Showing posts with label N.P. van Wyk Louw.. Show all posts
Showing posts with label N.P. van Wyk Louw.. Show all posts

Sunday, April 10, 2011

Die gloed van die goddelike wete.



(Die kunstenaar Wallinger se Ecce Homo. Die beeld wil deur sy kontras met die imposante geboue in die omgewing, lyding en versoening uitbeeld.) 


N.P. van Wyk Louw se gedig, Ecce Homo (“Aanskou die mens”), geskryf in September 1936 en gepubliseer in Die Halwe Kring, is ‘n gedig wat op lyding fokus.

Dit is meditasie materiaal vir die Lydenstyd.

Hier is eers die gedig, en daarna wil ek so bietjie daaroor nadink.
 
Ecce Homo

Omdat Hy my verlaat het,
laat Hy my nooit alleen:
ek hoor ál nagte 'n asem hyg
en iets soos vroue wat sag ween.

Dan staan dit in die skemer daar:
die Bleke aan die hoë kruis,
en vul met die wete van Sy smart
my hele huis.

Ek ken Sy dors, ek ken Sy angs
(God het hom ook van my gewend);
ek kan Sy wonde met name noem,
en elke spyker is bekend:

Die Liefde skeur in elke hand,
en deur Sy voete brand die Hoon:
die Waan van Godheid is gedruk
ook in Sy hoof as doringkroon.

Sy oë staar van die kruis en berg
die heilige, ver-blou aarde deur
totdat die dood hul vul; ek hoor
uiteindelik die voorhang skeur.

Dan in die donker net die gloed
van dowwe woord se helder spot
in enkele letters bo Sy hoof:
Dit is die God en Seun van God.

Die eerste twee reels is boeiend mistiek. Bloot net om die twee reëls te lees, is al vreugde:

Omdat Hy my verlaat het,
laat Hy my nooit alleen.

Die digter buig die verlatenheid om in ‘n paradoks. “Hy het my verlaat” word gekombineer (“omdat” – in die prominente sinsinisiële posisie) met ‘n verdere opmerking: “Hy laat my nooit alleen”: Dit is ‘n perfekte voorbeeld van die mistieke antifrase. In die verlatenheid is Hy aanwesig (let ook op die hoofletter “Hy” en in die res van die gedig).

Die twee strofe’s sinspeel op die oog af op Jesus se gebed aan die kruis: “My God, my God waarom het U my verlaat?” Maar dit kan ook verwys na Christus wat die digter verlaat het (die “my” in die eerste twee reëls is albei klein letters).

Die openingswoorde is dus dubbel mistiek: God het Christus verlaat/ Christus het die digter verlaat. Die godverlatenheid van Christus word die digter se godverlatenheid. Wat Christus ervaar, ervaar die digter.  Die res van die gedig sal dit uitwys. 

En tog, is God/Christus daar. Ook in die gedig. 

Hierdie twee reëls is die inleiding tot die gedig. Dit bepaal dus die toon daarvan. Hulle bepalende rol word stilweg deur die digter uitgewys deur die dubbelpunt aan die einde van die tweede reël (laat Hy my nooit alleen:).  Die gedig staan dus in die teken van die teenwoordigheid van God in die digter se bestaan sonder God.

“God laat my nooit alleen nie”.  Daaroor gaan hierdie gedig.  

In lyding is die goddelike aanwesig. Die hele gedig van ses dele bestaan nou uit ‘n uitleg hiervan. En die gedig is netjies in twee opgebou: Daar is twee dele wat elkeen drie vierdelige strofe’s het. Hulle word mooi uitgewys deur die twee dubbelpunte in die eerste en derde dele (daar is – veelseggend – net twee dubbelpunte in die gedig).

Die eerste drie dele wat na die inleiding volg, is ‘n eenheid: dit gaan daarin om lyding aan die kruis. Eerstens (in die derde en vierde strofe) bly die lydensgebeure om en aan die kruis (asem wat hyg – van Christus, vroue wat ween) die digter by – dit is steeds weer by hom aanwesig. Maar dit is iets wat hy bly beleef: “ál nagte” hoor hy die asem hyg en die vroue ween.

Ook in die tweede reeks van vier strofe’s kom lyding na vore, maar dan spesifiek genoem as die kruis. Die beeld van die kruisiging word eers geteken. “In die skemer” staan die “hoë kruis” en aan die kruis die “Bleke”. Die donker sak toe, daar is nie meer hoop nie. Christus is sterwend, reeds bleek. Die lyding is tot die dood toe. In die volgende twee strofe’s volg weer ‘n toepassing van hierdie lydenstekening. Nie net hy is deur die lyding geraak nie. Die kruis vul die digter en sy “hele huis” met die wete van die Bleke se smart. Die Verlatene laat die digter nooit alleen nie, die “wete” van Sy smart vul sy hele huis. Wat aan die kruis gebeur, betrek die digter intens. Hy in sy hele omgewing is gedurig daarvan bewus.

In die derde reeks van vier strofe’s word die intieme band tussen digter en “Die Bleke” aan die kruis nog verder uitgewerk. Die unieke, baie noue eenheid van die digter met die sterwende Bleke is intens. In steeds meer intensiteit volg nou die detail. Die “wete van Sy smart” word nou: “Ek ken” Sy dors. Met ‘n beklemtoning deur herhaling kom dan: “Ek ken” sy angs. Die angs is die Godverlatenheid. Daarmee word die eerste twee reëls van die gedig (Omdat Hy my verlaat het) verder uitgespel. Maar die intimiteit word nog sterker onderstreep. Nou herhaal die digter die eerste reël van die gedig: hy self ervaar ook Godverlatenheid (“God het hom ook van my gewend”). So intens ervaar hy die afwending van God dat hy sy wonde kan “benoem”, elke spyker is “bekend”. Nooit is hy alleen van Hom en sy smart nie.  Wat Christus voel, voel die digter ook. Dit is asof hy met sy wonde die wonde van Christus kan benoem. Die spykers van Christus is vir hom net so bekend.

Dan volg daar die tweede dubbelpunt in die gedig (en elke spyker is bekend:). Wat hierna kom is dus uitleg van die lyding en die kruis.

Heel prominent volg die interpretasie van die lyding as ‘n teken van goddelike liefde. “Die Liefde skeur in elke hand”. “Deur Sy voete brand die Hoon”. Die liefde en die hoon word met hoofletters geskryf. Maar die taal waarmee hulle beskryf word, is hartverskeurende, brandende taal. Selfs nog meer: Die Bleke dra ‘n doringkroon wat sy vervolgers op sy hoof geplaas het as beskuldiging dat Hy vir Hom die “Waan van Godheid” aanmatig. Liefde word hier geteken as die teenpool van verwerping. Teenoor die minagting van die vervolgers wat die kroon op Christus se hoof “druk” staan die Liefde wat skeur in elke hand.

Die vyfde deel skilder die dood van Christus: sy oë staar “die heilige, ver-blou aarde deur” totdat die dood hul vul. En die voorhang skeur. Merkwaardig is hierdie beeld van die heilige, ver-blou aarde. Die aarde is so ver, want die kruis is so hoog (die hoë kruis) en staan ook nog op die berg.  Maar “heilig”? En “blou”? Dit is die perspektief van Jesus op die wêreld. Terwyl mense Hom hoon en spot, kyk Hy na die aarde as die plek van heiligheid. In die skemer sien hy die blou van die aarde. Die goddelike perspektief is die teenpool van die menslike veragting vir God.

Die laaste deel teken dan die huiweringwekkende ommekeer: Die dood het die oë van Christus gevul. “Dan” is dit donker. Na die dood van Christus, toe dit “donker” is, gebeur iets merkwaardigs. Die digter verwys nou na die opskrif aan die kruis. Hy noem die opskrif die “dowwe woord” en kwalifiseer dit verder as “helder spot.” Die dowwe kontrasteer met die helder. -  saamgebind in ‘n antitetiese parallelisme. Hy neem daarmee ook die vorige opmerking oor doringkroon as die spot met Christus se Waan van Godheid op. Die vervolgers van Jesus verwyt hom deur die doringkroon dat hy onder die Waan is van sy eie Godheid. “Helder” spot hulle hom met die “dowwe woord” wat “in enkel letters” bo sy hoof is.

Die digter keer dit alles nou met een enkele woord om: die dowwe woord word “in die donker” die enigste ding wat ‘n mens raaksien. Daar is in die donker “net die gloed”. In die donker van lyding gloei die dieper wete: Die Bleke, die sterwende een, “is die God en Seun van God.”

Dit is die woord “gloed” in die laaste deel wat so opvallend is. En kyk net waar plaas Van Wyk Louw dit: in die sinfinale posisie in die laaste deel van die gedig.

Die gloed van die goddelike kan nie deur die donker verberg word nie. Selfs in die lyding herken ‘n mens die Liefde. Ten spyte van die hoon en verwerping, is God/ die Seun van God daar. Hy laat die mens nie alleen nie. Dit is nie waan van Hom oor sy Godheid nie. “Dit is die God en Seun van God.” Gloeiende werklikheid.

Omdat Hy my verlaat het,
laat Hy my nooit alleen.

Daar is min gedigte wat so aangrypend en so veelseggend begin – en wat dan op so ‘n sterk religieuse manier die rede vir hierdie teenwoordigheid motiveer.

Daar word soms beweer dat Van Wyk Louw nie regtig veel oor Jesus en veral nie oor sy Godheid geskryf het nie. Hierdie gedig wys die teendeel.

Saturday, February 05, 2011

Om vir pyn te bid. Die reis na innerlike vervulling


Die volgende sonnet van N.P. van Wyk Louw (lees die teks hier onder) word gereken as van die mooiste natuurgedigte in Afrikaans.

Die sonnet is egter ook ‘n geestelike teks, wat verby die natuur kyk na die dieper betekenis van ‘n mens se bestaan. Die kleurryke gang van die natuur, in die oktaaf uitgebeeld, is ‘n simbool vir iets diepers, wat in die daaropvolgende sekstet uitgewerk word. Die sekstet is oratief, ‘n verlange na heiligwording, na ‘n geestelike omvorming. Terselfdertyd is dit ‘n gebed om stroping, om nietiging: Alles wat so pronkerig en uitstallerig was, wat in die geestelike reis maar net vir ‘n tydjie bly, moet weg. Al die dinge wat so maklik en pynloos was, moet verby gaan, moet agterbly.

Pyn is nodig – ‘n mens bid dit selfs van die Here af. Net dit wat vas is, nakend is, sonder pronkerigheid, verby sierlikheid, moet oorbly.

Wat moet bly is die “hoogheid” – dit wat ‘n mens laat uitstyg verby al die tydelike en verbind met wat duur.

Pyn is soos die blare wat val, so tussen-deur, te midde van al die rypheid en vrugbaarheid van die lewe. Die pyn van kortstondigheid, van die komende vol-herfs, van sterwe is selfs in die mooiste van tye by ons. Lank voor die winter kom, toe dit nog alles mooi was, is die Koue al besig om te maai. Die goue akkerblare, ryp in die son wat oordadig daaroor spoel, kan ‘n mens se oog nie weghou van die stamme van die bome wat witter uitstaan soos die een blaar na die ander stilweg begin wegval nie – ‘n teken vir hulle wat fyn kyk, wat nie sommer maar net argeloos lewe nie.

Pyn is goed, vertel die digter: Die pyn bring hulle wat dieper lewe om te bid vir heiligmaking: sodat ‘n mens vastigheid kan vind. Om te bid vir pyn, vir stroping, vir nietiging is om die berg van heerlikheid te beklim. Om hoog, hoog te kan uitreik. Om te kan ryp word, volwasse raak, geestelike diepte te kan vind verby alles wat vlak, kortstondig en momenteel is. Dit is pynlik. Maar pyn bring heling.

Maklik gesê, moeiliker geleef, dink ek terwyl ek dit alles bedink. Uiteindelik is dit ook nie eers ons wete en verlange, ook om pyn, wat die diepste sin maak nie.

Veel dieper is om te kan bid: Om by die omslag van ons denke, soos ons van natuur na die geestelike oorgaan, van die oktaaf na die sekstet, te kan begin met die roep: “O Here,” en dan om heiligmaking te kan vra. Watter sin gee dit, hierdie gawe om te kan verlang, uit te sien, te vra dat ons dae vir ons die volheid kan gee en dat ons in die dae in ons Verhouding dít sal ontvang wat ons volmaak sal maak. Bevoorreg is die geestelike mens wat weet hoe nodig dit is om gestroop te word, wat alles prysgee om die hoër Ryk-dom te ontvang.  Die grootste prys is die innerlike volheid.


VIER GEBEDE BY JAARGETYE
IN DIE BOLAND

N.P. van Wyk Louw 

   Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.


Mildred Jacobs  (http://www.oulitnet.co.za/onderwys/bes_9912.asp)   skryf die volgende kommentaar op hierdie gedig:

Vroegherfs
 

Die belangrikste gegewe waarmee in “Vroegherfs” omgegaan word, is die voortdurende proses van verandering in die natuur. Alles in die oktaaf staan in die proses van voortdurende beweging; dus: ’n wordingsproses. Die jaar word ryp; die wingerd verbruin; witter lug wat deur die son deurspoel word; elke blom word vrug. Hierdie wording of verandering word waargeneem in konkrete natuurdinge, soos die akkerblare, wingerd, lug, blomme en blare wat val.

In die eerste kwatryn gaan hierdie verandering telkens met kleurwisseling gepaard. Opvallend in die oktaaf is die woorde wat die beweging aandui: “deurspoel”, “val.” Verder val dit op hoe die rustige en geleidelike veranderingsproses in die natuur op meer as een wyse verstegnies ondersteun word. Die enjambemente verseker ’n vloeiende versbeweging: “die lug/ wat daglankdeur die son deurspoel word”; “die blare val/ so stilweg ...” Die vloeiende versbeweging word ook aangehelp deur die assonansie (die herhaling van die lang aa-klank).

In die sekstet word die natuurwaarneming van die oktaaf verinnerlik in die vorm van die gebed en deur die gedrae gebedsatmosfeer. Die digter vra dat “hierdie dae heilig word”, m.a.w. dat hierdie oorgang van somer na herfs vir hom ’n dieper betekenis moet verkry. Dan, na die dubbelpunt bekragtig hy dié versoek. Die geestelike groei waarvoor gevra word, val nou saam met die rypwordingsproses wat in die natuur plaasvind.

Opvallend in die sekstet is die talle terugkerende motiewe. As die digter in die eerste tersine sê : “laat alles val wat pronk en sieraad was”, slaan dié woorde terug op die eerste blare, die “goue akkerblare”, maar nou betrek op sy eie lewe. Ook die motief van die wind keer terug, wanneer die digter sê; “Laat u wind waai”. In reël 14 vra die digter dat hy tot naaktheid gestroop word, net soos die populiere se takke “witter”, dus suiwerder, reiner gestaan het. Hy wil dus van alles wat oneg is (“die pronk en sieraad”, die “waan” en “hoogheid”) gestroop word. Hierdie suiweringsproses gaan egter met pyn gepaard, want pyn word gesien as die voorvereiste vir die innerlike groei.

Blog Archive