar dat lyding ‘n mens volwasse maak.Jy word dankbaar vir jou gesondheid, dat jou geliefdes nog by jou is, dat jy veilig is en selfs dat jy ‘n bord kos op jou tafel het.
Maar lyding bly sleg. Dit maak jou magteloos voel. Dit skeur jou hart aan stukke. Dit ruk jou guts uit jou binnekant.
Ek is naby aan die Prediker wanneer dit by lyding kom: my Godservaring word verduister daardeur.
Lyding dehumaniseer mense op baie maniere. Mense wat ly is nie altyd sagter nie, hulle gee nie altyd om vir ander nie, hulle dink net oor hulle self en hulle eie ellende, hulle neem ander kwalik en slinger verwyte omdat hulle swaarkry.
En so bedink ek baie kante van lyding.
Kan daar closure kom? Is daar ‘n groter raamwerk wat lyding sy angel ontneem?
Die lelikste vorm van lyding is aan ons bekend: die Een aan die kruis wat bitter na bo smag: Hoekom het U my verlaat. Die Een wat uitskry: Ek het dors. En om Hom die honende massa wat hulle verlekker in sy ondergang. En uiteindelik die donkerte van sy laaste ure. Die donker nag van die siel as Hy ter helle neerdaal.
Maar dan is Hy ook die Een wat bid vir hulle wat die spykers indryf. Wat vir oulaas nog sy ma onthou, die skurk saamneem Paradys toe. Wat uiteindelik sy gees oorgee, wat in sy vashou-aan-die liefde die onoorwonnene word –die Een wat sterker is as die kwaad.
Die groot raaisel van lyding word hier nie opgelos nie. Hier ly die Seun van God dan self. Goddelikheid waarborg niks, dit skerm nie af teen die vernietiging van lyding nie.
Maar iewers skemer iets deur van hoe lyding tog ook gestuit word, hoe grense getrek word vir die vernietiging wat lyding bring: ‘n stem wat in die donker roep na God, téén die duisternis in. En daarmee die mistieke antifrase: God, as ek na U roep, as ek uitskree oor my verlatenheid, oor die brandende dors in my, is dit ‘n teken dat U daar is. U, ja U, het my hart wat so onrustig klop, gehelp om na U te roep. Hierdie begeerte na U, kom van U. “My” God, “My” God.
Hoe bly ek staan in my lyding?
Ek roep na U. Waar is U?
Ek is alleen, blootgestel hier in my aan die pyn van gedeelde swaarkry. En, soos die Prediker, is my Godservaring daardeur verduister.
Miskien tog is ek nie alleen nie. Iemand anders se Godservaring was ook aan die kruis verduister - letterlik. Hy het in die gees gesterf, oorgegee aan 'n "Vader", homself te midde van die donker aan hande van die Groter Een toevertrou. Sy gebede bid ek na. Die gebede van 'n Mens wat aan die kruis nog kans gesien het om ander aan die hand te neem, Paradys toe.
Wednesday, March 11, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
March
(16)
- Spiritualiteit is nie ‘n oppervlakkige vroom, on-t...
- Wat is mistiek? (10) Oor die wederkerige verhoudin...
- Desmond Tutu en die Dalai Lama
- God se transformasie en my pogings - 'n mistieke a...
- Jaco Kirsten se nuwe boek: 'n dekonstruksie vanuit...
- Die mistieke weg 8 : Inwoning van God
- Spiritualiteit, mistiek en die liefde.
- Oor vervreemding tussen God se kinders
- Moeder van die Karoo en die papegaai se foutjie
- Efesiërs 3:18-21: die liefde wat alle kennis te bo...
- Mistiek (8) Aanskouing ander kant alle kennis
- Die mistieke weg: Vereniging (7)
- Lyding en die mistieke antifrase
- Spiritualiteit en teologie
- 'n No-nonsense Calvinistiese dominee
- Die Mistieke van die Liefde: Breathe in, Breathe out
-
▼
March
(16)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.