Die volgende sonnet van N.P. van Wyk Louw (lees die teks hier onder) word gereken as van die mooiste natuurgedigte in Afrikaans.
Die sonnet is egter ook ‘n geestelike teks, wat verby die natuur kyk na die dieper betekenis van ‘n mens se bestaan. Die kleurryke gang van die natuur, in die oktaaf uitgebeeld, is ‘n simbool vir iets diepers, wat in die daaropvolgende sekstet uitgewerk word. Die sekstet is oratief, ‘n verlange na heiligwording, na ‘n geestelike omvorming. Terselfdertyd is dit ‘n gebed om stroping, om nietiging: Alles wat so pronkerig en uitstallerig was, wat in die geestelike reis maar net vir ‘n tydjie bly, moet weg. Al die dinge wat so maklik en pynloos was, moet verby gaan, moet agterbly.
Pyn is nodig – ‘n mens bid dit selfs van die Here af. Net dit wat vas is, nakend is, sonder pronkerigheid, verby sierlikheid, moet oorbly.
Wat moet bly is die “hoogheid” – dit wat ‘n mens laat uitstyg verby al die tydelike en verbind met wat duur.
Pyn is soos die blare wat val, so tussen-deur, te midde van al die rypheid en vrugbaarheid van die lewe. Die pyn van kortstondigheid, van die komende vol-herfs, van sterwe is selfs in die mooiste van tye by ons. Lank voor die winter kom, toe dit nog alles mooi was, is die Koue al besig om te maai. Die goue akkerblare, ryp in die son wat oordadig daaroor spoel, kan ‘n mens se oog nie weghou van die stamme van die bome wat witter uitstaan soos die een blaar na die ander stilweg begin wegval nie – ‘n teken vir hulle wat fyn kyk, wat nie sommer maar net argeloos lewe nie.
Pyn is goed, vertel die digter: Die pyn bring hulle wat dieper lewe om te bid vir heiligmaking: sodat ‘n mens vastigheid kan vind. Om te bid vir pyn, vir stroping, vir nietiging is om die berg van heerlikheid te beklim. Om hoog, hoog te kan uitreik. Om te kan ryp word, volwasse raak, geestelike diepte te kan vind verby alles wat vlak, kortstondig en momenteel is. Dit is pynlik. Maar pyn bring heling.
Maklik gesê, moeiliker geleef, dink ek terwyl ek dit alles bedink. Uiteindelik is dit ook nie eers ons wete en verlange, ook om pyn, wat die diepste sin maak nie.
Veel dieper is om te kan bid: Om by die omslag van ons denke, soos ons van natuur na die geestelike oorgaan, van die oktaaf na die sekstet, te kan begin met die roep: “O Here,” en dan om heiligmaking te kan vra. Watter sin gee dit, hierdie gawe om te kan verlang, uit te sien, te vra dat ons dae vir ons die volheid kan gee en dat ons in die dae in ons Verhouding dít sal ontvang wat ons volmaak sal maak. Bevoorreg is die geestelike mens wat weet hoe nodig dit is om gestroop te word, wat alles prysgee om die hoër Ryk-dom te ontvang. Die grootste prys is die innerlike volheid.
VIER GEBEDE BY JAARGETYE
IN DIE BOLAND
N.P. van Wyk Louw
Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,in wingerd wat verbruin, en witter lugwat daglank van die nuwe wind en klareson deurspoel word; elke blom word vrug,tot selfs die traagstes; en die eerste blare valso stilweg in die rook-vaal bos en laan,dat die takke van die lang populiere alteen elke ligte môre witter staan.O Heer, laat hierdie dae heilig word:laat alles val wat pronk en sieraad wasof enkel jeug, en vér was van die pyn;laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stortmy waan, tot al die hoogheid eindelik vasen nakend uit my teerder jeug verskyn.
Mildred Jacobs (http://www.oulitnet.co.za/onderwys/bes_9912.asp) skryf die volgende kommentaar op hierdie gedig:
Vroegherfs
Die belangrikste gegewe waarmee in “Vroegherfs” omgegaan word, is die voortdurende proses van verandering in die natuur. Alles in die oktaaf staan in die proses van voortdurende beweging; dus: ’n wordingsproses. Die jaar word ryp; die wingerd verbruin; witter lug wat deur die son deurspoel word; elke blom word vrug. Hierdie wording of verandering word waargeneem in konkrete natuurdinge, soos die akkerblare, wingerd, lug, blomme en blare wat val.
In die eerste kwatryn gaan hierdie verandering telkens met kleurwisseling gepaard. Opvallend in die oktaaf is die woorde wat die beweging aandui: “deurspoel”, “val.” Verder val dit op hoe die rustige en geleidelike veranderingsproses in die natuur op meer as een wyse verstegnies ondersteun word. Die enjambemente verseker ’n vloeiende versbeweging: “die lug/ wat daglankdeur die son deurspoel word”; “die blare val/ so stilweg ...” Die vloeiende versbeweging word ook aangehelp deur die assonansie (die herhaling van die lang aa-klank).
In die sekstet word die natuurwaarneming van die oktaaf verinnerlik in die vorm van die gebed en deur die gedrae gebedsatmosfeer. Die digter vra dat “hierdie dae heilig word”, m.a.w. dat hierdie oorgang van somer na herfs vir hom ’n dieper betekenis moet verkry. Dan, na die dubbelpunt bekragtig hy dié versoek. Die geestelike groei waarvoor gevra word, val nou saam met die rypwordingsproses wat in die natuur plaasvind.
Opvallend in die sekstet is die talle terugkerende motiewe. As die digter in die eerste tersine sê : “laat alles val wat pronk en sieraad was”, slaan dié woorde terug op die eerste blare, die “goue akkerblare”, maar nou betrek op sy eie lewe. Ook die motief van die wind keer terug, wanneer die digter sê; “Laat u wind waai”. In reël 14 vra die digter dat hy tot naaktheid gestroop word, net soos die populiere se takke “witter”, dus suiwerder, reiner gestaan het. Hy wil dus van alles wat oneg is (“die pronk en sieraad”, die “waan” en “hoogheid”) gestroop word. Hierdie suiweringsproses gaan egter met pyn gepaard, want pyn word gesien as die voorvereiste vir die innerlike groei.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.