Friday, October 09, 2015

Dit is my vader. Oor eerbied.

In sy biografie oor Andrew Murray (jr.) wat vier keer tot moderator gekies is, skryf Johannes du Plessis oor 'n insident in die sinode toe Murray vir die eerste keer verkies is. 

Sy hoogbejaarde pa, Andrew Murray (sr.), wat ook een keer moderator was, was nog op die sinode waartydens Murray (jr.) tot moderator verkies is. 

Op 'n stadium het sy pa 'n spreekbeurt gekry. Andrew (jr.) het uit  die moderator-stoel opgestaan toe sy pa begin praat en bly staan totdat sy pa klaar gepraat was. 

Eer jou vader...


Thursday, October 08, 2015

Kontemplatiewe gebed en die sabbat. Oor Barth se mistiek.


Karl Barth het ‘n merkwaardige klem op die Sabbat geplaas. Hy was in elk geval sterk krities oor die flou hantering van die sabbatsgebod in moderne navorsing. Die gebod om te rus op die Sabbat verduidelik al die ander gebooie en is dus uitsonderlik belangrik.



Die sabbat handel oor rus – maar nie rus in die sin van ophou werk of vakansie-hou nie. Dit gaan nie om te herstel van ‘n tyd waarin ‘n mens jou flou gewerk het nie.



‘n Mens word deur God uitgenooi om in die rus in te gaan en om God se rus te deel. Dit is ‘n heilige dag van vreugde, rus en vrede. Dit is dus ‘n geheiligde ruimte wat ‘n mens binnetree en waar ‘n mens waarlik in vrede kan rus.



Dit is vir Barth boeiend dat die eerste ses dae van die skepping volgens syfers benoem word, maar die sabbat kry ‘n spesiale naam. Daarmee word die besondere waarde daarvan verder beklemtoon.



Dit alles beteken dat die Sabbatsrus ‘n geskenk van God is wat die mens nie verdien nie, maar ontvang.



Vir Barth, skryf Cocksworth (sien gister se blog), is die gawe van die sabbatsrus die ontmagtiging van die self. Die mens wat die res van die week onrustig besig is met allerhande haastige dinge, is dus totaal afhanklik van God. Die mens “wag op God.”



Die mens, voeg Barth by, wat wag op God, is die biddende mens. Vir hom is daar ‘n wesenlike band tussen die sabbatsrus en gebed.



Dit is dan ook wat kontemplatiewe gebed is: dit beteken stil-wees, aandagtige stilte, ontmagtiging, oorgawe van die self en oopheid vir wie God is en doen.



Barth skryf, heel opvallend, oor hierdie stil afwagting: as dit mistiek is, is mistiek ‘n onmisbare deel van die Christelike geloof.



Barth beklemtoon dus dat ‘n mens in die kontemplatiewe gebed nie oor God dink of met God besig is nie. ‘n Mens is in die mistieke gebeure nie angstig oor die vraag of ‘n mens die besondere ervaring van God sal deel word nie.



Rus, vrede, word aan die mens gegee – wat ons ook al ervaar. Die mens se rus is in God. God self is die mens se rus. Net God kan ‘n mens rus gee. ‘n Mens bereik nie die rus na intense inspanning nie.



In kontemplatiewe gebed is die mens dus nie die handelende een nie. Dit is God wat handel en vir die mens gee om te ontvang. ‘n Mens word ingenooi om die rus van God te deel. Hierdie rus is, soos die Sabbat, die begin van alle dinge. Alles wat ‘n mens doen en alle menslike pogings, word voorafgegaan deur die Sabbatsrus as die eerste dag van die week.



Alle mense kan dus deel kry aan die rus – nie net daardie paar uitgesoekte mense wat sekere asketiese praktyke navolg nie.



Barth wat die mistiek so fel gekritiseer het met opmerkings wat die mistieke skrywers verdraai of verkeerd verstaan het, is uiteindelik in sy nadenke oor die sabbatsrus niks anders as self ‘n mistikus nie.



Dit is maar net ‘n paar van die interessante gedagtes in Cocksworth se boeiende boek oor Barth en die mistiek.


Wednesday, October 07, 2015

Wanneer 25 mense soveel as 'n land verdien.

Hoe stel 'n mens jouself dit voor? Een persoon wat 15,6 miljard rand in een jaar verdien? En 25 mense wat inkomste genereer in een jaar ongeveer gelyk aan die bruto binnelandse produk van Jamaika?


The world’s 25 best paid hedge fund managers earned a combined $11.62bn last year. Hedge fund pay, however, almost halved from a $21.5bn total in 2013 when surging equity markets helped the industry’s 25 highest earners rake in earnings roughly equivalent to the gross domestic product of Jamaica.

Ken Griffin, the founder of the Chicago-based Citadel hedge fund that recently hired former US Federal Reserve chairman Ben Bernanke as an adviser, came top of the list for 2014, taking home $1.3bn, according to an annual survey conducted by Institutional Investor’s Alpha.

Hier is die volledige berig in die gerespekteerde Financial Times:


http://www.ft.com/intl/cms/s/2/6a0239e2-f32f-11e4-a979-00144feab7de.html?ftcamp=crm/email/201556/nbe/UKMorningHeadlines/product#axzz3ZFnI2n1o

Karl Barth, spiritualiteit en mistiek

Ek lees nou Ashley Cocksworth se boek oor: Karl Barth on prayer. (London: Bloomsbury T&T Clark, 2015). 

Die boek is, onder andere, 'n boeiende bespreking van Barth se houding teenoor die mistiek. 

Cockworth skryf oor hoe Barth kontemplatiewe gebed wat hy met mistiek verbind het, afgeskiet het. 

Hy skryf hieroor binne die raamwerk van Barth se spiritualiteit! 

Hy skryf heel gepas dat mense hieroor verbaas sal wees: "It is not always customary to read Barth as a spiritual writer." Hy is immers die bekende skrywer van die Kirchliche Dogmatik (Kerklike Dogmatiek). 

Die gebrek aan sensitiwiteit vir Barth se spiritualiteit is omdat mense dink dat Barth die oeroue band tussen teologie en gebed losgemaak het. So asof Barth eerder dogmatikus as bidder was, eerder 'n denker oor geloofsinhoude as oor gebed. 

Maar mense wat Barth se werk goed ken, skryf Cocksworth, sal weet dat sy dogmatiese besinning onderneem is binne die voortgaande beoefening van gebed. Barth skryf self: "Dit is noodsaaklik om te besef dat die wese van die teologie te vind is in die liturgiese handeling van aanbidding, danksegging en voorbidding."  

Vir Barth is die ou gesegde, lex orandi, lex credendi, (die wet van gebed is die wet van geloof) een van die diepsinnigste beskrywings van die teologiese metode. 

Barth skryf op die eerste bladsye van sy dogmatiek: gebed is die houding waarsonder geen dogmatiek moontlik is nie. Niemand kan God ken sonder gebed nie. Cocksworth anker die opmerking in Barth se lewenseinde: hy het nadat hy sy lesing vir die volgende dag voorberei het, sy aangebed gedoen en, nog met gevoude hande, gesterf. 

Daarna gee hy 'n lang bespreking oor hoe belangrik gebed in Barth se werke is. Die bespreking is deur en deur die moeite werd om te lees. En, later, vertel hy hoe Barth, ten spyte van sy harde kritiek teen kontemplatiewe gebed van die mistici, self oor gebed skryf op 'n manier wat niks anders as kontemplatiewe gebed is nie. 


Thursday, October 01, 2015

Mistiek en spiritualiteit

Spiritualiteit en mistiek is twee woorde wat op baie maniere verstaan word. 

Spiritualiteit gaan, in Sandra Schneiders se oë, om geleefde geloof. Dit is geloof wat beleef word: nie maar net op 'n emosionele vlak nie (hoewel dit nie uitgesluit is nie), maar in die werklikheid van mense se bestaan. 

Spiritualiteit gaan dus om die lewenskuns: die "kuns" om sinvol te leef. 

Daarom het spiritualiteit 'n praktiese karakter. Dit kyk in 'n sekere sin na die mens se geestelike lewe vanuit 'n menslike hoek, na die ervaringskant, die kant van die praktyk. Dit gaan om die vergestalting van sin in die wereld van ons bestaan.  

Spiritualiteit wys sy betekenis byvoorbeeld in die geestelike oefeninge wat mense doen om dieper in geloof te groei en om geestelik volwasser te word: sulke mense dink na oor gebed, lees graag daaroor, maar soek veral ook aktief 'n lewe van gebed. Verder soek 'n geestelike mens die geestelike oefening van onderskeiding: hoe onderskei, herken en hoe volg jy God se wil vir jou daaglikse lewenspraktyk? 'n Mens kies nie sommer om dinge te doen nie, maar om op 'n deurdagte, biddende, kontemplerende manier sinvolle keuse's te maak. Spiritualiteit vind 'n mens ook byvoorbeeld in die praktyk van mense om 'n tyd van rus in hul besige program in te bou waarin hulle die roetine verbreek. Daarmee pas hulle op 'n geestelike manier die Sabbatsbeginsel in die bybel prakties in hul eie geloofslewe toe.  

Op baie ander praktiese, konkrete maniere kom spiritualiteit na vore. 

Mistiek, aan die ander kant, word dikwels gesê, is die hart van spiritualiteit. 

Vir my het die mistiek op die bewuswording van God se teenwoordigheid in die menslike lewe gewys. Dit gaan dus in die mistiek in 'n gefokusde manier om die intieme band met en ingryping van God. 

Blommestijn, lees ek vandag, fokus die mistiek op die dinamiese proses waarin God die mens omvorm. Die mistiek praat oor hoe God hierdie omvormingsproses bewerk. Dit dink na oor spiritualiteit vanuit die perspektief van God en die goddelike ingryping. 

Mistici skryf oor hierdie omvormende proses en vertel van God se werking in hul eie lewe. Maar, skryf Blommestijn, hulle ondersteun ook ander mense om God se werking in hul lewens te herken en te soek. 

Dit is 'n poging om mistiek en spiritualiteit van mekaar te onderskei. 

Die grens tussen die twee is nie rigied nie. En 'n onderskeiding kan maar net voorlopige en vloeiend wees. 

Mistiek, lyk my, is inderdaad die fokuspunt van spiritualiteit: 'n mens sou kon sê dat spiritualiteit sonder mistiek leeg is en mistiek sonder spiritualiteit onvoltooid is. 

Dit is  nogal 'n kwessie om mistiek op die manier uit te lê: want die mistiek is die omgang met die Verborgene. Dit vertel van die onhanteerbare, die onherkenbare, die ontasbare dimensies van ons bestaan. Dit gaan, inderdaad, om God. 

Die mistiek roep daarom by ons ontsetting op. Daar is in ons lewe die numineuse. Ons is iewers die nietige, die ongerekende wat, oorweldig en selfs huiwerig  in die lig van die groot Onkenbare staan. 

'n Paulus, platgeslaan, op die Damaskuspad se grond.

En tog is die mistiek by uitstek die aantreklike: dat ons die Lewe ontvang en deel, kan beleef en deurleef - dit is tog ook onvoorstelbaar mooi. 

Die lied van die liefde van die einste Paulus in 1 Korinte: daar is die spieël, die raaisel. Maar daar is ook die belydenis - niks is groter as die liefdeslig waarin ons ingetrek word. 

Blog Archive